Op berge en dale 

In Chinese terme is Guilin piepklein. Minder as een miljoen mense in die stad en minder as 5 miljoen in die metropool. Guilin het nie eers ‘n metrosisteem nie, net ‘n dodelik effektiewe bussisteem. En derduisende poegies en allerhande mutasies daarvan.

IMG_9833

Die binnekant van die stad is sonder voertuie, gevolglik draai bedrywighede rondom voetgangers – instapwinkels, straatkos, smouse en stalletjies, musiek en vertonings, parke en tuine, mense wat kaartspeel, dans of oefen.

IMG_9852

Die klimaat is humied-subtropies en die plantegroei is geil. Osmantus-bome, wat in Oktober blom, het die stad sy naam gegee. Die tuine is oordadig. Saans word die liggies aangesit, tot groot plesier van almal op straat.

IMG_0061

Nog vere in die hoed van die aantreklike, goedbeplande stad is die uitleg rondom die Li Rivier en sy vier mere, die pagodas en die Ming Paleis.

IMG_9819

Maar die eintlike faam van die stad lê in sy omringende omgewing.

Sedert die gedokumenteerde ontstaan van Guilin 23 eeue gelede beskou besoekers aan hierdie streek die omringende karstlandskap as die mees skouspelagtige in China. Lieflik, verbluffend, pragtig, asemrowend – kies maar die beskrywende woord. Ons het nie die regte woord gekry om die buitengewone mooi berge en dale van hierdie streek te kan beskryf nie.

IMG_9835

Trouens, in Guilin het ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is – iemand wat fanaties kiekies neem en dan ure lank hulpeloos sukkel om die bestes uit te kies.

Kort na ons aankoms begin ons die stad verken. Dis bedompig en ons stap in ons sweet. Skadus van die parke is ‘n logiese uitweg. So dwaal ons tot by ‘n koppie met die naam Old Man Hill. Trappies wat oorgaan in gedresde klippe op ‘n stygende voetpad. Steiler en steiler. Hoogtevrees of te not, vandag gaan ons op. Verkeerde klere. Maar ons kom heelwat ander stappers teë met verkeerder klere. En een met ‘n kat. Totdat ons bo staan en die uitsig aangaap, verwonderd oor die berge en dale van die karstlandskap rondom ons.

En ek begin vermoed dat ek ‘n kiekomaan is.

IMG_9837

Water formeer die oppervlak en samestelling van kalksteen en oor die jare kan hierdie wisselwerking lei tot ‘n landskap van grotte, sinkgate, ondergrondse mere en riviere. So word ‘n karstlandskap gevorm. Dink Otavi Berge of Kango-grotte. Soms is daar oppervlakwater, soms heeltemal afwesig.

Krap jy rond op die internet, is daar opvallend min inligting oor die karstlandskappe van China.

IMG_9865

Die karstlandskap by Guilin is uitgebreid. Die landskap is op die mooiste al langs die Li en sy sytak, die Yulong Rivier. Yangshuo, omtrent 60km vanaf Guilin en langs die Yulong, is heelwat kleiner maar amper meer bekend as Guilin vir die ongewone berge van hierdie karstlandskap

In Yangshuo, en eintlik orals oppad, is daar fietse te huur teen 20 – 60 Yuan per dag. Die fietsrypaaie is foutloos met min opdraendes, belyn met aftrekplekkies en stalletjies van plaaslike produkte, kos en water, en baie ander aanbiedings waarvan ons niks weet of verstaan nie.

IMG_9912

Nie-chinese besoekers aan Yangshuo maak waarskynlik minder as 1% uit. Ons het ‘n volle dag opsy gesit vir Yangshuo en die fietsry. Een oorslaap in Yangshuo sou eintlik nog beter wees.

IMG_9878

Ons blyplek in Guilin was reg langsaan die Ming Paleis. Die nag na Yangshuo reën dit swaar, dit donder en weerlig. Narkose. Al is my vermoedens oor kiekomania sterker, slaap ons rustig.

IMG_9920

Terug in die tuine van Guilin ontmoet ons vir Sundy Wen, ‘n Chinese toergids wat Engels vlot praat. Hy het die dag vry, en bied aan om ons gasheer te wees.

So neem Sundy ons na Xingping, ‘n antieke boeredorpie langs die Li Rivier. In ‘n bussie wat plaaslike mense heen-en-weer ry.

IMG_9960

Daar is hoenders en eende op straat, honde wat lui rondlê, en boervrouens wat lukwarte, mangos, waatlemoen en grondboontjies te koop aanbied.

IMG_9921

Ons klim op ‘n bamboesvlot aangedryf met ‘n Yanmar enjintjie. En ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is. En dat Sundy Wen ‘n nuwe vriend is.

IMG_0003

IMG_0026

IMG_9877

Vanaf Guilin vertrek ons na Xi’an per vliegtuig. Voor ons vlug stap ons bietjie rond en ontmoet Barry (sy Engelse naam), wat ons nooi na ‘n teewinkel. Barry is ‘n onderwyser en gee Engels en Kaligrafie. Sy familie boer naby Guilin en die tee in die winkel kom vanaf hul plaas. Hy verduidelik dat die boere ook rys, rissies, mangos en allerhande soorte groente en kruie verbou. Teedrink op die Chinese manier is ‘n seremonie en selfs ‘n geharde koffiedrinker soos ek kan nie help om dit te geniet nie. So leer ons bamboes- en lietjietee drink.

IMG_0054

Ons vertrek uit Guilin en in my verbeelding hoor ek my onwillige belydenis: “Hallo, ek is Pierré en ek is ‘n kiekomaan. Ek het hulp nodig.”

Maar ek kalmeer toe ons oor die berge en dale van Guilin opstyg en ek luister na Katherine Jenkins se (Quello Che Faró) Sara Per Te. Mooi.

Ek dink alle ander kiekomane verstaan.

Kompartement 10 op T381

Die afstand tussen Shanghai en Guilin is rofweg 1,500km. Tussen die twee plekke is daar verskeie oornagtreine, sneltreine en vlugte; almal met verskillende vertrek- en aankomstye, op verskillende roetes.

Ons keuse was die oornagtrein wat 17h00 uit Shanghai vertrek en om 12h00 die volgende dag in Guilin aankom. Hoewel die trein 160km per uur haal, is daar 16 haltes op die pad. Dis behalwe die stoppe om ander treine te laat verbygaan.

IMG_9317

Mens het ‘n hele paar opsies op ‘n oornagtrein – harde slaapbanke in ‘n oop kompartement, vier beddens in ‘n kompartement met ‘n toesluitdeur, sagte stoele en harde stoele. Hoe meer die ongerief, hoe goedkoper die kaartjie.

Treinstasies in China is so groot soos rugbystadions met besoekersgetalle aansienlik meer as by ‘n rugbywedstryd. Op en rondom sulke stasies is daar gewoonlik ‘n menigte winkeltjies, eetplekkies en smousstalletjies. Maar mens moet mooikyk – daar is dikwels meer as een groot stasie in elke groot stad. Nan beteken suid en bei noord. Dan is daar ook dong wat oos en xi wat wes beteken.

IMG_9796

Om na Guilin met die oornagtrein te reis het ons besluit op ‘n kompartement met vier beddens en ‘n toesluitdeur. Die kaartjies vir ons twee kos ‘n rapsie meer as 1,000 yuan, dis omtrent R2,000. Nie te sleg vir so ‘n lang afstand met slaapplek as ‘n toegif nie.

Die trokke het sentrale lugreëling want geen venster kan oopmaak nie. Wat beteken dat jy in jou eie sweet gaan verdrink agter ‘n toedeur op ‘n warm moensoennag. Daar is ook luidsprekers waarop die Chinese weergawe van Afrikaans is Groot speel. Genadiglik kan mens die klank afdraai. Aan die end van elke trok is daar ‘n toilet en ons trok het ook ‘n badkamertjie gehad. Warm water is konstant beskikbaar.

Hoe slaap ‘n mens op so ‘n rit? Eerstens, daar is geen ritmiese kat-te-ke-tik, kat-te-ke-tik nie. Eerder ‘n soort suisgeluid met onvoorspelbare tone, afgewissel met verrassende stamperigheid. Om die byklanke gewoond te raak is soos om die resonant van ‘n hamermeul te probeer kry. Tweedens is die rukkerigheid voor en na stoppe nogal steurend tydens jou nagrus. Maar mens slaap lekkerder as op ‘n langafstandvlug in ekonomiese klas.

Moet mens per trein reis in China? Beslis. China het die bedrywigste spoorwegsisteem in die wêreld. Spoorlyne vorm die are op die kaart van China en mens kan byna enige plek bereik per trein. Treine is skoon en gerieflik, bekostigbaar, betyds en mens sien ook baie tydens die rit. Die sneltreine, veral, is netjies, voorbeeldig stil en vreeslik vinnig. Snelhede van meer as 300km per uur is sommer niks. En niks sal uit jou koppie groentee mors nie.

Behalwe die formidabele treinsisteem van China is daar die ewe indrukwekkende bussisteem in elke stad. Die groter stede het ook nog ‘n metrosisteem. Metros is gerieflik, maar voorspelbaar onopwindend. Busritte daarenteen, is avontuurlik.

IMG_9669

Ons ontdek elke keer iets per bus. ‘n Kaartjie op enige rit per bus of metro kos selde meer as 4 yuan (R8), maar in die meeste gevalle net 2 yuan. Wat kan mens nog vir ‘n skamele R4 koop wat soveel plesier soos reis gee?

Daar is ook altyd ‘n kans om iemand te ontmoet op ‘n trein, metro of bus.

So het Duckelina selfs maatjies gekry tydens ons treinrit.

IMG_9801

 

Bonsais en Buddha

In China woon daar ongeveer 1,400,000,000 mense. Om so baie mense ordelike blyplekke te gee, het mens stede nodig. Redelik baie daarvan. Kompakte stede met ‘n hoë digtheid. Stede met name waarvan ek nog nooit voorheen gehoor het nie.

Suzhou en Wuxi is twee van hulle. Beide is geleë langs die Tai Meer, suid van die benede-Yangste Rivier in die Jiangsu Provinsie in China. Maar nie een van die twee is jonk nie.

IMG_9642

Suzhou (uitgespreek soe-djou) is ‘n stad van meer as 10 miljoen mense en bestaan al vir 2,500 jaar. Dis ‘n stad van kanale en klipbruggies, tempels en pagodas. Die ou deel van die stad het taamlik behoue gebly en mens kan in dieselfde straatjies drentel waar handelaars uit Marco Polo se tyd besigheid gedoen het.

IMG_9551

Met sy kanale en klein bootjies, nou straatjies en die sjarme van bejaarde geboutjies bied Suzhou se oustad aan China wat Venesië aan Italië en die res van die wêreld bied – teen ‘n fraksie van die prys.

IMG_9560

IMG_9579

IMG_9537

Maar Suzhou is eintlik bekend vir sy tuine – saam vorm die tuine ‘n Wêrelderfenisgebied. Die tuine is eeue-oud, aangelê deur die antieke heersers van China. Oor die eeue het orde en tydsaamheid gekom. Daar is voortjies en visdamme, spruite en stroompies, blomtuine en boomruigtes, klippaadjies en kanale, bonsai-hoekies en bankies, piekniekplekke en pagodas, trappies en teesalonne.

IMG_9549

En getrou aan Chinese standaarde – die versorging en detail is onberispelik.

Gepraat van bonsai, hierdie kunsvorm het sy oorsprong in China en nie in Japan soos algemeen aanvaar word nie. Eintlik is die Japanese woord bonsai ‘n vervorming van die Chinese woord penzai. Die debat oor die oorsprong van bonsais is baie soos die debat oor die oorsprong van die beste biltong.

IMG_9646

Terug na bonsais; om bonsais te versorg is blykbaar baie verrykend en kalmerend.

Vir my was dit verrykend en kalmerend om bloot die toewyding en geduld van bonsais se versorgers te bewonder. Sommige van die bonsais is nogal oud; dieselfde bonsai is deur verskillende generasies van dieselfde familie versorg. Nou verstaan ek die prys wat soms aan dié plantjies by die kwekery hang.

IMG_9595

Moet mens Suzhou besoek? Beslis. Maar bring tyd saam om die tuine, bonsais en ‘n skewe pagoda of twee te bekyk en behoorlik te waardeer. En sorg dat jou blyplek naby die oustad is, dis die beste manier om Suzhou ten volle te ervaar, veral in die aand as jy en jou leë maag straatkos soek.

IMG_9653

IMG_9620

IMG_9639

Wuxi (uitgespreek hoe-sjie) se inwonertal is omtrent ses miljoen, en die stad is so vyf eeue ouer as Suzhou. Die twee stede is omtrent 50km van mekaar. Die ou deel van Wuxi het behoue gebly, maar is nie so gewild soos Suzhou se oustad nie. Wuxi se troefkaart is egter die Grand Buddha by Ling Shan buite die stad.

IMG_9708

Grand Buddha staan 88m hoog, op ‘n koppie aan die suidekant van Longshan Berg. Rondom die beeld is ‘n yslike park met nog ‘n paar monumente. Daar is tuine en groot pleine, damme, watervalle en spuitfonteine. Die hele plek word pynlik netjies versorg. Dit lok derduisende besoekers elke dag. Mens kan selfs seisoenkaartjies koop om die plek te besoek. Daar is ouditoriums en konferensiesale, en die skaal van alles is oortreffend. Om die park te verken neem die beste deel van ‘n volle dag.

IMG_9704

Die besoek aan Grand Buddha is ‘n ietwat ontnugterende ervaring. In my kop hoor ek al die preke en waarskuwings uit my kindertyd teen afgode en wêreldse liefdes en die dwaalleer van ander godsdienste. En ek moet erken dat ek meer as eenmaal na Buddha as Baäl verwys het.

IMG_9717

IMG_9732

IMG_9747

Wat is ‘n afgod? Ek wonder of Buddha ‘n afgod is. En ek wonder waaroor Boedisme nou eintlik gaan. Vir my klink dit meer soos ‘n filosofie wat neerslag vind op allerhande vorme van die Chinese leefwyse.

Chinese is ongodsdienstig, altans meeste van hulle, maar leef op eenvoudige beginsels waarna menige christene maar net kan streef.

IMG_9760

Ek wonder oor die oes en die arbeiders en ek wonder oor die moeilikheidsgraad van die uitdaging, waarvan die taalgrens waarskynlik die digste is.

Die engel van Wenzhou

Wenzhou, die stad op die suidoostelike uithoek van die Zhejiang Provinsie in China, is al die afgelope 2,500 jaar ‘n belangrike hawestad. Tans woon hier sowat 9 miljoen mense in die metropool.

Beskryf as China se Jerusalem, omdat die christelike geloof redelik sterk hier gevestig is, word Wenzhou ook beskou as die geboorteplek van China se private ekonomie. ‘n Hele paar Chinese topmaatskappye het Wenzhou-adresse. Die vervaardiging van tekstiele, plastiek, ligte elektriese ware, brille en verpakkingsmateriaal is die hartklop van die stad. Net ‘n kant-aantekening: Wenzhou word ook gereken as die geboorteplek van Chinese opera. En, ‘n hele rits gesaghebbende wiskundiges kom uit dié stad. Interessant, soos my skoonma sou sê.

Maar Wenzhou is nie ‘n toeriste-vriendelike stad nie. Enige taal behalwe Mandaryns is seldsaam. Inligting oor die stad is skraps en min moeite word gedoen om besoekers te laat welkom voel. Die welkomborde op Wenzhou stasie kon net sowel onderstebo of agterstevoor gehang het, ons weet nie.

Die stad is ook nie besonder aantreklik nie. Dink aan daai vaal dogter in die agterste ry van die skoolkoor – onderbeklemtoon, lae profiel, randfiguur, beskroomd, teruggetrokke en eenkant. Min mense het al van haar en Wenzhou gehoor.

IMG_9446

So val ons Wenzhou binne. Gewapen met die nodige digitale karate op die selfoon probeer ons verstaan hoe om by ons blyplek uit te kom. Om die busse se roetes en bestemmings te verstaan, vra ons raad by ‘n Chinese man met ‘n lang pinkienael. In uiters gebroke Engels beveel hy Bus 91 aan.

Bus 91 begin ‘n eindelose rit met ons en spoeg ons by ‘n verdagte halte uit. Gelaai met ons rugsakke begin ons stap op die selfoon se roete.

Die aanvanklike 800m word 2,4km en so kom die ekstra stukke by totdat ons omtrent 5km later voor ‘n dooie ingang staan.

Moedeloos maal ons in die rondte. ‘n Groepie mense ontferm hulle oor ons, maar ons interaksie bly beperk tot gebaretaal. Later bel een sy vrou, wie Engels kan praat. Oor die foon verduidelik sy aan my dat die adres nie bestaan nie.

Die kaarte op die selfoon word aangekla as onbetroubare reisgenote. Ons probeer ‘n laaste, onlogiese manier om ons bestemming te vind. Met die geduld tot op die dunste geskaaf hoor ons daai mooi woorde in Engels: “Can I help you?”

IMG_9455

Voor ons staan ‘n vriendelike engel wat ons later leer ken as Morgan. Ons verduidelik en hy en sy vriend bied aan om saam met ons die bestemming te vind. So stap ons nog ‘n kilometer. In ‘n dowwe, chaotiese straat vind ons die kamstige plek, met die naam in Mandaryns op ‘n digitale bord.

Morgan sê onmiddellik dat ons nie hier moet bly nie. Op sy aanbeveling stap ons terug na ‘n ander adres – ‘n kilometer verder na ‘n hotel met marmervloere. En hy beding vir ons blyplek teen ‘n laer prys as ons aanvanklike bespreking. Morgan en sy vriend help ons totdat ons sakke in ‘n deftige dubbelkamer is.

Morgan stel voor dat ons net eers moet rus, maar dat ons die volgende aand moet saamkuier. En so het ons met die engel van Wenzhou vriende geraak. Om ‘n tafel gekuier en deeglike instruksies gekry om Yandang te besoek.

IMG_9458

Om by Yandang uit te kom, moet mens gebruik maak van ‘n trein, ‘n driewiel en ‘n bus – en die hulp van ‘n paar tolke. Yandang is ‘n geopark met loodregte rotse, watervalle en nou ravyne in een van die bergreekse rondom Wenzhou.

IMG_9462

Wenzhou is seker die enigste plek in die wêreld wat ontwikkel is op die beginsels van Fengshui filosofie. Hiervoor word ‘n man met die naam Guo Pu vereer. Die argitektuur en ontwerp van die stad neem deurgaans die topografie en faktore soos berge, riviere en vlaktes in ag sodat die uitspansel, natuur en die menslike blyplek gebind word as ‘n geheel of kosmos. Dus, ‘n tipe holisme wat Guo “Qi” noem.

IMG_9472

Geen stedelike ontwikkeling word teen die hellings van die omringende berge toegelaat nie, riviere deurkruis die stad en word komplimenteer met talle bevaarbare kanale, daar is waterfront-ontwikkelings en dyke, die strate is wyd, en prominent-ontwerpte hoë geboue is so geplaas dat hulle as landmerke uit alle rigtings dien.

IMG_9502

Moet mens ‘n draai maak in Wenzhou? As jy klere, materiaal, skoene, brille, ligte elektriese ware, verpakkingsmateriaal of plastiek wil aankoop – ja. As jy die droom van Guo Pu wil beleef – ja. As jy vir Morgan wil ontmoet – ja. En as jy vir Yandang (en twee vlindertjies) wil sien – ja.

IMG_9468

 

Duckelina

Straatkos is een van die plesiere op reis. Hoe vreemder die plek, hoe interessanter raak die straatkos. Kos vertel iets van die mense en die plek, en die ontdekking van geure, kleure, geluide, smake en reuke is mos eintlik ‘n reiservaring in eie reg.

Straatkos is eerlik en eenvoudig. Moeiteloos. Onmiddellik en vinnig. En bowendien goedkoop. Dit beweeg my, in Nataniël se taal.

IMG_9652

Die verskillende soorte straatkos is ‘n onderwerp op sy eie. In China vermy ons die rare, loop draaie om die onbekende en onidentifiseerbare, en hou verby die afstootlike reuk van tofu.

IMG_0732

Ons probeer die onfatsoenlike en die onsindelike ignoreer en kies liewer die herkenbare tipes straatkos. Gewoonlik vorm noedels die fondament van straatkos in China. Partymaal kom daar ‘n sosatie of ‘n dumpling by. In die algemeen is goeie vleis in straatkos ‘n uiters seldsame vonds.

IMG_0729

Halaal-kos is die reinste, ongelukkig selde beskikbaar as straatkos. Halaal-kos is natuurlik sonder vark, maar dis nou ook nie dat vleis in oorvloed is nie.

Die beste deel van straatkos is die prys – hoewel dit wissel kan mens vir minder as R50 ‘n stewige bord kos vir die aand kry.

IMG_0730

Straatkos gebeur in die aand. Wel, bedags ook. Maar saans ontstaan ‘n soort feestelikheid saam met straatkos. Strate sluit, tafels uitgedra en die verkeer vervang met honger skares.

IMG_9229

Ons het vir Duckelina tydens ‘n dwaaltog op soek na straatkos in die aand ontmoet.

Tussen al die kosstalletjies en eetplekkies is daar allerhande ander straatsmouse ingeprop. Hulle verkoop enige moontlike ding onder die son. En so loop ons in iemand vas wie pryse uitloot vir iemand wat kan raakgooi. Deelnemers betaal ‘n klein bedraggie en kry dan tien balle waarmee teikens in rye afgegooi kan word. Ek word byna onmiddellik uitgedaag.

IMG_0774

‘n Jong skare omring ons. Ek gooi en met elke treffer kom daar toejuiging. En toe die tien balle op is, lê daar meer gesneuwelde as oorlewende teikens. As prys kry ek ‘n geel, sagte speelgoed eendjie. En my aanhangers juig weer.

Ons doop haar Duckelina en sy word aan my rugsakkie vasgebind. Sy gaan nou orals saamtoer.

IMG_9594

Waar Marco Polo en Ali Baba ontmoet

Die susterstad van Kaapstad is beeldskoon.

Trouens, Hangzhou is al eeue terug as die mooiste stad in die wêreld beskryf. Deur ‘n man met die naam Marco Polo. Polo was ‘n Italiaanse ontdekkingsreisiger van die 13e eeu. Nie ‘n soort hemp, soos jy gedink het nie. Polo kon nie uitgepraat raak oor die stad se aantreklike uitleg rondom die Western Lake nie. Komende van iemand wat wydberese en goed vertroud was met Italiaanse stede, ag ek Polo se mening nogal hoog. Om die waarheid te sê, Polo het gedink dat hy in die Paradys was toe hy Hangzhou vir die eerste maal sien. Ons ook, Polo word verskoon. Polo was ook diep beïndruk deur die grootte van Hangzhou, op daardie stadium loshande die grootste stad op aarde.

IMG_9327

Kultureel en histories word Hangzhou as een van die geboorteplekke van die Chinese beskawing gereken. En ja, reg geraai, dit was ook een van China se vorige hoofstede. Al het Hangzhou sy politiese belangrikheid intussen verloor, het die stad nog altyd ‘n polsende ekonomie gehad. Verskeie motorsoorte word hier vervaardig en Hangzhou is ook die vesting van die internetbesigheid AliBaba. Ek kon nie uitmaak hoe Ali Baba in Hangzhou beland het nie; dalk is daar ‘n verband tussen die towerspreuk uit sy verhaal en om verborge skatte deur middel van die internet te vind.

Vandag leef omtrent 9 miljoen inwoners binne die stad, en omtrent 21 miljoen inwoners in die metropolitaanse gebied rondom.

IMG_9411

Hangzhou se Western Lake met sy drie dyke – Su, Bai en Yang –  is ‘n Wêrelderfenisgebied. Die meer huisves inderdaad super-gewilde paadjies vir duisende voetgangers en fietsryers. Selfs op ‘n Dinsdagoggend is die drie dyke boordvol.

IMG_9416

Beishan Straat, op die oewer van die meer, word as die mooiste pad in die wêreld gereken. Dit is inderdaad ‘n pragtige pad, maar miskien ‘n aanvegbare aanname dat dit die heel mooiste pad ter wêreld is. Maar al is dit nie die mooiste pad in die wêreld nie, is die stad in sy geheel pragtig. Die mere, berge en ruie plantegroei, saam met die stad se ryk geskiedenis maak dit maklik om Hangzhou as aantreklike bestemming te bemark.

IMG_9330

Van paaie gepraat, die sy- en teebedryf het Hangzhou aan die einde van die syroete as belangrike handelstad gevestig in die tyd voor Marco Polo. Sy, tee en toerisme vorm deesdae ‘n innige driemanskap om mense na hierdie deel van China te lok. Vir sy en tee is daar elk ‘n museum in Hangzhou. En albei is pragtig en die moeite werd om te besoek.

Sywurmboerdery vorm deel van die laerskole in Hangzhou se onderrigplan. Hoe dan anders, die sywumbedryf kom reeds vir die laaste 6,000 jaar saam met die Chinese, in Hangzhou vir die afgelope 4,700 jaar. In die symuseum hang daar klere wat vermoedelik ouer as 4,000 jaar is. As my berekeninge dus reg is, vermoed ek dat die Chinese al sypakkies gedra het toe Adam en Eva nog kaal in die Paradys rondgeloop het. Wat meer is, is dat die Chinese ook al porselein vervaardig het, kleurdruk op material gedoen het en papier gemaak het lank voordat ander nasies ‘n land of ‘n taal of ‘n beskawing gehad het.

Teedrink het net so ‘n stokou geskiedenis. Chinese het al tee gedrink toe ander nasies nog gejag het en in grotte gewoon het.

IMG_9432

Die teemuseum is ‘n tipe opelug-museum met plantasies, terrasse en teedrinkstoepies.

Longjin tee is veral gesog en teedrinkers glo vas dat min plesiere kom by ‘n koppie groentee in Longjin, ‘n skilderagtige dorpie op die voorstoep van Hangzhou. Ons was in die teemuseum en ook in die dorpie. Ek is egter nie ‘n gereelde groenteedrinker nie, en ek drink slegs groentee as daar niks anders is om te drink nie. Ek het ‘n bier in Longjin verkies en oor die lieflike meer gestaar.

IMG_9358

IMG_9445

Behalwe vir Marco Polo, ‘n meer, sy, tee, AliBaba en die motorvervaardigers is Hangzhou ook bekend vir sy parke. Dis hier waar die kaartspelers en dansers ontmoet en sommer helder oordag kaartspeel of langarm. Sommer op ‘n Dinsdagoggend. Seker maar omdat hulle gelukkig is en van Hangzhou hou.

IMG_9393

Confucius se kontrei

My familiewortels strek tot ‘n paar eeue terug. Daar is ‘n paar interessante kinkels: Oupas en Oumas wat meer as eenmaal getroud was en verskillende sarsies kinders gehad het, stiefkinders en halfbroers, mense wat vroeg dood is en ander wat stokoud geword het. Terugwaarts loop my familiespore uiteindelik iewers in sentraal-Europa dood. Dieper as die donker middeleeue kon ek nog nooit delf nie.

IMG_9267

Vir my lyk dit asof die Chinese nie die donker middeleeue beleef het nie en hul familiestambome gaan moontlik verder terug as vir enigiemand met Europese wortels. Want hulle het ‘n ononderbroke, aaneenlopende geskiedenis wat tot lank voor Adam en Eva strek. Met ander woorde ‘n uitgebreide, goedgesifte, eensoortige genepoel met familiegeskiedenisse ouer as die mense van Genesis.

Dis nie ‘n verrassing dat ‘n nasie met so ‘n uitgesorteerde genepoel verskeie deurbrake gemaak het nie: Chinese was van die vroegste tye af formidabele pottebakkers en gebruikers van die fynste porselein, hulle was die voorlopers in die maak van papier en biskruit, die gebruik van sy, drukwerk bydraes soos hidrouliese krag en kettingaangedrewe werktuie gelewer. Daarbenewens is die oorsprong van tafeltennis, vlieërs, vuurwerke, noedels, tee, visboerdery en die gebruik van kruie en speserye soos gemmer, knoffel, koljander, rissie en peper nou verweef met China.

IMG_9313

Nanjing bied ‘n indrukwekkende oorsig van hierdie ryk Chinese geskiedenis. Die stad is een van China se vorige hoofstede en die huidige geboude stad is minstens 3,000 jaar oud. Rofweg beteken dit dat Nanjing al ‘n geboude stad was in die tyd van Dawid van die Bybel.

Tog is Nanjing besonder beskeie. Dis een van die min stede in die wêreld met ‘n oorspronklike stadsmuur wat nog ongeskonde staan, deel van die groot muur wat China en Mongolië geskei het eens op ‘n tyd.

Nanjing was ook verskeie male in die geskiedenis die grootste stad in die wêreld. Vandag is daar 8 miljoen inwoners, maar in die groter Nanjing-metropool woon sowat 30 miljoen mense.

Nanjing wys dat Chinese geharde stedelinge is en dat Chinese die kuns om in ‘n grootstad te oorleef vervolmaak het.

IMG_9286

Die stad was vir eeue lank die vesting van die Ming-dinastie. Heelwat van die oorspronklike geboue, grafte en tuine uit die tydperk van die Ming-dinastie dateer, het behoue gebly en is ‘n gewilde bestemming om te besoek. Derduisende Chinese besoek daagliks hierdie deel van Nanjing.

IMG_9270

Ook het die stad ‘n innige verbintenis met die akademie, in besonder Filosofie. Confucius het lank in Nanjing gewoon en het ook sy beroemde skool hier gehad. Die stadsdeel rondom sy sogenaamde tempel, insluitende die oorspronklike kanaalsisteem, het ongeskonde behoue gebly en word daagliks deur miljoene mense besoek.

IMG_9297

Maar dan is daar ook die tragiese massamoord van 300,000 burgerlikes oor ‘n paar dae tydens die Japanese inval aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog. Min mense buite China weet hiervan en Japan smeer die gebeurtenis toe; tog is daar baie sorg gemaak om Chinese (en alle ander mense) te herinner dat daar geen wenners in ‘n oorlog is nie.

 

‘n Museum ter herdenking van die volksmoord-tragedie aan die buitewyke van die stad is ‘n besoek werd. Die museum is goed versorg en geen moeite is ontsien nie om op ‘n smaakvolle manier die hartseer van hierdie swart hoofstuk uit China se verlede te vertel.

IMG_9230

IMG_9232

Ek is nie seker of keelskoonmaak en hurk-toilette goeie of slegte resultate van die uitgesoekte Chinese genepoel is nie. Die luidrugtigte keelskoonmaak (en spoegery) van Chinese in die openbaar is iets waaraan ons moeilik gewoond raak. Veral op ‘n nugtermaag of tydens ‘n maaltyd. En ek moet bieg dat Chinese eetgewoontes funksionaliteit hoër as etiket ag.

Vir my was mossie-huppel nog altyd een van die ongewildste oefeninge ooit. Om te hurk en jou ding te doen is inspannend. Dit is wel waar dat die laterale kragte jou dermkanaal skoner kry, maar my knieë laat die hurkery ongelukkig net vir ‘n kort rukkie toe. As ek orent kom is ek gewoonlik ietwat duiselig en onvas op my voete. Dus is ek strompelend – dodelik gevaarlik in ‘n beperkte ruimte met ‘n klein aaklige putjie.

Aan die pluskant is dit prysenswaardig dat daar in Chinese stede volop openbare toilette is. En dan ook, mense wat wierook brand in toilette om die dampe te verdryf dwing respek by my af.

IMG_9271

 

Zen oomblikke

Zen is iets soos meditasie. Om na te dink. Te verwonder. Of net te staar. Om aan niks te dink nie, en net te kyk. Om afwesig te wees.

Vir my is dit maklik om te Zen. Ek trek ‘n niks-laaitjie oop, my oë word glaserig, my mond gaan ontspanne oop (en bly oop), en ek dink aan boggerol. Asemhaling is belangrik tydens Zen. Daarom raak dit vlakker, amper asof ek begin slaap. Ek kan Zen op enige plek, enigetyd. Oor enigiets. Ek kan nie altyd voorspel wanneer ek gaan Zen nie.

My Lief sukkel om te verstaan hoe maklik dit is om te Zen. Sy kan nie. Sy sê ek zone uit. Maar dis die kuns van Zen – net sommige mense kan dit doen.

Miskien verstaan ek nie rêrig wat Zen is nie. Dis dalk net dagdroom. Kleintyd is ek speels genoem Josef die dromer. Want dan het iemand my uitgevang dat ek afwesig was. Dalk is dit net Josef-oomblikke wat ek beleef. Dalk staar ek sommer net skaamteloos. Gaap aan. Dalk wonder ek maar net. 

Agter die Ystergordyn

 

 

Die eerste Chinees wat ek ontmoet het se naam was Bruce Lee. Deur middel van ‘n fliek, Enter the Dragon. Op ‘n 35mm projektor met ‘n pouse tussen ‘n eerste en ‘n tweede helfte. Pouses was bekend as Intermissions en is gebruik om die filmrolle om te ruil terwyl ons koeldrank en eetgoedjies kon koop by die kiosk. Met Bruce se seningrige, swetende kaalbolyf op ‘n plakaat teen die muur bokant my bed in ‘n koshuiskamer was ek veilig en vreesloos.

Vir lank het ek gedink dat die gemiddelde Chinese man bonatuurlik fiks en so rats soos ‘n kat is. Danksy Bruce het ek gedink dat ‘n Chinese man jou teen die spoed van witlig kan plat klap, ‘n sammersol agteroor kan doen en veilig op ‘n enkele baksteen kan land – als in een beweging.

Volgens die Suid-Afrikaanse Kinder-ensiklopodie, en beaam in Kennis, het die gemiddelde Chinese vrou vervormde klein voetjies gehad as gevolg van ‘n ydele poging om petite en aantreklik te bly. Later het nog wanindrukke oor Chinese bygekom: Die Rooi Gevaar en die skaduwee van kommunisme, rondreisende dominees het gruverhale vertel oor gemartelde sendelinge. Hollywood het Chinese uitgebeeld as opperskelms met koelbloedige kartelle. Ek, en baie ander kinderkranskinders het gereeld gebid vir die mense agter die Ystergordyn – ‘n vae sambreelterm vir alles wat verkeerd was op die Asiese vasteland.

Toe betrek die Chinese vreedsaam die Afrika vasteland in onlangse jare. Hulle werk soos miere, wen tenders van superkonstruksies, en vestig winkeltjies op plekkies soos Gochas en Kamanjab. En die voorblaaie berig oor smokkelhandel, konneksies met renosterstropery, belastingontduiking, bande met korrupte leiers en onwettige transaksies.

IMG_9087

 

Te midde van ons agterdog oor die Chinese besluit ons seun om Agter die Ystergordyn te gaan werk. En ons gaan kuier vir hom in Shanghai – ‘n stad met meer as 24 miljoen mense. Lees net gou weer: 24,000,000 mense. Dis die helfte van Suid-Afrika se bevolking en twaalf maal meer mense as in die ganse Namibië.

In een stad.

Alles werk. Ten spyte van die ontsaglike grootte en mensegetalle. Geen kragonderbrekings, geen watertekorte, geen onveiligheid, die verkeer is ordelik, openbare vervoer is stiptelik en toeganklik.

IMG_9778

Dis ‘n mooi stad – met skoon strate, gesoom met goedversorgde bome. En die lente word gevier met uitbundige blomme in potte, bakke en beddings in die middel en langs die strate, in parke en op openbare oop ruimtes. Saans word die geboue versier met gekleurde liggies. Ter wille van almal se plesier.

Saterdae en Sondae is maar net nog dae op ‘n Chinese almanak. Niemand word toegelaat om vuurwapens aan te hou nie. Polisie is altyd sigbaar en behulpsaam. Geen dronk persoon verskyn op straat nie.

Bedelaars en boemelaars bestaan nie. Geen graffiti. Die afwesigheid van werkloosheid en sosiale verval is opvallend. Misdaad is ‘n rariteit. Om vir so baie mense so ‘n hoë kwaliteit lewe te waarborg is eenvoudig indrukwekkend.

dsc_0061

Maar so ‘n groot konsentrasie van mense is vreesaanjaend. Al is die een-kind-per-gesin-beleid nog van toepassing, word China se bevolking steeds meer. En al het Chinese die meeste fietse in die wêreld, vrees ek die dag wanneer elke Chinese gesin, soos die gewone Amerikaanse gesin, ook meer as een kar het.

Tans bly groei die Chinese ekonomie gewillig, en is daar nog baie ruimte vir verdere groei. Maar die somme is eenvoudig – omtrent een-vyfde van die wêreld se bevolking woon in China. Die Chinese ekonomie is reusagtig en is besig om nog groter te word. Teen ‘n geweldige tempo.

IMG_9773

Wat in China gebeur, plaas druk op natuurlike hulpbronne, nie net op sy eie nie, maar op die wêreld s’n. Dis hoekom Chinese uitwyk na ander lande met baie, en ongetapte, hulpbronne. Waar daar nog leë ruimtes en baie moontlikhede is. Waar daar spasie en geleenthede is.

Deesdae se probleme Agter die Ystergordyn lyk bietjie anders as die probleme waaroor ons in die kinderkransklasse gebid het.

dsc_0205

Kerktoe

In die begin was daar ‘n kerk. 

Menige lewensverhaal van ‘n plek of ‘n mens begin so.

Vroeg in my lewe was daar ook ‘n kerk. ‘n Kleintjie. Dit was die rede vir Sondae, die gom van ‘n gemeenskap en die oorsaak van harde meningsverskille. Naweke is rondom kerksake beplan. Saam met die skool, polisiestasie, poskantoor, winkel, vendusiekrale, garage en vulstasie en die Artesia Saal was die kerkgebou die hartklop van ons dorpie, van ons distrik. ‘n Eenvoudige versameling invloede tydens my vroeë vormingsjare.

DSC_0082

Sommige naweke was daar grootkerk. Eintlik nagmaal. Voorbereidingsdiens Saterdagaand, Nagmaal Sondagoggend, Nabetragting Sondagnamiddag en Oordenking Sondagaand. Die dominees van daardie tyd het stamina gehad en gepraat soos ‘n roomafskeier. Aanhoudend. Party was hipnoties vervelig. Ek was oortuig dat ‘n dominee van daardie tyd ‘n ongeskrewe toets van eentonigheid moes slaag om saam met sy gemeente te kon seil deur die jaarlikse, weeklange Pinkster-bidure.

Ek weet nog nie hoe daardie meedoënlose marathonsessies my gesmee het nie, want ek kan bitter min van daai boodskappe onthou. Die ritueel van kerktoegaan het my en my geslag waarskynlik net normatief beïnvloed. ‘n Soortgelykheid het onder ons ontstaan. As kind het ek sekere goed as reg en ander goed as verkeerd aangeleer. Iemand wat nie by die ongeskrewe reëls wou aanpas nie was teen die stroom. Rebelle. Dwars. Want daar was maar een pad. En een dogma.

Eers later in my lewe het ek besef dat kerktoegaan eintlik oor God en geloof gaan. Dat kerktoegaan eintlik help met die opbou van gemeenskaplike liefde en meelewing, omgee en gasvryheid, en nie om my in ‘n permanente staat van vrees en belydenis, blinde eerbied en ontsag, skuldgevoel en minderwaardigheid te hou nie. Genadiglik kon ek toe die regte boodskap op ons kinders op ‘n vroeë stadium toepas, al het dit ook sy uitdagings gehad.

In die laat negentigs het ons gesin in Duitsland gewoon. Ter wille van ons gereformeerde wortels was die Kerk van Skotland ons enigste werkbare opsie. Die gemeente was piepklein, ‘n samestelling van buitelanders, en ons dominee se naam was James Brown. Eredienste was in ‘n nederige onopvallende geboutjie, ten spyte van die menigte indrukwekkende stokou kerkgeboue rondom ons. Ons mede-gemeentelede was warm en meelewend, gasvry en verwelkomend. Ons kinders en ons het tuis gevoel.

Dit was nogal ‘n uitdaging om aan die kinders te verduidelik waarom die vele pragtige kerkgeboue van Europa so groot is en desnieteenstaande leeg staan. Waarom daar met soveel oordadigheid vroeër yslike tempels gebou is, maar nou amper nutteloos geword het.

So besoek ons eendag die Kölner Dom. ‘n Massiewe gebou waarvan die torings glo 157 m hoog is. Dis ‘n bekende baken in Köln, sigbaar vanuit alle rigtings. So groot en kompleks is die gebou dat restourasie ‘n voltydse werk is. Die Dom is ‘n belangrike monument van die Rooms-Katolieke kerk. Ons probeer die kinders stil hou en wys hulle die indrukwekkende brandskilderye en gekleurde vensters. En toe breek ons jongste die gewyde stilte deur kliphard te vra of ons nou in die Spur is.

Nou is ons op pad na hom toe in China. Ons wil ook graag saam met hom Paasfees vier. Dalk in ‘n kerkgebou.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg