In Chinese terme is Guilin piepklein. Minder as een miljoen mense in die stad en minder as 5 miljoen in die metropool. Guilin het nie eers ‘n metrosisteem nie, net ‘n dodelik effektiewe bussisteem. En derduisende poegies en allerhande mutasies daarvan.

Die binnekant van die stad is sonder voertuie, gevolglik draai bedrywighede rondom voetgangers – instapwinkels, straatkos, smouse en stalletjies, musiek en vertonings, parke en tuine, mense wat kaartspeel, dans of oefen.

Die klimaat is humied-subtropies en die plantegroei is geil. Osmantus-bome, wat in Oktober blom, het die stad sy naam gegee. Die tuine is oordadig. Saans word die liggies aangesit, tot groot plesier van almal op straat.

Nog vere in die hoed van die aantreklike, goedbeplande stad is die uitleg rondom die Li Rivier en sy vier mere, die pagodas en die Ming Paleis.

Maar die eintlike faam van die stad lê in sy omringende omgewing.
Sedert die gedokumenteerde ontstaan van Guilin 23 eeue gelede beskou besoekers aan hierdie streek die omringende karstlandskap as die mees skouspelagtige in China. Lieflik, verbluffend, pragtig, asemrowend – kies maar die beskrywende woord. Ons het nie die regte woord gekry om die buitengewone mooi berge en dale van hierdie streek te kan beskryf nie.

Trouens, in Guilin het ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is – iemand wat fanaties kiekies neem en dan ure lank hulpeloos sukkel om die bestes uit te kies.
Kort na ons aankoms begin ons die stad verken. Dis bedompig en ons stap in ons sweet. Skadus van die parke is ‘n logiese uitweg. So dwaal ons tot by ‘n koppie met die naam Old Man Hill. Trappies wat oorgaan in gedresde klippe op ‘n stygende voetpad. Steiler en steiler. Hoogtevrees of te not, vandag gaan ons op. Verkeerde klere. Maar ons kom heelwat ander stappers teë met verkeerder klere. En een met ‘n kat. Totdat ons bo staan en die uitsig aangaap, verwonderd oor die berge en dale van die karstlandskap rondom ons.
En ek begin vermoed dat ek ‘n kiekomaan is.

Water formeer die oppervlak en samestelling van kalksteen en oor die jare kan hierdie wisselwerking lei tot ‘n landskap van grotte, sinkgate, ondergrondse mere en riviere. So word ‘n karstlandskap gevorm. Dink Otavi Berge of Kango-grotte. Soms is daar oppervlakwater, soms heeltemal afwesig.
Krap jy rond op die internet, is daar opvallend min inligting oor die karstlandskappe van China.

Die karstlandskap by Guilin is uitgebreid. Die landskap is op die mooiste al langs die Li en sy sytak, die Yulong Rivier. Yangshuo, omtrent 60km vanaf Guilin en langs die Yulong, is heelwat kleiner maar amper meer bekend as Guilin vir die ongewone berge van hierdie karstlandskap
In Yangshuo, en eintlik orals oppad, is daar fietse te huur teen 20 – 60 Yuan per dag. Die fietsrypaaie is foutloos met min opdraendes, belyn met aftrekplekkies en stalletjies van plaaslike produkte, kos en water, en baie ander aanbiedings waarvan ons niks weet of verstaan nie.

Nie-chinese besoekers aan Yangshuo maak waarskynlik minder as 1% uit. Ons het ‘n volle dag opsy gesit vir Yangshuo en die fietsry. Een oorslaap in Yangshuo sou eintlik nog beter wees.

Ons blyplek in Guilin was reg langsaan die Ming Paleis. Die nag na Yangshuo reën dit swaar, dit donder en weerlig. Narkose. Al is my vermoedens oor kiekomania sterker, slaap ons rustig.

Terug in die tuine van Guilin ontmoet ons vir Sundy Wen, ‘n Chinese toergids wat Engels vlot praat. Hy het die dag vry, en bied aan om ons gasheer te wees.
So neem Sundy ons na Xingping, ‘n antieke boeredorpie langs die Li Rivier. In ‘n bussie wat plaaslike mense heen-en-weer ry.

Daar is hoenders en eende op straat, honde wat lui rondlê, en boervrouens wat lukwarte, mangos, waatlemoen en grondboontjies te koop aanbied.

Ons klim op ‘n bamboesvlot aangedryf met ‘n Yanmar enjintjie. En ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is. En dat Sundy Wen ‘n nuwe vriend is.



Vanaf Guilin vertrek ons na Xi’an per vliegtuig. Voor ons vlug stap ons bietjie rond en ontmoet Barry (sy Engelse naam), wat ons nooi na ‘n teewinkel. Barry is ‘n onderwyser en gee Engels en Kaligrafie. Sy familie boer naby Guilin en die tee in die winkel kom vanaf hul plaas. Hy verduidelik dat die boere ook rys, rissies, mangos en allerhande soorte groente en kruie verbou. Teedrink op die Chinese manier is ‘n seremonie en selfs ‘n geharde koffiedrinker soos ek kan nie help om dit te geniet nie. So leer ons bamboes- en lietjietee drink.

Ons vertrek uit Guilin en in my verbeelding hoor ek my onwillige belydenis: “Hallo, ek is Pierré en ek is ‘n kiekomaan. Ek het hulp nodig.”
Maar ek kalmeer toe ons oor die berge en dale van Guilin opstyg en ek luister na Katherine Jenkins se (Quello Che Faró) Sara Per Te. Mooi.
Ek dink alle ander kiekomane verstaan.





























































