Waar Marco Polo en Ali Baba ontmoet

Die susterstad van Kaapstad is beeldskoon.

Trouens, Hangzhou is al eeue terug as die mooiste stad in die wêreld beskryf. Deur ‘n man met die naam Marco Polo. Polo was ‘n Italiaanse ontdekkingsreisiger van die 13e eeu. Nie ‘n soort hemp, soos jy gedink het nie. Polo kon nie uitgepraat raak oor die stad se aantreklike uitleg rondom die Western Lake nie. Komende van iemand wat wydberese en goed vertroud was met Italiaanse stede, ag ek Polo se mening nogal hoog. Om die waarheid te sê, Polo het gedink dat hy in die Paradys was toe hy Hangzhou vir die eerste maal sien. Ons ook, Polo word verskoon. Polo was ook diep beïndruk deur die grootte van Hangzhou, op daardie stadium loshande die grootste stad op aarde.

IMG_9327

Kultureel en histories word Hangzhou as een van die geboorteplekke van die Chinese beskawing gereken. En ja, reg geraai, dit was ook een van China se vorige hoofstede. Al het Hangzhou sy politiese belangrikheid intussen verloor, het die stad nog altyd ‘n polsende ekonomie gehad. Verskeie motorsoorte word hier vervaardig en Hangzhou is ook die vesting van die internetbesigheid AliBaba. Ek kon nie uitmaak hoe Ali Baba in Hangzhou beland het nie; dalk is daar ‘n verband tussen die towerspreuk uit sy verhaal en om verborge skatte deur middel van die internet te vind.

Vandag leef omtrent 9 miljoen inwoners binne die stad, en omtrent 21 miljoen inwoners in die metropolitaanse gebied rondom.

IMG_9411

Hangzhou se Western Lake met sy drie dyke – Su, Bai en Yang –  is ‘n Wêrelderfenisgebied. Die meer huisves inderdaad super-gewilde paadjies vir duisende voetgangers en fietsryers. Selfs op ‘n Dinsdagoggend is die drie dyke boordvol.

IMG_9416

Beishan Straat, op die oewer van die meer, word as die mooiste pad in die wêreld gereken. Dit is inderdaad ‘n pragtige pad, maar miskien ‘n aanvegbare aanname dat dit die heel mooiste pad ter wêreld is. Maar al is dit nie die mooiste pad in die wêreld nie, is die stad in sy geheel pragtig. Die mere, berge en ruie plantegroei, saam met die stad se ryk geskiedenis maak dit maklik om Hangzhou as aantreklike bestemming te bemark.

IMG_9330

Van paaie gepraat, die sy- en teebedryf het Hangzhou aan die einde van die syroete as belangrike handelstad gevestig in die tyd voor Marco Polo. Sy, tee en toerisme vorm deesdae ‘n innige driemanskap om mense na hierdie deel van China te lok. Vir sy en tee is daar elk ‘n museum in Hangzhou. En albei is pragtig en die moeite werd om te besoek.

Sywurmboerdery vorm deel van die laerskole in Hangzhou se onderrigplan. Hoe dan anders, die sywumbedryf kom reeds vir die laaste 6,000 jaar saam met die Chinese, in Hangzhou vir die afgelope 4,700 jaar. In die symuseum hang daar klere wat vermoedelik ouer as 4,000 jaar is. As my berekeninge dus reg is, vermoed ek dat die Chinese al sypakkies gedra het toe Adam en Eva nog kaal in die Paradys rondgeloop het. Wat meer is, is dat die Chinese ook al porselein vervaardig het, kleurdruk op material gedoen het en papier gemaak het lank voordat ander nasies ‘n land of ‘n taal of ‘n beskawing gehad het.

Teedrink het net so ‘n stokou geskiedenis. Chinese het al tee gedrink toe ander nasies nog gejag het en in grotte gewoon het.

IMG_9432

Die teemuseum is ‘n tipe opelug-museum met plantasies, terrasse en teedrinkstoepies.

Longjin tee is veral gesog en teedrinkers glo vas dat min plesiere kom by ‘n koppie groentee in Longjin, ‘n skilderagtige dorpie op die voorstoep van Hangzhou. Ons was in die teemuseum en ook in die dorpie. Ek is egter nie ‘n gereelde groenteedrinker nie, en ek drink slegs groentee as daar niks anders is om te drink nie. Ek het ‘n bier in Longjin verkies en oor die lieflike meer gestaar.

IMG_9358

IMG_9445

Behalwe vir Marco Polo, ‘n meer, sy, tee, AliBaba en die motorvervaardigers is Hangzhou ook bekend vir sy parke. Dis hier waar die kaartspelers en dansers ontmoet en sommer helder oordag kaartspeel of langarm. Sommer op ‘n Dinsdagoggend. Seker maar omdat hulle gelukkig is en van Hangzhou hou.

IMG_9393

Confucius se kontrei

My familiewortels strek tot ‘n paar eeue terug. Daar is ‘n paar interessante kinkels: Oupas en Oumas wat meer as eenmaal getroud was en verskillende sarsies kinders gehad het, stiefkinders en halfbroers, mense wat vroeg dood is en ander wat stokoud geword het. Terugwaarts loop my familiespore uiteindelik iewers in sentraal-Europa dood. Dieper as die donker middeleeue kon ek nog nooit delf nie.

IMG_9267

Vir my lyk dit asof die Chinese nie die donker middeleeue beleef het nie en hul familiestambome gaan moontlik verder terug as vir enigiemand met Europese wortels. Want hulle het ‘n ononderbroke, aaneenlopende geskiedenis wat tot lank voor Adam en Eva strek. Met ander woorde ‘n uitgebreide, goedgesifte, eensoortige genepoel met familiegeskiedenisse ouer as die mense van Genesis.

Dis nie ‘n verrassing dat ‘n nasie met so ‘n uitgesorteerde genepoel verskeie deurbrake gemaak het nie: Chinese was van die vroegste tye af formidabele pottebakkers en gebruikers van die fynste porselein, hulle was die voorlopers in die maak van papier en biskruit, die gebruik van sy, drukwerk bydraes soos hidrouliese krag en kettingaangedrewe werktuie gelewer. Daarbenewens is die oorsprong van tafeltennis, vlieërs, vuurwerke, noedels, tee, visboerdery en die gebruik van kruie en speserye soos gemmer, knoffel, koljander, rissie en peper nou verweef met China.

IMG_9313

Nanjing bied ‘n indrukwekkende oorsig van hierdie ryk Chinese geskiedenis. Die stad is een van China se vorige hoofstede en die huidige geboude stad is minstens 3,000 jaar oud. Rofweg beteken dit dat Nanjing al ‘n geboude stad was in die tyd van Dawid van die Bybel.

Tog is Nanjing besonder beskeie. Dis een van die min stede in die wêreld met ‘n oorspronklike stadsmuur wat nog ongeskonde staan, deel van die groot muur wat China en Mongolië geskei het eens op ‘n tyd.

Nanjing was ook verskeie male in die geskiedenis die grootste stad in die wêreld. Vandag is daar 8 miljoen inwoners, maar in die groter Nanjing-metropool woon sowat 30 miljoen mense.

Nanjing wys dat Chinese geharde stedelinge is en dat Chinese die kuns om in ‘n grootstad te oorleef vervolmaak het.

IMG_9286

Die stad was vir eeue lank die vesting van die Ming-dinastie. Heelwat van die oorspronklike geboue, grafte en tuine uit die tydperk van die Ming-dinastie dateer, het behoue gebly en is ‘n gewilde bestemming om te besoek. Derduisende Chinese besoek daagliks hierdie deel van Nanjing.

IMG_9270

Ook het die stad ‘n innige verbintenis met die akademie, in besonder Filosofie. Confucius het lank in Nanjing gewoon en het ook sy beroemde skool hier gehad. Die stadsdeel rondom sy sogenaamde tempel, insluitende die oorspronklike kanaalsisteem, het ongeskonde behoue gebly en word daagliks deur miljoene mense besoek.

IMG_9297

Maar dan is daar ook die tragiese massamoord van 300,000 burgerlikes oor ‘n paar dae tydens die Japanese inval aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog. Min mense buite China weet hiervan en Japan smeer die gebeurtenis toe; tog is daar baie sorg gemaak om Chinese (en alle ander mense) te herinner dat daar geen wenners in ‘n oorlog is nie.

 

‘n Museum ter herdenking van die volksmoord-tragedie aan die buitewyke van die stad is ‘n besoek werd. Die museum is goed versorg en geen moeite is ontsien nie om op ‘n smaakvolle manier die hartseer van hierdie swart hoofstuk uit China se verlede te vertel.

IMG_9230

IMG_9232

Ek is nie seker of keelskoonmaak en hurk-toilette goeie of slegte resultate van die uitgesoekte Chinese genepoel is nie. Die luidrugtigte keelskoonmaak (en spoegery) van Chinese in die openbaar is iets waaraan ons moeilik gewoond raak. Veral op ‘n nugtermaag of tydens ‘n maaltyd. En ek moet bieg dat Chinese eetgewoontes funksionaliteit hoër as etiket ag.

Vir my was mossie-huppel nog altyd een van die ongewildste oefeninge ooit. Om te hurk en jou ding te doen is inspannend. Dit is wel waar dat die laterale kragte jou dermkanaal skoner kry, maar my knieë laat die hurkery ongelukkig net vir ‘n kort rukkie toe. As ek orent kom is ek gewoonlik ietwat duiselig en onvas op my voete. Dus is ek strompelend – dodelik gevaarlik in ‘n beperkte ruimte met ‘n klein aaklige putjie.

Aan die pluskant is dit prysenswaardig dat daar in Chinese stede volop openbare toilette is. En dan ook, mense wat wierook brand in toilette om die dampe te verdryf dwing respek by my af.

IMG_9271

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg