In die begin was daar ‘n kerk.
Menige lewensverhaal van ‘n plek of ‘n mens begin so.
Vroeg in my lewe was daar ook ‘n kerk. ‘n Kleintjie. Dit was die rede vir Sondae, die gom van ‘n gemeenskap en die oorsaak van harde meningsverskille. Naweke is rondom kerksake beplan. Saam met die skool, polisiestasie, poskantoor, winkel, vendusiekrale, garage en vulstasie en die Artesia Saal was die kerkgebou die hartklop van ons dorpie, van ons distrik. ‘n Eenvoudige versameling invloede tydens my vroeë vormingsjare.

Sommige naweke was daar grootkerk. Eintlik nagmaal. Voorbereidingsdiens Saterdagaand, Nagmaal Sondagoggend, Nabetragting Sondagnamiddag en Oordenking Sondagaand. Die dominees van daardie tyd het stamina gehad en gepraat soos ‘n roomafskeier. Aanhoudend. Party was hipnoties vervelig. Ek was oortuig dat ‘n dominee van daardie tyd ‘n ongeskrewe toets van eentonigheid moes slaag om saam met sy gemeente te kon seil deur die jaarlikse, weeklange Pinkster-bidure.
Ek weet nog nie hoe daardie meedoënlose marathonsessies my gesmee het nie, want ek kan bitter min van daai boodskappe onthou. Die ritueel van kerktoegaan het my en my geslag waarskynlik net normatief beïnvloed. ‘n Soortgelykheid het onder ons ontstaan. As kind het ek sekere goed as reg en ander goed as verkeerd aangeleer. Iemand wat nie by die ongeskrewe reëls wou aanpas nie was teen die stroom. Rebelle. Dwars. Want daar was maar een pad. En een dogma.
Eers later in my lewe het ek besef dat kerktoegaan eintlik oor God en geloof gaan. Dat kerktoegaan eintlik help met die opbou van gemeenskaplike liefde en meelewing, omgee en gasvryheid, en nie om my in ‘n permanente staat van vrees en belydenis, blinde eerbied en ontsag, skuldgevoel en minderwaardigheid te hou nie. Genadiglik kon ek toe die regte boodskap op ons kinders op ‘n vroeë stadium toepas, al het dit ook sy uitdagings gehad.
In die laat negentigs het ons gesin in Duitsland gewoon. Ter wille van ons gereformeerde wortels was die Kerk van Skotland ons enigste werkbare opsie. Die gemeente was piepklein, ‘n samestelling van buitelanders, en ons dominee se naam was James Brown. Eredienste was in ‘n nederige onopvallende geboutjie, ten spyte van die menigte indrukwekkende stokou kerkgeboue rondom ons. Ons mede-gemeentelede was warm en meelewend, gasvry en verwelkomend. Ons kinders en ons het tuis gevoel.
Dit was nogal ‘n uitdaging om aan die kinders te verduidelik waarom die vele pragtige kerkgeboue van Europa so groot is en desnieteenstaande leeg staan. Waarom daar met soveel oordadigheid vroeër yslike tempels gebou is, maar nou amper nutteloos geword het.
So besoek ons eendag die Kölner Dom. ‘n Massiewe gebou waarvan die torings glo 157 m hoog is. Dis ‘n bekende baken in Köln, sigbaar vanuit alle rigtings. So groot en kompleks is die gebou dat restourasie ‘n voltydse werk is. Die Dom is ‘n belangrike monument van die Rooms-Katolieke kerk. Ons probeer die kinders stil hou en wys hulle die indrukwekkende brandskilderye en gekleurde vensters. En toe breek ons jongste die gewyde stilte deur kliphard te vra of ons nou in die Spur is.
Nou is ons op pad na hom toe in China. Ons wil ook graag saam met hom Paasfees vier. Dalk in ‘n kerkgebou.
Wat ñ voorreg om Paastyd saam met jul kind kan gaan vier. Nogal in China. Hoop jy gaan op ñ stadium ñ foto kan plaas.
LikeLike
Hey Pierre hoe maak jy nou die nostalgie in my wakker! Dis mos Stampriet se kerkie op jou foto? Kannie onthou dat die bome so groot was nie?
Blokfluit gespeel daar. Juf Julie Smit
LikeLiked by 1 person
Nie geweet jy ken ook die plekkie nie! Juf Julie is my pa se niggie, so terloops.
LikeLike
Inderdaad n groot voorreg! Sal probeer om fotos te plaas, ook op Instagram. Maar die Chinese internet is nogal n uitdaging.
LikeLike
😀 is jy seker julle was nie in die Spur nie
LikeLiked by 1 person