Kaap van Goeie Hoop

Die Suidoos het die Argus van 2017 weggewaai. En duisende fietsryers kon hul rygoed heen-en-weer vervoer sonder om daarop te ry.

Helen Zille twiet oor iets wat ons dink, eintlik weet, maar nie mag sê nie. En kry wind van voor, amper soos die Argus.

Dis laat-somer en die Kaap is droog en vaal. Hier-en-daar is spatsels herfskleure op die wingerdblare. Kapenaars bid vir somerreën, al is dit ‘n winterreënstreek. Want die Kaap is dors. Maar hulle bid nie dat die onkapabele beplanners vervang moet word met bekwame amptenare nie.

Dagga word gewettig. Iemand het agtergekom dat ‘n sonde toe alletyd nie ‘n sonde is nie. Trek ‘n rooi streep deur dit wat ek kan onthou uit ‘n Jeugweerbaarheidsles op skool.

Zuma omring homself met ‘n kader talentlose, onderpresterende trawante. Hy haal elke moontlike voorblad. ‘n Vae rebellie teen hom ontstaan, landwyd.

Ons sit in verkeer op die N1 en ry ‘n uur lank aan dertig kilometer. Ek wonder oor die mooi van die Mooiste Kaap.

Ontnugter en duskant moedeloos slaan ek my oë op na die berg en wonder waar ons hulp vandaan kom.

IMG_9044

Ek kyk na dieselfde berg en wonder waarom ons in Afrika woon.

Want ons is hier gebore. En ons ouers. En hulle ouers. Ons familie het ‘n opgetekende geskiedenis hier. My gesin is Afrikaans. En ons is lief vir Afrikaans. Ons is deel van ‘n netwerk van vriende, kennisse en kollegas oor kleurblinde grense. Almal mense wat ons aanvul, opbeur, help, ondersteun, liefhet.

En ons is lief vir Afrika. Want hier is die wisseling tussen dag en nag die mooiste en die sterre die helderste. Hier is daar nog baie diere en bome en min dieretuine en parke. Hier het ons waardering vir lewegewende reën. Vir blou, onbesoedelde lug. En hormoonlose kos. Hier kan mens jou hande in die grond druk en voel soos ‘n landman en rentmeester. Hier kan ons kaalvoet loop. Stap langs oneindigende strande, stap deur landskappe uit Psalm 23 se wêreld, alleen raak en partymaal nog ontdekkingsreisigers wees. Vuurmaak waar ons wil. ‘n Hek oopmaak. Agterop ‘n bakkie ry. Vyekonfyt eet. Biltong kerf en droëwors knak.

Afrika se mense is nog jonk. Dit gaan nie altyd goed met die mense van Afrika nie. Daar is maar baie aanpassingsprobleme en ontwikkelingsuitdagings. Soos dit met jongmense gaan. Op sommige terreine is die groei te snel, en op ander duur die verandering te lank. Soms is daar ‘n Z-faktor in die salf.

Om in die aand te drentel in Kloofstraat, ‘n wedstryd op Nuweland by te woon, teen skemer in Seepunt te gaan stap, ‘n teug goeie wyn van die Kaap te sluk, en op Bloubergstrand na die berg te kyk gee mens hoop.

Kaap Mei 2005 (14)

Jan van Riebeeck en sy manskappe het eendag, lank gelede, aan die voet van dieselfde berg nesgeskop. Hulle het waarskynlik ook opgekyk vir hulp. Jan-hulle het aangebly, al was hulle seker ook ontnugterd en moedeloos by tye. Jan het die potensiaal van die plek raakgesien want hy het dit Die Kaap van Goeie Hoop genoem. En al vir 365 jaar maak sy nasate ‘n verskil aan Afrika.

Ek bly hoop. Ek bly glo in Goeie Hoop. Soos Jan-hulle.

Voorheen het ons Van Riebeeck-dag gevier. Miskien moet ons dit herinstel om ons te herinner aan die Goeie Hoop van Jan!

Louter

Stap is vir my terapeuties. Stap bring vir my kalmte en berusting. Bring orde en beheer oor my gedagtes. Ledig my agendas. Zen my.

Atletiek is een van my gunsteling sportsoorte om te kyk. In ‘n waas van bewondering staar ek na atlete se buitengewone talente en vermoëns. Die gespierde lywe hou my nederig. Spoed het ek nie, ek kon nie eintlik ver of hoog spring nie, draf het my gou moedeloos gemaak, paalspring het nog altyd bonatuurlike konsentrasie en tegniek vereis en vir diskusgooi en gewigstoot het ek zero aanleg.

Maar ek kan stap. Ente. Sonder om moedeloos of verveeld te word, gou dors of klaerig te raak.

IMG_0436

Anders as draf is stap nie vir my stamperig nie. Stap laat mens se lyf nie skud en dril nie. Ek het nog nooit ‘n stap-besering opgedoen nie, maar ek weet van baie drawwers wat met allerhande kwale sit. Trouens, enige beweging van die menslike lyf vinniger as stap is potensieël onveilig en kan lei tot ongelukke en beserings. Stap daarenteen, is veilig en skadeloos. En mens kan orals stap.

Stap is vir my terapeuties. Stap bring vir my kalmte en berusting. Bring orde en beheer oor my gedagtes. Ledig my agendas. Zen my.

My liefde vir stap het ‘n waarskynlike oorsprong in skaapbymekaarmaak. As kind was dit vir my avontuur. ‘n Eerlike, nuttige rede om in die veld te wees. Jy soek skape, maar sien plante, klippers en uitsigte raak. En ‘n vlakhaas of steenbok wat skielik opspring en weghardloop hou jou sintuie skerp. Jy sien spore en probeer dit eien, jy tel ‘n reuk op, die muggies en vlieë zoem om jou ore. En dit alles gebeur terwyl jy ‘n trop stomme, onnosele skape in ‘n rigting kry. Alles, ‘n eenvoudige, reinigende proses.

Staproetes was vir my ‘n groot onbekendheid tot in my universiteitsjare, totdat ek agtergekom het dat mens kan stap vir doelbewuste ontspanning. My North Star tekkies, my Kampmaat slaapsak, en my onpraktiese seilrugsakkie was genoeg om die Bolandse berge en die tuinroete se kus en woude te verken.

Later het my arsenaal stapbykomstighede uitgebrei. Die skoeisel het deesdae ‘n windgat naam, die lang sokkies het teruggesak tot onder die enkels, en die rugsak het ‘n dosyn klein wegsteekplekkies gekry maar is vol ligter as die leë seilsak van destyds. Dan is daar sonbrandgoed en ‘n kep, ‘n kamera, ‘n waterbottel, en soms ‘n ipod. Alles om die siel te suiwer.

My liefde vir stap het ook familiebande.

Met sy naderende 88ste winter, sit die klere aan sy lyf bietjie losser. Sy lyf is bietjie krommer, sy treë bietjie korter. Ook is die ente korter. En al neem dit hom al hoe langer om te stap, bly hy lief daarvoor. Elke keer vertel hy van die klein goedjies wat hy gesien het, hoe bevoorreg hy is om nog te kan stap. Stap bly vir hom ‘n waarderende ervaring. Toe hy een oggend na sy stap langs die see terugkom, sê hy dat hy wens hy kon al die mooi van die oggend in ‘n koffertjie sit en dan later weer stukkie vir stukkie uithaal om te geniet en bewonder.

DSC_0226

Ek gaan aanhou stap, soos hy. Om die siel te suiwer. Om te verken en te bewonder. Om te ervaar. Om te louter.

Vleesbaai

‘n Belangrike deurbraak vir my is dat my gesig vertrou word om op die huis se rekeningnommer by die winkel te kan koop.

Iewers in die tagtigerjare kom ek vir die eerste maal aan op Vleesbaai, met ‘n grys Volla. My oë blink, studenteliefde staan in die blom.

Die grondpaadjie daal af teen die bult met sy rytjie houtstrandhuisies en ek stop by een se agterkant, tussen ‘n buitetoilet en ‘n watertenk. Daar is paraffien yskaste en ‘n enjinkamer met ‘n kragopwekker, en in die aand gebruik ons lanterns en kerse as die enjin stil raak. Water kom van ‘n boorgat af. Almal ken vir almal, ek ontmoet die bure en gou word ek deel van ‘n uitgebreide familie en vriendekring. ‘n Belangrike vroeë deurbraak vir my is dat my gesig vertrou word om op die huis se rekeningnommer by die winkel te kan koop.

Minstens eenmaal per jaar was ons op Vleesbaai. Spoedig het ek geleer om die dwalende Volla teen ‘n veilige spoed op die N2 te hou, ten spyte van die alewige padwerke en met ‘n branderplank op die dak. Dit was raadsaam om die tog bedags aan te pak; die sesvolt ligte was ‘n waagstuk saans en die padstalle by Houwhoek en Buffeljagsrivier was oop bedags. Later was ons spanjoel die derde insittende. Vakansie en Vleesbaai was betroubare vennote tydens ons studentejare.

In die verantwoordelike jare na studentewees het ons ook nog probeer om minstens eenmaal per jaar op Vleesbaai uit te kom. Geriewe van vooruitgang het gekom – Evkom het besluit om sy kragnetwerk uit te brei, die strate is geteer, die water en rioolstelsel is verbeter, valhekke en toegangsbeheer het op ons neergedaal, Vleesbaai word ‘n stop vir die Trans-Agulhas rubberbote en sommige eienaars het hul nederige houthuisies vervang met indrukwekkende vakansiemonumente.

DSC_0067

Die logistiek het meer uitdagend geraak. Verlof, vakansie en Vleesbaai was soms ‘n moeilike driemansskap en die langpad deur die eindelose suide van Namibië en die groot leë binnekant van die Karoo was genadeloos eentonig. Die Volla is vervang met opvolgers uit die Volkswagenstal – ‘n wit Jetta, ‘n bloedrooi Fox en ‘n nog rooier Jetta. Totdat dit tyd geraak het vir die dubbelkajuit, met genoeg spasie vir die kinders, worshonde en fietse. Die kinders het vir Kersvader leer ken. Hy ry met ‘n Beach Buggy, dra ‘n kortbroek, praat Afrikaans en gesels graag met almal op Vleesbaai.

Ek swem nie omdat swem ‘n sport is nie. As ‘n Kalaharikind is swem vir my baie soos Engelspraat, ek doen dit meestal om te oorlewe. Dis inspannend. Aanstrengend, soos die Duitsers sê. Ek moet ontsettend konsentreer om dit te kan doen. Maar Vleesbaai het ‘n wonderlike swemstrand. Veilig, kalm en betroubaar warm. En dis ‘n bymekaarkomplek vir bekendes in vakansietye. Dis waar ons uitvra oor die verlange van ‘n bekende in London en Perth, oor wanneer ‘n kindervriend gaan aftree as skoolhoof, oor die nuwe familie van ‘n tweede huwelik.

Oor die jare het sommige van Vleesbaai se bekende gesigte verdwyn. Die ooms met name soos Japie, Fritz, Niklaas, Gallie, Theuns, Daantjie en Oubaas is weg. Seuns het name gekry soos Francois, Charl, Etienne, Jacques, Eugene, André en Pierré. Nou’s ons die ooms. En die seuns wie vir ons Oom sê het name soos MJ, Le-Roy, Jandré, Dewan en Ethniël.

Dinge het verander.

Dorptoe

Soms moes ons op mekaar se skote sit om in te pas. En dan slaap jou been as jy moet hek oopmaak.

Gereeld moes ons dorptoe, dis nou na die groter dorp toe, omtrent eenmaal per maand. Almal in ‘n bakkie met ‘n laaaang lysie. Die besoekpunte het gewoonlik die dokter, veearts en magistraatskantoor ingesluit, ons moes draaie maak by Von Watzdorf en Stumpfe, Charney en Elektra, kiekies van karakoellammers by Photo Ludwig gaan haal, klere wat verstel is optel by CG Theron Uitrusters, medisyne kry by die apteek, ‘n pakkie vir iemand gaan aflewer, navraag doen of die horlosie al reggemaak is deur Ploeger, en dan is die plaasaankope laastens gedoen by BKB.

Dorptoegaan was ‘n gebeurtenis. ‘n Belewenis, ‘n reis in die kleine.

Die onderskeid tussen plek, dorp en stad is vir my nogal vaag. Ewe vaag is die onderskeid tussen area, omgewing, gebied en streek. Neem nou maar die voorbeeld van Brackenfell. Is dit ‘n dorp, ‘n plek of ‘n stad? Of is dit deel van die Kaap? Met ander woorde, deel van ‘n area, omgewing, gebied, of streek? Dalk was hierdie tema al ‘n besprekingspunt op ‘n kunstefees, op Kwela se Dorp van die Jaar kompetisie, of op RSG se Hoe verklaar u dit.

Vir my maak die wettiese definisie nie eintlik saak nie – soms is ‘n dorp meer ‘n plek as dorp, soms is ‘n gehuggie ‘n dorpie, en soms is ‘n plek eintlik deel van ‘n stad. As reisiger gaan dit vir my oor ‘n bestemming. Oor die reis daarheen, oor die belewenis, die gebeurtenis.

Swakopmund Julie 2012 (21)

Daar is ander mooi plekke ook, maar Swakopmund en Knysna is vir my mooi bestemmings. Albei is groterige, baie mooi plekke. Dorpe, dink ek. Ek is nie seker wat Swakopmund en Knysna mooi maak nie. Is dit die see, en in Knysna se geval die water, berge en plantegroei, in Swakopmund se geval die uitleg, die gevoel en die ou geboue, of is dit in albei gevalle die somtotaal van mense en plek? Die strate is skoon, onderhoud word gedoen, die mense is vriendelik en hulpvaardig in verskeie tale, daar is orde, dis veilig en besoekers voel welkom.

IMG_9023

Wat maak ‘n dorp mooi en gewild? Hoekom WIL mense daar bly? Hoekom wil mens ‘n dorp besoek? Hoekom groei party dorpe terwyl ander kwyn? Wat bepaal die belewenis van ‘n dorp?

Swakopmund Julie 2012 (22)

Vir my is daar vier belangrike faktore, en toevallig vorm hierdie vier faktore die woordjie DORP. Dissipline, Onderhoud, Respek en Passie.

‘n Dorp funksioneer net beter as daar dissipline is. ‘n Deurmekaar plek, ‘n plek sonder orde en reëls, of ‘n ongeorganiseerde plek gee jou ‘n onlekker ervaring. Onderhoud, en veral voorkomende onderhoud, is noodsaaklik om ‘n dorp in stand te hou en te laat vorentoe gaan. Onderhoud wys dat iemand omgee vir ‘n plek. Gebrek aan onderhoud wys besoekers weg en laat geleenthede kwyn. Respek is iets wat bewys word met standbeelde, die behoud van ou geboue, en straatname wat behoue bly, waar die mooi bevorder word en waar mense mekaar vriendelik groet. En laastens moet daar passie vir ‘n plek wees. Daar moet ‘n plan en ‘n doel wees. ‘n Dorp sonder passie en ‘n plan vorentoe is voos. Lusteloos, doelloos, sukkelend, vaal en ongewild.

Knysna en Swakopmund is vir my sulke DORPe. Ek hou van die plekke omdat daar orde en respek is, onderhoud gedoen word en die passie vir die plek sigbaar is.

IMG_9034

Weerkyk

En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Soms het jy hom net gehoor as hy die gordyne saggies oop geskuif het. Maar meestal was hy doodstil. En dan het hy vir lang oomblikke in die donkerte gestaar om die weer te kyk as dit weerlig. As iets sy uitsig in een vertrek versper het, het hy die volgende vertrek se vensters probeer.

Vanuit die weer het hy beplan, tekens gelees – of daar voorspoed of teenspoed wag. Groenveld of droogte. Weiding of voer. Bedags en snags het hy beplan, gewroeg, gebid. En reën was die gemene deler.

Mooiweer het ek leer ken as belowende wolke. Nie as ‘n skoon, wolklose hemel nie. “Die weer is mooi vandag” was ‘n uitdrukking swanger van belofte en verwagting.

Swaar weer oor Namibië is mooi. Verrukkend. Dansende blitse en oorverdowende gedonder is mooi. Ontsagwekkend. Druppels reën op ‘n sinkdak is mooi. Oortuigend. Slaap terwyl dit reën is salig. Gerusstellend. Reënweer oor die dorsland is mooiweer.

So het ek een aand gaan slaap met swaar donderweer en blitse. Dit was iewers in die sewentigerjare, in dieselfde tyd as Skylab. Maar Skylab se dae was getel en ons is gewaarsku dat Skylab besig was om te disintegreer en dat die stukke dalk iewers oor suidelike Afrika kan val. En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Een baie harde donderslag in die nag het my oortuig dat Skylab tog geval het; welliswaar nie op my kamer nie, maar net ‘n entjie suidoos van die huis. Vroegoggend is ek uit die huis om te gaan kyk, maar daar was geen teken van die verwoeste ruimtetuig nie. Later die oggend het ons toe op die nuus gehoor dat Skylab iewers oor Australië neergestort het.

Reën in Namibië word met heilige respek hanteer en waardeer. Dis die rede vir rondrits, reis, verkenning. Uitvra oor reën is die begin van menige gesprek. Reën is die bepalende faktor as ‘n trip beplan word. Wat die deurslag gee as ‘n plaas gekoop word. Wat die luim van die nasie bepaal. En die koerante se voorblaaie dikteer.

Na ‘n buitjie reën sien mens fotos en dankgebede, kinders wat speel in die poele, 4x4s langs ‘n vol riviertjie. Daar is selfs ‘n Facebook blad vir reën. Waarvan die ledegetalle daagliks groei. En waarop dit elke dag gons oor nuwe berigte van reën, oor reënkanse, riviere wat afkom, die stand van damme, groenveld en blommetjies langs die pad. Die blad waarop boere skrywers word.

Reëntyd is reistyd in Namibië. Ek was al deel van ‘n groepie wat op ‘n Saterdagoggend uit Windhoek na die lelies by Maltahöhe gaan kyk het, en per ompad oor Solitaire en Spreetshoogte na Windhoek teruggekeer het. Net om te gaan kyk waar dit gereën het. Byna 800 km vir die dag.

Nie te ver vir weerkyk nie. Nooit te ver om te reis nie.

Suide trip Maart 2011 (58)

Privaatsak 2116

Maandae en Donderdae het die rooi spoorwegbus gekom en op Dinsdae en Vrydae teruggegaan. Gekom met bultende possakke, pakkies en aflewerings. Teruggegaan met beantwoorde briewe, betaalde rekenings, bestellings en orders. Op Dinsdae en Vrydae is die roomkanne ook deur die bus opgelaai en op Maandae en Donderdae het die roomkanne leeg teruggekom. Soms het die bus ook ‘n pakkie by ons opgetel vir iemand stroom-op of -af op die roete.

As ek die stoffie van die bus in die verte gesien het, het ek begin stap om die possak by die bushalte te gaan haal. Die bushalte was ‘n sentrale punt op die buurplaas van Oom Flip, daar waar Oom Giftand gemaklik met die bus kon draai. Al die aangrensende plase het die bushalte van Oom Flip gedeel. Die possakke is sommer onder ‘n koelteboom, langsaan Oom Flip se tuinhekkie oor die draadheining gehang.

Terug by die huis is die possak dan met groot afwagting oopgemaak. Daar was briewe met interessante posseëls, posbestellingsgidse van Charles Velkes en Modesty, miskien ‘n Huisgenoot, Sarie, Topsport of Landbouweekblad en die vorige week se koerante.

Soms is die rooi spoorwegbus ook gebruik vir aflewerings vanaf die koöperasie of winkels op die dorp. Dan is die kampmateriaal, klipsout, brandstof of winkelgoedjies by Oom Flip se hekkie afgelaai, gemerk vir die nuwe eienaar met net ‘n enkele nota.

So het dit eenmaal gebeur dat die bestelling en die aflewering van teerpale by die bushalte nie dieselfde hoeveelheid was nie. Toe die nuwe eienaar van die pale navraag by die koöperasie doen, trek die koöperasie skouers op. Uiteindelik word daar ‘n amptelike saak by die magistraatskantoor gemaak, tussen die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, die koöperasie en die boer. En Oom Giftand se betroubaarheid word getoets.

Toe almal voor die magistraat ewe radeloos is, speel Oom Giftand sy troefkaart – ‘n ooggetuie.  Op die betrokke dag het die man daar naby onder ‘n ander koelteboom gesit. Hy moes tog immers gesien het hoe Oom Giftand die teerpale aflaai. Die ooggetuie vertel sy storie en alles loop reg totdat die magistraat hom vra oor die hoeveelheid pale. Toe maak hy verskoning: “Edelagbare, ek weet nie so mooi nie. Ek was besig om ‘n skaapnek te eet. Ek het nie baie opgekyk nie.”

Ek weet nie tot watter vergelyk die partye gekom het nie, maar Oom Giftand het nog vir jarre daarna die bus gery.

Die rooi spoorwegbus het ‘n belangrike rol in my vormingsjare gespeel. Dit was my kontak met die res van die wêreld. Die internet van my seuntjiewêreld. Ek het gewonder oor die geheimsinnige reis van die briewe, oor bestemmings en afsenders se onbekende adresse, oor die name en plekke waarvan die tydskrifte en koerante berig het, oor die oorsprong van die produkte wat by ons afgelewer is en oor die fabriek waarheen ons die room gestuur het.

My nuuskierigheid oor die groter wêreld het ‘n onblusbare wanderlust gekweek en die nederige spoorwegbus en Oom Giftand het my dalk meer gevorm as ek wat ek wil toegee.

Vleis, reis en vrede

Eers was dit beesrug, in dik sappige skywe op die kole, met murgbene daarby. Ja daar was groente ook, maar die ster van die aand was die blink, heilsame murg saam met Namibiese beesvleis. Daar is gelag en gesels, gegroet en afskeid geneem.

Toe was dit skaaprug, in sy geheel, en stadig gebak in roosmaryn en met Swakopmund se eie olyfolie bedruip. Weer was daar groente by, maar die ster van die aand was die bottersag lam uit Namibië se suide. Ons het gekuier, die glasies is geklink en ons het totsiens gesê.

Ons vertrek uit Namibië met ‘n vleisvaarwel en word verwelkom in Suid-Afrika met … ‘n vleisie op die kole. Heerlike skaaptjops en wors, met groente en ‘n nederige broodjie daarby. Maar die anker op die spyskaart is vleis. Goeie, ordentlike, lekker vleis.

Enige reis wat begin met goeie vleis, gaan gepaard met kalmte, rustigheid, gelatenheid. En vrede. ‘n Reis sonder goeie vleis is onseker, onrustig en onoortuigend. So is ek van kleins af geleer. Daar was altyd ‘n kosmandjie in die kar. Op enige reis. En vleis was altyd in oorvloed teenwoordig – in die gedaante van frikkadelle, wors, koue nek of natuurlik biltong. Vleis het vrede en kalmte in ons kar gebring. Ek vermoed dat die Jode destyds nie goeie vleis gehad het toe hulle die uittog uit Egipte aangepak het nie. Die gevolg was dat hulle vir jarre lank murmurerend en rigtingloos in ‘n woestyn rondgedwaal het.

Eintlik is vleis ‘n soort kalmeermiddel vir Namibiërs. ‘n Tipe valium. Vleis bring vrede. Nie vrede soos ‘n witvlag na baklei nie, meer soos tevredenheid. Vrede soos saligheid. Vrede soos bedaar. Wat uiteindelik oorgaan in vrolikheid.

Vleis is ook versoenend. Brandoffers met vleis het ‘n deurslaggewende rol in die Bybel gespeel om skade te herstel, om teleurstelling te oorkom, om ‘n vernielde verhouding te herstel. Verskille word opgeklaar om ‘n braaivleisvuur. Gemoedere kalmeer oor ‘n stukkie biltong. Verdrae word gesmee oor resepte vir wors. Geloftes word afgelê tydens ‘n jag.

Waar daar nie vleis is nie, is daar ‘n gebrek aan vertroue. Eintlik verdagmakery. Selfs verraad.

Ons is vleisfiks. Ons weet nie of ons orals op ons reis vleis gaan kry nie, maar die reis het ten minste met vleis en vrede begin. Daarin berus ons.

Om te spring

Net oorkant 50 loop my korporatiewe loopbaan skielik uit op ‘n verbeeldinglose vlakte. Windstil, gemaklik en voorspelbaar. Kinders uit die huis, albei van ons met goedbetaalde werk, oorgenoeg om van te lewe. Vasgevang in ‘n dodelike daaglikse roetine.  Soggens net na ses gaan ek uit die huis, en saans net voor ses kom ek terug. Met die voorgeskrewe drie weke verlof per jaar, medies, pensioen, behuising, die hele lot. MAAR sonder tyd vir myself. Want naweke is doodeenvoudig te kort om sinvol weg te breek. Saterdagoggende word gebruik vir haresny, iets by die hardeware soek, ‘n vinnige koffietjie, of werk in die tuin. Ons kyk rugby en braai Saterdagaande, Sondae gaan ons erediens toe.

Toe die kinders nog in die huis was, was die geroetineerde lewe nog draaglik. Die weeklikse herhalings was aanvaarbaar. En naweke was vir ons blaaskanse om net by die huis te wees en bietjie langer as normaal in mekaar se geselskap deur te bring.

En toe gaan die kinders uit die huis uit. Skielik raak die weeklikse roetine vir ons waansinnig. Ons vra hoekom-vrae, ons kyk na aanpassings, probeer raad kry uit tydskrifte en die web, wend ons na kundiges. Albei kinders reis die wêreld vol, vertel ons van hul ervarings in ver plekke. Ons sit by die huis en luister. ‘n Buurman hang oor die muur en vertel van sy wedervaring in ‘n 4×4 op reis deur Afrika en ons luister. Ons gaste vertel van hul reise deur die wêreld en ons luister.

‘n Onversadigbare honger vir die groot reis bou op. Terselfdertyd raak my siel toenemend ontevrede met die doelloosheid van ‘n geroetineerde korporatiewe werk, die vals hoop van aardse sekuriteite en eindelose vergaderings oor vaal onderwerpe.

Toe spring ons.

Eintlik is ons nie springerige mense nie. Ek het hoogtevrees. En engtevrees. Dus het ek nog nooit ‘n begeerte gekry om oor ‘n afgrond te spring nie. Nie eers net twee meter nie. My Lief spring ook nie graag nie. En as sy spring is die gil groter as die sprong.

Maar ons het al bedank. Plotseling. Net so onverantwoordelik soos iemand wat met ‘n rektou van ‘n brug af spring. Mense wat al gereksprong het, sê dis angswekkend. Dat mens nie te lank daaroor moet nadink nie, maar dit net moet doen.

So, ons het gespring. Om te reis. En hierdie is ons storie.

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg