Liewe Pa
Die Kaap is nogsteeds droog. Kapenaars bid vir reën, al is die Kaap ‘n winterreënvalstreek. Hulle bid ook dat Dag Zero nie moet kom nie, maar hulle bid nie vir beter beplanning nie. Hulle spaar darem baie water en die meeste het aangepas by die werlikheid dat water ‘n beperkte hulpbron is. Nou het hulle ook opgaartenks, waterslimtuine, kleiner toiletbakke en hulle hergebruik ook nou gryswater. En Kapenaars praat nou ook van waterherwinning, storing van water ondergronds en die ontsouting van seewater. Ons Dorslanders ken hierdie dinge en kan vir die Kapenaars baie nuttige truuks hieroor leer, maar snaaks genoeg, hulle vra nie ons hulp nie.
Zuma is weg. Uiteindelik. Nogal op Valentynsdag. Daai dag gaan nou glo Verlossingsdag genoem word. Die Rand het skielik begin sterker word, en daar waai ‘n nuwe wind van hoop en verwagting deur suidelike Afrika.
Maar kom ek begin by die begin.
Pa se begrafnis was mooi. Stemmig, intiem en vredevol. Nes Pa dit sou verkies het. Behalwe dat omtrent niemand van Pa se vriende daar was nie. Net die jongeres. Ons het Pa se goedjies opgepak en verdeel. Saam met al die baie herinneringe en sentimente. Dit was nogal ‘n aardige ervaring. Want dis so genadeloos en onvermydelik finaal. Daar is nie ‘n omdraai, ‘n kykweer, of ‘n tweede kans nie. ‘n Lewe is verby. Vir altyd.
Ek wonder oor die dood, Pa. Is dit dalk soos ‘n diep, baie lang slaap sonder drome? Soos narkose. Roerloos, stil. Gebeurteloos en eindeloos. Raak mens dalk bang net voordat mens doodgaan? Is daar dalk ‘n beklemmende, angstige laaste oomblik wanneer mens besef dat dit die finale uitgang is? Of dalk ‘n magtelose gelatenheid om net die laaste oomblik te laat gebeur en afgehandel te kry? Amper soos voor ‘n sprong in ‘n donker poel water in.
Oupa, Oupie, Vadertjie, Oom. Dis hoe Pa ook genoem is. Maar nou skryf ons Wyle vooraan. Dis ‘n bietjie onwerklik want ons sien nog Pa se gesig op fotos, ons onthou die staaltjies, die blymoedigheid, die gelag en harde pratery, die koffie-en-beskuit-kuiers, die roomys-etery, die groen koeldrank en die ewige geneurie.
Pa se kleindogter is nou ook getroud. Op haar hartsplek. Was vreeslik mooi en só feestelik. Sy was omring met haar hartsmense. Dit was so ‘n vervullende, innige, vreugdevolle geleentheid. Haar twee oupas en twee oumas sou dit só geniet het. Haar boetie het die mooiste stukkie musiek aanmekaar gesit vir haar openingsdans. Dit was vir ons twee só, só spesiaal. Om boetie en sussie so te kan gadeslaan en stom te raak van trots en tevredenheid.
Pa se kleinseun is ook nou ingeskryf by die universiteit. Ons kan sien hoe ontluik die nuwe vooruitsigte. Soos ‘n blom wat begin oopgaan. Die ontsluiting van gawes en vermoëns, die ontstaan van nuwe verhoudings en die ondersoek na nuwe opsies en moontlikhede.
En na alles het ons weer teruggekom Dorsland toe. Want ons hoort mos iewers. Na Swakopmund toe. Hier waar die warm woestyn en die koue oseaan ontmoet. Met net ‘n klein klompie mense en hul dorpie tussenin.
Na omtrent ‘n jaar. ‘n Jaar propvol ervarings en belewenisse. ‘n Selfopgelegde sabbatsjaar. Ons is effens onseker oor die toekoms, maar ons is vir geen oomblik spyt oor ons besluit ‘n jaar terug nie.
Ons het mekaar nog beter leer ken, ons het weer gegroei, ons verhouding met ons Skepper het verdiep, ons praat weer baie met mekaar, ons het weer die weelde van eenvoud ontdek, en ons het baie vriende sonder name gemaak. Ons lééf weer. En ons kan beaam: Reis is die enigste uitgawe wat jou ‘n ryker mens maak.
Ek het vir die laaste tyd nie meer geblog nie, Pa. Want ons het nie gereis nie. Ek het wel ons reiservarings opgeteken en ‘n boek daarvan gemaak. Die boek is uit. Nie vir kinders is as ‘n e-boek beskikbaar op platforms soos Amazon (https://www.amazon.com/dp/B079ZB692P) en Smashwords (https://www.smashwords.com/books.view/795054).
En nou het ek besluit om weer te begin blog, Pa.












