Atletiek is een van my gunsteling sportsoorte om te kyk. In ‘n waas van bewondering staar ek na atlete se buitengewone talente en vermoëns. Die gespierde lywe hou my nederig. Spoed het ek nie, ek kon nie eintlik ver of hoog spring nie, draf het my gou moedeloos gemaak, paalspring het nog altyd bonatuurlike konsentrasie en tegniek vereis en vir diskusgooi en gewigstoot het ek zero aanleg.
Maar ek kan stap. Ente. Sonder om moedeloos of verveeld te word, gou dors of klaerig te raak.

Anders as draf is stap nie vir my stamperig nie. Stap laat mens se lyf nie skud en dril nie. Ek het nog nooit ‘n stap-besering opgedoen nie, maar ek weet van baie drawwers wat met allerhande kwale sit. Trouens, enige beweging van die menslike lyf vinniger as stap is potensieël onveilig en kan lei tot ongelukke en beserings. Stap daarenteen, is veilig en skadeloos. En mens kan orals stap.
Stap is vir my terapeuties. Stap bring vir my kalmte en berusting. Bring orde en beheer oor my gedagtes. Ledig my agendas. Zen my.
My liefde vir stap het ‘n waarskynlike oorsprong in skaapbymekaarmaak. As kind was dit vir my avontuur. ‘n Eerlike, nuttige rede om in die veld te wees. Jy soek skape, maar sien plante, klippers en uitsigte raak. En ‘n vlakhaas of steenbok wat skielik opspring en weghardloop hou jou sintuie skerp. Jy sien spore en probeer dit eien, jy tel ‘n reuk op, die muggies en vlieë zoem om jou ore. En dit alles gebeur terwyl jy ‘n trop stomme, onnosele skape in ‘n rigting kry. Alles, ‘n eenvoudige, reinigende proses.
Staproetes was vir my ‘n groot onbekendheid tot in my universiteitsjare, totdat ek agtergekom het dat mens kan stap vir doelbewuste ontspanning. My North Star tekkies, my Kampmaat slaapsak, en my onpraktiese seilrugsakkie was genoeg om die Bolandse berge en die tuinroete se kus en woude te verken.
Later het my arsenaal stapbykomstighede uitgebrei. Die skoeisel het deesdae ‘n windgat naam, die lang sokkies het teruggesak tot onder die enkels, en die rugsak het ‘n dosyn klein wegsteekplekkies gekry maar is vol ligter as die leë seilsak van destyds. Dan is daar sonbrandgoed en ‘n kep, ‘n kamera, ‘n waterbottel, en soms ‘n ipod. Alles om die siel te suiwer.
My liefde vir stap het ook familiebande.
Met sy naderende 88ste winter, sit die klere aan sy lyf bietjie losser. Sy lyf is bietjie krommer, sy treë bietjie korter. Ook is die ente korter. En al neem dit hom al hoe langer om te stap, bly hy lief daarvoor. Elke keer vertel hy van die klein goedjies wat hy gesien het, hoe bevoorreg hy is om nog te kan stap. Stap bly vir hom ‘n waarderende ervaring. Toe hy een oggend na sy stap langs die see terugkom, sê hy dat hy wens hy kon al die mooi van die oggend in ‘n koffertjie sit en dan later weer stukkie vir stukkie uithaal om te geniet en bewonder.

Ek gaan aanhou stap, soos hy. Om die siel te suiwer. Om te verken en te bewonder. Om te ervaar. Om te louter.
Jy het baie mooi hier geskryf, maar veral jou laaste paar sinne. Dit som alles op, in soveel diepte.
LikeLiked by 1 person
Het lekker saam met julle gestap in die Visrivier. Miskien doen ons dit eendag weer.
LikeLiked by 1 person
Ai hoe verlang ek nou na dinge wat ek nie weet nie. Stap was ook nog altyd deel van die Venters se lewens – baie plekke gesien en herinneringe opgebou
xx
LikeLiked by 1 person