Dak oor my kop

Om ‘n dak oor jou kop te hê, is om voor dankbaar te wees. Altans, so is ons geleer toe ons ook geleer is om te bid vir die mense agter die Ystergordyn. Eintlik was dit ‘n mondvol. Want dak was ‘n versamelnaam. Dak het die hele huis met al sy geriewe ingesluit. Lopende water, warm beddens, ligte en krag, klerekaste en bêreplek, tafels en yskaste en spense vol kos. 

Daar was nie duidelike onderskeid in my kinderverstand tussen dak en plafon nie. Ons wou graag aan die dak raak. Daar het ‘n spinnekop teen die dak gesit. Rondom die lig, teen die dak, het die goggas in die aand versamel en ‘n geitjie hulle bekruip. Plafon was die binne-dak van die huis. 
Twee weke gelede werk ek in die garage, ek wou ‘n haakplek aan een van die dakbalke maak om iets op te hang. En daar val ek van die leer af. Hospitaal toe. So vanuit die ambulansbedjie bekyk ek die dak van die voertuig. Naak, sonder bekleedsel. Net hangplekke vir druppe en buise. By die hospitaal skuif ek oor op ‘n bed met wiele, vanuit waar ek nou die hospitaal se dak bekyk. Skerp ligte, en die dak bestaan uit oninteressante blokke, elk met sy eie raam. Die gange is wyd, en ek kan die personeel se gesigte van onderaf bekyk. 
Die been is af. Maar die swelsel te groot vir onmiddellike behandeling. Operasie is onvermydelik, skroewe om die breuke te heg. Ek slaan my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom?
Takties word die nuus gebreek. Whatsapps en boodskappe vlieg rond. Sterkte. Ja-nee oor-vyftig klim mens nie meer op ‘n leer nie. Ek slaan weer my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom? Wat is die ouderdomsbeperking op leerklim, wonder ek. 
Ek leer die dak van die hospitaalkamer goed ken. Dieselfde blokke en rame. Ligte van verskillende hoeke en sterkte. Gordynreëling wat in ‘n halfmaan om my bed loop. Langs my staan ‘n piepende masjien met druppe en buise. Die laaste maal wat ek so lank aaneen opwaarts gekyk het, was as ‘n kind. Op die gras, na wit wolke wat teen die blou hemel verbyskuif. Ek begin dwarsdeur die dak kyk, na die hemel daarbo. Grensloos uitgestrek, soos ‘n groot blou sambreel.
En ek begin wonder hoeveel mense leef met ‘n dak oor hul kop. Of hoeveel mense leef sonder ‘n dak oor hul kop? En hoeveel beperk hul lewens met dakke oor hul kop. Dakke wat hul beperk om nie meer op lere te klim nie. Dakke wat hul verhoed om na die wolke te kyk. Dakke wat hul verhoed om hul oë op te slaan en te wonder waar hul hulp vandaan sal kom. 

Agter die Ystergordyn

 

 

Die eerste Chinees wat ek ontmoet het se naam was Bruce Lee. Deur middel van ‘n fliek, Enter the Dragon. Op ‘n 35mm projektor met ‘n pouse tussen ‘n eerste en ‘n tweede helfte. Pouses was bekend as Intermissions en is gebruik om die filmrolle om te ruil terwyl ons koeldrank en eetgoedjies kon koop by die kiosk. Met Bruce se seningrige, swetende kaalbolyf op ‘n plakaat teen die muur bokant my bed in ‘n koshuiskamer was ek veilig en vreesloos.

Vir lank het ek gedink dat die gemiddelde Chinese man bonatuurlik fiks en so rats soos ‘n kat is. Danksy Bruce het ek gedink dat ‘n Chinese man jou teen die spoed van witlig kan plat klap, ‘n sammersol agteroor kan doen en veilig op ‘n enkele baksteen kan land – als in een beweging.

Volgens die Suid-Afrikaanse Kinder-ensiklopodie, en beaam in Kennis, het die gemiddelde Chinese vrou vervormde klein voetjies gehad as gevolg van ‘n ydele poging om petite en aantreklik te bly. Later het nog wanindrukke oor Chinese bygekom: Die Rooi Gevaar en die skaduwee van kommunisme, rondreisende dominees het gruverhale vertel oor gemartelde sendelinge. Hollywood het Chinese uitgebeeld as opperskelms met koelbloedige kartelle. Ek, en baie ander kinderkranskinders het gereeld gebid vir die mense agter die Ystergordyn – ‘n vae sambreelterm vir alles wat verkeerd was op die Asiese vasteland.

Toe betrek die Chinese vreedsaam die Afrika vasteland in onlangse jare. Hulle werk soos miere, wen tenders van superkonstruksies, en vestig winkeltjies op plekkies soos Gochas en Kamanjab. En die voorblaaie berig oor smokkelhandel, konneksies met renosterstropery, belastingontduiking, bande met korrupte leiers en onwettige transaksies.

IMG_9087

 

Te midde van ons agterdog oor die Chinese besluit ons seun om Agter die Ystergordyn te gaan werk. En ons gaan kuier vir hom in Shanghai – ‘n stad met meer as 24 miljoen mense. Lees net gou weer: 24,000,000 mense. Dis die helfte van Suid-Afrika se bevolking en twaalf maal meer mense as in die ganse Namibië.

In een stad.

Alles werk. Ten spyte van die ontsaglike grootte en mensegetalle. Geen kragonderbrekings, geen watertekorte, geen onveiligheid, die verkeer is ordelik, openbare vervoer is stiptelik en toeganklik.

IMG_9778

Dis ‘n mooi stad – met skoon strate, gesoom met goedversorgde bome. En die lente word gevier met uitbundige blomme in potte, bakke en beddings in die middel en langs die strate, in parke en op openbare oop ruimtes. Saans word die geboue versier met gekleurde liggies. Ter wille van almal se plesier.

Saterdae en Sondae is maar net nog dae op ‘n Chinese almanak. Niemand word toegelaat om vuurwapens aan te hou nie. Polisie is altyd sigbaar en behulpsaam. Geen dronk persoon verskyn op straat nie.

Bedelaars en boemelaars bestaan nie. Geen graffiti. Die afwesigheid van werkloosheid en sosiale verval is opvallend. Misdaad is ‘n rariteit. Om vir so baie mense so ‘n hoë kwaliteit lewe te waarborg is eenvoudig indrukwekkend.

dsc_0061

Maar so ‘n groot konsentrasie van mense is vreesaanjaend. Al is die een-kind-per-gesin-beleid nog van toepassing, word China se bevolking steeds meer. En al het Chinese die meeste fietse in die wêreld, vrees ek die dag wanneer elke Chinese gesin, soos die gewone Amerikaanse gesin, ook meer as een kar het.

Tans bly groei die Chinese ekonomie gewillig, en is daar nog baie ruimte vir verdere groei. Maar die somme is eenvoudig – omtrent een-vyfde van die wêreld se bevolking woon in China. Die Chinese ekonomie is reusagtig en is besig om nog groter te word. Teen ‘n geweldige tempo.

IMG_9773

Wat in China gebeur, plaas druk op natuurlike hulpbronne, nie net op sy eie nie, maar op die wêreld s’n. Dis hoekom Chinese uitwyk na ander lande met baie, en ongetapte, hulpbronne. Waar daar nog leë ruimtes en baie moontlikhede is. Waar daar spasie en geleenthede is.

Deesdae se probleme Agter die Ystergordyn lyk bietjie anders as die probleme waaroor ons in die kinderkransklasse gebid het.

dsc_0205

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg