Dak oor my kop

Om ‘n dak oor jou kop te hê, is om voor dankbaar te wees. Altans, so is ons geleer toe ons ook geleer is om te bid vir die mense agter die Ystergordyn. Eintlik was dit ‘n mondvol. Want dak was ‘n versamelnaam. Dak het die hele huis met al sy geriewe ingesluit. Lopende water, warm beddens, ligte en krag, klerekaste en bêreplek, tafels en yskaste en spense vol kos. 

Daar was nie duidelike onderskeid in my kinderverstand tussen dak en plafon nie. Ons wou graag aan die dak raak. Daar het ‘n spinnekop teen die dak gesit. Rondom die lig, teen die dak, het die goggas in die aand versamel en ‘n geitjie hulle bekruip. Plafon was die binne-dak van die huis. 
Twee weke gelede werk ek in die garage, ek wou ‘n haakplek aan een van die dakbalke maak om iets op te hang. En daar val ek van die leer af. Hospitaal toe. So vanuit die ambulansbedjie bekyk ek die dak van die voertuig. Naak, sonder bekleedsel. Net hangplekke vir druppe en buise. By die hospitaal skuif ek oor op ‘n bed met wiele, vanuit waar ek nou die hospitaal se dak bekyk. Skerp ligte, en die dak bestaan uit oninteressante blokke, elk met sy eie raam. Die gange is wyd, en ek kan die personeel se gesigte van onderaf bekyk. 
Die been is af. Maar die swelsel te groot vir onmiddellike behandeling. Operasie is onvermydelik, skroewe om die breuke te heg. Ek slaan my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom?
Takties word die nuus gebreek. Whatsapps en boodskappe vlieg rond. Sterkte. Ja-nee oor-vyftig klim mens nie meer op ‘n leer nie. Ek slaan weer my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom? Wat is die ouderdomsbeperking op leerklim, wonder ek. 
Ek leer die dak van die hospitaalkamer goed ken. Dieselfde blokke en rame. Ligte van verskillende hoeke en sterkte. Gordynreëling wat in ‘n halfmaan om my bed loop. Langs my staan ‘n piepende masjien met druppe en buise. Die laaste maal wat ek so lank aaneen opwaarts gekyk het, was as ‘n kind. Op die gras, na wit wolke wat teen die blou hemel verbyskuif. Ek begin dwarsdeur die dak kyk, na die hemel daarbo. Grensloos uitgestrek, soos ‘n groot blou sambreel.
En ek begin wonder hoeveel mense leef met ‘n dak oor hul kop. Of hoeveel mense leef sonder ‘n dak oor hul kop? En hoeveel beperk hul lewens met dakke oor hul kop. Dakke wat hul beperk om nie meer op lere te klim nie. Dakke wat hul verhoed om na die wolke te kyk. Dakke wat hul verhoed om hul oë op te slaan en te wonder waar hul hulp vandaan sal kom. 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg