Wat is die einddoel wanneer jy bergklim? Om die spits te bereik en ‘n vlag te gaan hys of ‘n selfie op die spits te neem? Doen jy dit omdat almal dit doen of gaan soek mens iets – jouself, selfvertroue of iemand anders? Of is die einddoel van bergklim bloot om weer heelhuids onder te kom en te kan vertel dat jy dit al gedoen het?

Rinjani is 3726m hoog, die tweede hoogste van Indonesië se 129 aktiewe vulkane. Voorheen was Rinjani glo heelwat hoër. Na ‘n hewige uitbarsting in 1257 het ‘n groot deel van Rinjani verdwyn. Net ‘n kraterrand, die caldera, van ongeveer ses tot agt kilometer in deursnee het oorgebly. Die rand van die krater vorm ‘n kegel met ‘n lawaput in die middel. Bo-op die lawaput is ‘n kleiner vulkaan, bekend as Gunung Baru. Laasgenoemde word omring met ‘n niertjievormige kratermeer, bekend as Segara Anak, op die bodem van die caldera.
Rinjani het laas in 2010 geroggel, maar nie tot uitbarsting gekom nie. Toe die ou grootman in 1257 sy keel skoon gemaak het, was die weer wêreldwyd oor ‘n tydperk van twee jaar daarna koeler. Hiervan getuig sulfate wat in die yslae van Antarktika gevind is. 1257 was dalk nie die regte jaar om Lombok te besoek nie, vermoed ek. Liewer 2017.
Die staptog na Rinjani se spits begin van die Senaru kant, dis glo die makliker deel.
Eers net ‘n paar verduidelikings: Die ouens wat die kaartjies vir so ‘n staptog verkoop is baie meer geïnteresseerd in die verkope as om inligting oor die staptog uit te gee.
Eers by ons basis besef ons dat die eerste nag se akkommodasie spartaans basies is. Ons badkamer is ‘n nat hok uitgerus met net ‘n toilet en ‘n verlore kouewaterstortkop. Geen wasbak, geen spieël, en die toilet word gespoel met water in ‘n skepding uit ‘n groot kantien water. Is dit dalk doelbewus so beplan om mens sielkundig voor te berei?
Ons besef ook dat ons winterklere moet hê omdat dit bitter koud raak bo-op die berg. En kopflitsies vir die gedeeltes wat ons in die nag moet loop. En dat ons bogemiddeld fiks moet wees. Huh?

Die res van ons groepie is ewe bekommerd oor die nuwe inligting. Daar is twee gidse, vier portiere en dan ons stappers. ‘n Duitse en Oostenrykse paartjie, ‘n Fransman, Italianer, Chileen, en ‘n Hollandse meisie – almal onder dertig – en ons twee middeljarige Namibiërs. In die naam van internasionale eenheid begin ons die staptog. Lus het mos nie brieke nie.
Die aand voor ons staptog hoor ons van ons Liefkind se verlowing. Daar kan seker nie beter nuus wees vir ‘n ouer as om te hoor dat jou gesin gaan uitbrei met nog ‘n kind nie. Ganse van dieselfde dam. Ons hoor van hulle mooi oomblik, en ook hoe hulle saam gebid het. Ons harte is warm, en ons wange nat.
Die eerste ent van die staptog is op ‘n geplaveide, en toe ‘n sementpaadjie, tussen koffie- en kakaoplantasies deur. Heel gemaklik. Sement gaan oor in grond en die plantasies gaan oor in ‘n woud. Dis bedompig, die paadjie raak merkbaar steiler, sweet begin uitslaan, ons hyg en elke stop is ‘n gawe blaaskans. Kameraderie ontwikkel.
Fransman raak die siel van die groep. ‘n Jongman met ‘n bedrywige reisgeskiedenis. Het al by ‘n Moeder Teresa huis vir gestremde kinders in Indië gewerk, skoolgehou in Kambodja, en is tans ‘n trokdrywer in Australië. Altyd ‘n grappie en die musiek wat uit sy rugsak kom, hou ons aan die gang.

Die paadjie raak al hoe steiler, en toe ons halte maak vir middagete begin dit reën. Die Dorslanders het gelukkig reënjasse byderhand, maar van die ander ouens raak nat. Na middagete sit ons die tog in ons reënjasse voort. En in modder. Dis glibberig en nat en die reënjasse laat ons sweet soos perde. Modder en sweet – ideale kombinasie om ons uithouvermoë te toets.

Naby aan ons eerste kampplek, breek ons deur die wolke. Alhoewel ons weer sonlig het, is dit Racheltjie de Beer weer. Almal is op soek na droë en warm klere. Dit word donker en nog kouer. Die tentkombuis word ons skuiling, ons eet en kuier teen die koue. Een van die gidse sny sy vinger raak en ons Fransman kom tot die redding. Die pasiënt raak flou van die bloed, ek stop hom suikerwater in.
Genoeg gebeure vir die dag; kom ons gaan soek skuiling in ons eie tente teen die koue van die nag.

Dis ‘n onstuimige nag van koue en wind. Nie die mees geskikte plek om ‘n sagte nagrus te waarborg nie; die grond is baie skuins en bitterlik hard. Met ontbyt hoor ons dat die ander ouens ook sleg geslaap het, styf is en nie genoeg droë en warm klere saamgebring het nie. Die Duitse paartjie besluit om terug te draai, maar ons ander sit die voete neer, verder die hoogtes op. Rinjani moet getem word.

Gedeeltes van Rinjani bestaan uit kwartsiete, maar die hoër dele is omtrent geheel en al bedek met basalte en vulkaanpuin. Dit veroorsaak dat die paadjies se oppervlakte òf los òf klipperig is. Moeilike terrein. Maar die uitsigte is mooi, ons bene bly gewillig en die ruskanse word al hoe meer waardeer.

Eers bereik ons die kraterrand, en sak dan weer af na die binnekant van die caldera. Ons sien vir Gunung Baru, die kleiner vulkaan in die middel van die caldera, en die kratermeer.
Gunung Baru rook en stoom onrustig, soos ‘n bedonnerde dwerg. Lawa van sy vorige uitbarstings waaier as ‘n delta tot binne-in die kratermeer uit.

Aan die buitekant van die caldera syg daar ‘n warmwaterbron. Die temperatuur van die water is net reg vir teemaak, maar die hoë swael-inhoud verhinder ons om wel tee te maak. Vir ons lywe bied die warmwater darem ‘n welkome badkans, na ‘n swem in die koue water van die kratermeer.

Tyd vir middagete langs die meer. Tot ons ontsteltenis is ons nou weer verder van die spits af. Die klim is ook baie steiler, en die terrein nog rowwer as tevore. Ons bly moedig, al raak dit vermoeiend op die bene en elke opkyk ‘n foltering.
Dis sulke tye wat ek lank en diep dink oor epiese ervarings. Aan ander ouens se stories, hul reisverhale, kamptoere, gesinsvakansies. En iewers skop die bedwelming van hierdie herinneringe in en neem my verder. Hoër in hierdie geval.

Hoog is dit inderdaad want ons eindig by die hoogste kampplek op die kraterrand, vanwaar ons na die spits toe moet stap.
Intussen het My Lief vir ons groepie ‘n naam gekry. Die Summiteers.

Hierdie keer is die tente effens meer beskut teen die wind, maar dit word snags koud en die grond is weer skuins en hard. Baie ander spanne klimmers kamp ook hier. Om die spits te bereik teen sonsopkoms, en veral om nie te wedywer met hope ander klimmers nie, moet ons vroeg opstaan. Die nagrus is hard, koud en kort. Twee-uur word ons wakker gemaak met tee en koekies. Dis koud en donker. Laag-op-laag voorkoms.
Ek dink aan Robbie Wessels. Kopflitsie, harnas, check. Bravo 1, Bravo 1 wat is jou posisie? Ons begin ons laaste strek. Aanvanklik ‘n geleidelike klim, dan skielik baie steil met erge los grond.
Puinsteen.
Pynsteen.
Pyn en steun.
Die kraterrand bestaan omtrent geheel en al net uit vulkaanpuin. Dis soos om Duin Sewe of Big Daddy te klim, met die verskil dat dit in los, stowwerige grond met baie klippe is. Die roete volg nou stiptelik die kraterrand, weerskante tuimel die afgronde die donker dieptes in. En ons swoeg. Tree vir tree. Rus. Asemskep. Die lug raak al hoe dunner en die grond al hoe losser. Moeisaam kruip ons hoër. Ons kyk terug. Agter ons kruip honderde kopflitsies soos ‘n vuurvliegie-duisendpoot teen die kraterrand op.
Teen sesuur bereik ons die spits. En word waarskynlik die eerste Namibiërs wat dit gedoen het. Die son dreig om sy gesig oor die wolkelaag op die horison te wys, terwyl ‘n yswind waai. Ons probeer skuiling soek, want dis klappertandkoud. As ons gaan wag totdat die son uit is, gaan ons verkluim.

Ons neem ‘n foto of twee, en begin liewer die tog afwaarts voordat ons verkluim.
Afstap is soveel makliker en gouer. Op ons terugpaadjie kom die son oor die wolke uit en ons stop. En bid vir ons twee kinders wat wil trou.

Toe gly ons verder afwaarts tot by die kamp.
Ons kom honderde ander klimmers tee, hulle is nog op pad boontoe. Hulle hyg en blaas, ons praat moed in, en gly weer verder.

By die kamp kry ons ontbyt en gooi die ergste grond uit ons skoene. Die Summiteers is almal asvaal van die stof.
Ons saal weer op en begin die afwaartse tog. Gly-gly, briek-briek. My bene raak jellierig, en ek en die drie vrouens in ons groep stap heel agter. Een van die gidse hang besorgd terug. By elke rusplek gooi ons grond uit ons skoene, en laat ons moeë voete bietjie asemhaal. Bekommerd sien ek hoe my groottoonnaels blou verkleur. Ons drie het goeie tye saam gehad die laaste paar jaar.

As daar nie duidelike antwoorde is oor die doel van bergklim nie, hoekom wil mens dan ‘n krater uitklim? Na Rinjani het ek nogsteeds nie antwoorde nie, en dis beslis nie die gemaklikste terrein vir ‘n selfie op die spits nie. En ons het Rinjani ook nie geklim omdat almal dit doen nie. Ons het ook nie iets gaan soek nie. Heelhuids was ons ook nie. Maar dit was ‘n ervaring wat hope herinneringe gekweek het.

Vieruur, die namiddag, word ons opgepik by die eindpunt van die staproete, agterop ‘n bakkie. Ons kronkel op ‘n paadjie tussen honde, hoenders, koeie en kinders deur tot by die plek waar die res van ons bagasie gestoor is. Ons neem afskeid van die ander Summiteers, klim in verskillende taxis en vertrek na die onderskeie plekke van verblyf.
Op pad klim ons weer oor na ‘n ander taxi. Dié kry ‘n papwiel, en ons klim weer oor na ‘n ander taxi. Halfnege, die aand, klim ons in Kuta Lombok af en begin blyplek soek.
By een van die volbespreekte plekke waar ons aanklop, is die gasheer so ontfermend dat hy sy seun, met my agterop sy motorfiets, stuur om vir ons blyplek te soek. Ons eindig by Kuta Bay Homestay. Daar is warmwater in die badkamer en ‘n dubbelbed met wit lakens. Ons boek in.
Toe ons die aand tussen die wit lakens inklim, wonder ons: Is dit nou die eintlike eindpunt van ons staptog? Wat was die einddoel van ons bergklim?