Die bruin Chev in die middel

‘n Geldige lisensieskyfie en sy geel nommerplate is die stille getuienis dat die Chev in ‘n lopende toestand is. Omtrent net die bande en die voorruit van die Chev is nog in ‘n gangbare toestand. Die bakwerk is besmeer met body putty en ‘n dik laag roesbruin verf, die sitplekke is voos gesit, en ‘n laag opgehoopte rommel lê kniediep oor die hele binnekant van die Chev gestrooi. Op die bestuurder se rugleuning sit ‘n bejaarde, oorgewig basterbrak. Sy langhaar, kaalvoet baas staan en gesels met twee ander manne, in ‘n onmiskenbare Suid-Afrikaanse Engelse aksent. 

Die onderwerp waaroor hulle gesels het duidelik niks te doen met die ware op die tafeltjies rondom hulle nie. Huisraad uit die sewentigerjare, ‘n paar stukkies ou gereedskap, langspeelplate, hangers met tweedehandse mansklere op ‘n selfgemaakte pypraam, drie Tretchikoff afdrukke, ou elektriese apparate met onbekende gebruike, verskillende soorte batterytjies en twee Volksie agterligte vorm die somtotaal items wat te koop is. Langsaan is ‘n uitgebreide reeks ou militêre toerusting op die grond uitgepak. Oorkant die Chev staan ‘n Mercedes uit die tagtigs, toegepak onder boeke.

Die stalletjies is omtrent in die middel van die Milnerton Mark. Die markie lê styf teenaan die pad al langs die windverwaaide kus net noord van die hawe van die Moederstad. Milnerton Mark is ‘n lang, uitgestrekte bedrywigheid met ‘n baie groot verskeidenheid goedere en besoekers wat ewe uiteenlopend is. Hier is hipsters, hippies en hobos, tieners, tannies en troebadoere, afgetredenes, armes en aspirant entrepreneurs. In Duits verwys mens na só ‘n mark as ‘n Trödelmarkt. Trödel kan losweg vertaal word as stront. ‘n Groot versameling goedere wat mens nie eintlik nodig het nie.

Behalwe kerkbasaars en vendusies was my blootstelling aan markte op ‘n jong ouderdom redelik beperk. 

Kerkbasaars was die jaarlikse toets van die gom wat ons klein gemeenskappie aan mekaar gebind het. As iemand weggebly het, was dit net oor siekte of dood. Dan het Dominee sommer vir die afwesiges gebid tydens die opening met Skriflesing en Gebed. Ook die katolieke en luthers het ons kerkbasaars bygewoon. Een van die lutherse seuntjies het eenmaal tydens Dominee se gebed die rooi trekkertjie wat ek wou koop onder my hande gegaps en deel van sy voorgenome aankope gemaak. Ek moes in afgryse kyk hoe hy die rooi trekkertjie met sy basaarkoepons betaal. Maar ek het kalm gebly, want kerkbasaars het gegaan oor ‘n goeie saak.

Vendusies het in verskillende gedaantes gekom – vetveeveilings, stoetveilings, losgoedere-veilings, boedelveilings, staak-boerdery-veilings en dan die alewige fondsinsamelingveilings, elkeen met sy eie karakter. Vendusies was die sambreelterm, terwyl die woord veiling verwys het na die vertoning van ‘n afslaer. Afslaers was kleurryke mense, gerespekteerd en met ‘n soort aanhang. Menigmaal het die afslaer die sukses van ‘n vendusie bepaal. Datums van vendusies was ingeskryf op die almanak agter die deur, veilings was net ‘n item op die vendusieprogram. 

Vir my was vendusies ‘n ontdekkingstog, ‘n reis in die kleine. Eerstens moes ons daarheen reis. Soms was die reis so ver dat ons padkos moes saamneem. Ons het by plase met lekkersê name verby gery, soms was dit ‘n nuwe omgewing, selfs ‘n dorp wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Maar dis eintlik die items wat te koop was wat my op ‘n verbeeldingsreis geneem het. Elke liewe item te koop het ‘n storie gehad, ‘n onvertelde verhaal. Elke liewe ding het voorheen aan iemand behoort, was waarskynlik op ‘n tyd mooi – selfs onweerstaanbaar – vir iemand, het waarskynlik ‘n spesiale plekkie, doel of betekenis gehad. En ek het gewonder oor die eienaars, die huishoudings waar dit gebruik was, en die tyd toe dit in gebruik was.

Kerkbasaars en vendusies is deesdae skaarser. Waarskynlik ook ongewilder. Markte, aan die ander kant, is immergewild. Milnerton Mark is so ‘n plek. Daar is stalletjies met losgoedere, gereedskap en onnodige items – net soos op ‘n vendusie, en kosstalletjies en tuisgemaakte goedere net soos op ‘n kerkbasaar. Ek stap tussen die groot verskeidenheid stalletjies deur en ek kyk na die mense van die Reënboognasie.

Met ‘n sakkie nuwe ou boeke in die hand, en terwyl ek weglê aan ‘n roti met ‘n kerriehoendervulsel, kry ek ‘n blik op Suid Afrika se mense, sien ek hoe hierdie gekneusde land se verlede en hede bymekaarkom. Hier op die Milnerton Mark. 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg