My wakkerword is eers nadat ek geland het. Ek en die muur lê saam in die gang. Ons private kajuit is nie meer so privaat nie. Ligte gaan aan en die skipper vra gesteurd wat aangaan. Te verstane, dis immers twee-uur in die nag. Het ek seergekry? Nee darem nie, al het ek op ‘n hardhandige manier wakker geword. Die see is rof, en ons boot beur onverpoosd voort, op en af oor die wilde deinings van die Stille (?) Oseaan. Oor een só ‘n deining is ons matras van die bed geswiep, en ek is deur die lug, reguit dwarsdeur die laaghout wat ons muur met die gang vorm. In Chuck Norris styl. Wou so iets nog altyd doen, maar hierdie slag was dit effens onwillekeurig.

Kom ek begin by die begin. Ons is per boot op pad vanaf Bangsal op Lombok eiland na die Komodo en Flores eilande. Die boot is redelik basies, soos meeste dinge in Indonesië. Twee kajuite en twee dekke met slaapplek vir ongeveer 30 passasiers. Drie etes per dag; stoppe vir snorkel en swem en ‘n stop in die Komodo Park, waarna ons baie uitsien; drie nagte en vier dae reis vanaf Lombok na Flores; finale stop in Labuan Bajo.
Na Rinjani was ons onmiddellike behoefte net om tot verhaal te kom. Twee dae na die stap het ons nog geskrop om die vulkaan se stof van ons lywe te kry. Asook Rinjani se stof uit ons klere, skoene en rugsakke te kry. Kuta Lombok was ons halte vir herstel.

Kuta is nie ‘n plek van buitengewone skoonheid nie. Dus was ons verras met Kuta se gewildheid onder toeriste. Vermoedelik is die rede die volop mooi en weggesteekte strande rondom Kuta, veral die strande wat bekend geraak het onder branderplankryers. Ons het genoeg tyd gekry om dié strande te gaan deurkyk, per poegie.

Motorfietse is die algemene manier van vervoer hier, só algemeen soos twee-kleur hemde by ‘n vetveeveiling. Jy sien kinders ry, gesinne ry, aflewerings wat gedoen word, vrag wat vervoer word, en natuurlik toeriste. Almal op motorfietse. Honderde van hulle. En op een van hulle het ons twee in die omtes van Kuta Lombok gery, sonder rybewys en sonder ‘n helm.

Op Kuta se strande kan jy rondhang, swem, stap en kyk na ander ouens wat dieselfde doen of miskien branderplankry. Jy kan ‘n plaaslike eetwinkelkie, bekend as ‘n Warung, ondersteun vir ‘n Nasi Goreng. Nasi is rys. Of ‘n Mie Goreng. Noedels. Voeg daarby ‘n koue Bintang en jy ken van die belangrikste woorde in Indonesië.
Om met ‘n boot na Flores te reis, moet ons eers vanaf Kuta na Bangsal, die bedrywige hawe van Lombok. ‘n Afstand van omtrent 80km in swaar verkeer en bo-oor ‘n berg of twee. In Bangsal wag ons in die Lombok Café, saam met honderde ander toeriste, vir ons onderskeie bote na een van die sewentien duisend eilande van Indonesië.
Kommunikasie en die deel van inligting is nie juis waarom Indonesië bekend is nie, en dit vereis dat ek minstens drie kere moet vra oor ons vertrektyd. Uiteindelik word ons geroep, en ek moet bieg dat ons soos uitverkorenes voel.

Ons kry ‘n kajuit bo. Bo beteken direk bo-op die enjinkamer, reg agter die skipper se sitplek. Ons het ‘n venster en ‘n halsstarrige deur. En dan die laaghoutmuur wat skeiding tussen ons en die gang bring. Privaat dus. Wel, in Indonesiese terme.
Die bed bestaan uit ‘n platform waarop ‘n dubbelbedmatras met bont beddegoed lê. Hier begin ons uitdaging – snags skaats die matras, met ons twee daarop, onbeheersd rond op die platform. My poging om die matras met ons rugsakke te stut, is duidelik onsuksesvol want ons gly met elke deining heen-en-weer. En dis hoe ek toe dwarsdeur die muur geval het.

Die mede-passasiers is almal jonger as ons. Inteendeel, hulle kon ons kinders gewees het. Soos die reis vorder kom die geselsies makliker en meer gereeld, met die gom van ons wanderlust wat ons aan mekaar vasbind. Hier en daar word kontakbesonderhede uitgeruil. En na my val deur die muur, het almal hernieude belangstelling in die twee middeljariges uit Namibië.
Dis ‘n mooi roete. Ons gly langs palmgesoomde strande verby, verby berge met hul spitse bokant wolke en talle klein eilanddorpies. Waar daar ‘n stop is, swem ons. In blousel water.

Saam met ons ry ‘n sustersboot van dieselfde maatskappy, ook op pad na Flores. Die twee stop gereeld onderwegs, en ons maak van elke geleentheid gebruik om te swem en te snorkel.
Eilande, ‘n see wat vlak, warm, helder en kalm is en twee bote. Wat meer kan ons vra?

Tientalle van Indonesië se sewentien duisend eilande skuif langs ons bote verby. Meeste is onbewoond.
By meer as een stop klim ons die koppe daar naby uit om ‘n uitsig te kry oor hierdie mooi deel van die skepping. Ons swem tussen seeskilpaaie en seevlermuise, en anker aan ‘n strand wat rooi vertoon van verweerde rooikorale.

Hoe verder oos, hoe droër die klimaat. Die eilande is ook kleiner en laer. Rondom die kleiner eilande is daar meer seestrome omdat die see se temperatuur oor kort afstande wissel. Op sy beurt veroorsaak die baie seestrome dat dieper water boontoe gedwing word, en saam met dit kom plankton wat die ryk mariene lewe voed. Opwelling, soos langs weskus van suidelike Afrika.

Die laer topografie van die eilande weer, veroorsak dat dit minder reën, ten spyte van ‘n ligging in die ekwatoriale sone.
Hierdie sameloop van natuurlike omstandighede veroorsaak ‘n semi-ariede streek, omring met ‘n baie ryk seelewe.

Die Komodo Park bestaan uit ‘n mariene bewaringsgebied sowel as die blyplek van die Komodo drake, en dit is – reg geraai – ‘n Wêrelderfenisgebied.

Ons boot stop twee maal in die park sodat ons die komodo drake kan sien. Dié drake is eintlik yslike likkewane, maar herinner nogal baie aan dinosourus-speelgoed. Hulle is karnivore, maar ook kanibale. En dodelik. Twee maande gelede is ‘n toeris uit Singapoer gebyt deur een. Eers het hy sy been verloor en daarna is hy oorlede.

Ons sien ‘n hele klomp van die drake, in hul natuurlike habitat, selfs twee wat baklei. Beslis nie die mees geskikte troeteldiere om aan te hou nie.

Na die drake beweeg ons aan – in die rigting van Labuan Bajo, ons eindbestemming.
‘n Skoon badkamer, ‘n behoorlike bed en regte mure is wat ons nou nodig het. In my ore sing Zucchero No Sere Yo. Goeie vooruitsigte.