
Om uit Labuan Bajo te kom, kan mens vlieg na Bali eiland. Of per veerboot en bus ry tot op Lombok eiland. Heelwat langer, baie goedkoper en met gewaarborgde avontuur. Klink vir ons na die perfekte opsie. Ter wille van die ondervinding, maar ook omdat ons op Lombok eiland wil wees en nie op Bali eiland nie.
Om ‘n kaartjie vir hierdie rit te kry, is egter ‘n saak van onsekerheid. Twee dae na mekaar is die kantoor onbeman in die namiddag. Met ons derde poging verskyn ‘n man uit die niet. Die boekie in sy hand lyk niks meer wettig as ‘n fondsinsamelingsboekie nie, nogtans oortuig hy ons met behulp van twee tolke dat dit amptelike kaartjies vir die boot-en-busvaart is.

Die veerboot vertrek in die oggend uit Labuan Bajo se bedrywige hawe na Sape. Betyds daag ons op, met ons verdagte kaartjies, en kry saam met alle passasiers plek op die eerste dek. Sover lyk dit na ‘n wettige affêre.

In die maag van die skip word die vrag gelaai. Lorries vol piesangs, kokosneute en rys, ‘n tenkwa, motorfietse, busse en gewone voertuie, en ‘n trokkie met beeste op.
Ons neem ons bagasie saam met ons na die dek waar al die ander passasiers saamdrom en ‘n sit- of slaapplek probeer kry. Toeriste maak omtrent die helfte van die passasiers op die boot uit.
Dis ‘n rumoerige besigheid. Behalwe dat hierdie bootvaart ‘n goeie toets vir ons geduld en reisfiksheid gaan wees, sien ons dit ook as ‘n wonderlike praktiese klas in Sosiologie. Behalwe dat sommige Indonesiese mans baie hard praat en graag skreeu op mekaar, rook hulle soos skoorstene, wat beteken dat ons boot eintlik lyk soos ‘n raserige stoomboot.
Een van die rokende manne het ‘n kitaar en hy dra skerppuntskoene. So tussen sy sigarette ryg hy die een na die ander minnelied uit. Aan die agterkant van die dek staar die moslem-vrouens onder hul kopdoekies stil na hom en na die TV-skerms wat terselfdertyd blêr. Daar is ook ‘n kroeg, wat al hoe luidrugtiger raak soos ons boot voortbeur deur die golwe.
Met ons aankoms in Sape wag daar ‘n verskeidenheid bussies op die boot se passasiers. Inligting is kripties, maar ons word beduie om die stroom mense te volg en ons vind ons weg tot binne een van die wagtende bussies. Die sitplekkies is klein en styf teen mekaar, en reeds vol mense. Bagasie word op die dak gelaai. Party passasiers ook. Ek sit by die deur, omdat ek nie bo-op of tussen die sitplekkies kan inpas nie. By die deur is daar meer spasie, en ek kan darem my linkerbeen by tye reguit maak. Maar die deur is eintlik die staanplek van twee manne wat die rol van kondukteurs het. Die deur bly oop tydens die rit, en hulle twee hang soos vinke by die deur uit terwyl hulle mense op die pad groet, pakkies oplaai en nog passasiers saamnooi. Die een, met ‘n ongemaklike aanwendsel, klim soos ‘n geitjie op en af op teen die bus se buitekant tydens die rit. Dalk word ons vandag nog ooggetuies van ‘n vermybare padongeluk.
Net voor skemer kom ons aan in Bima waar groter busse op ons wag. Ons kry sitplekke en ons bagasie word oorgelaai, ons koop ‘n eetdingetjie en die bus vertrek in die donker. So donker dat ons niks kan sien nie, maar kan agterkom dat die roete uiters bergagtig moet wees. Ons vorder stadig, en rol heen-en-weer in ons sitplekke soos die bus in en om die stikdonker draaie dreun.
Aan boord is ‘n groot TV-skerm, waarop Indonesië se weergawe van Afrikaans is Groot op DVD vir ons gewys word. Luid. So luid dat van die Spaanse medereisgers later kla. Flink skakel iemand die kanaal oor na ‘n fliek van Rambo. Ek sien dat Rambo ‘n ongemaklike opdrag en ‘n lang nag voor het, maar ek weet Rambo is ‘n raakvatter en maak my oë toe. Rambo sal dit kan uitsort.
Dis ‘n lang, stadige rit. Net na middernag bereik ons Plampang. En soos op ‘n vliegtuig, word ons wakkergemaak vir ‘n ete. Met die verskil dat daar geen personeel is om aandete aan boord te bedien nie. Ons moet uitklim en in rye staan vir ‘n bordjie Nasi Goreng. Rys, twee klein stukkies hoender, groenbone in ‘n lang sous en nog rys. Glad nie ‘n ete om te probeer onthou nie.
Dan weer verder. Die pad het nou minder draaie en bulte en ons slaap effens beter. Totdat die dag breek en ons aankom in Poto Tano aan die westekant van Sambawa. Die slaap was min en onsmaaklik, en ons voel broos. Hier parkeer die bus binne ‘n veerboot se maag, ons klim uit en kry sitplek op die dek van die boot.
Die veerboot vaar tot aan die oostekant van Lombok. Ons klim terug op die bus en ry tot in Mataram aan die westekant van Lombok. Dan in ‘n taxi tot in Senggigi waar ons die laaste paar dae gaan bly. Ons kom teen die middag aan in Senggigi. ‘n Dag en ‘n half later. Met min etes en slaap en bad tussenin.

Senggigi lê uitgestrek langs die westelike kus van Lombok. So ‘n small strook van geboue, strate en strande. Die hoofpad kronkel hier al langs die kus, aan die een kant is daar uitgestrekte strande en aan die ander kant troon die digbegroeide berge. Deftige hotelle en resorts is volop.

Ons gaan tuis by ‘n homestay, effens weggesteek en ‘n klein entjie weg van die hoofpad af. Indah Homestay het ‘n ruim kamer en ‘n ewe ruim bed met wit lakens, ‘n stort onder die sterre en ‘n lieflike tuin waarop al die kamers oopmaak.

Ons kry ‘n poegie en verken die Senggigi se dele langs die kus. Selfs binneland toe, waar ons ‘n draai gooi. Daar is oorgenoeg mooi strande om van te kies. Na ‘n dag begin ons baie hou van Senggigi.

Dit was nog altyd vir my vreemd dat daar dikwels ‘n Italiaanse, Franse, Japanese, Chinese en Mexikaanse, en selfs ‘n Griekse restourant op ‘n plek kan wees, maar nie altyd ‘n ordentlike plaaslike restourant met outentieke plaaslike kos nie. So bly ons soek na ‘n opregte, eerlike Indonesiese restourant in Indonesië. Wat raar blyk te wees, totdat ons die Warung Plaza hier in Senggigi raakloop. Outentieke Indonesiese kos, vol geur en smaak. Drie maal gaan eet ons daar, kyk oor die skouer hoe van die geregte gemaak word en ontmoet selfs die eienares.

So stilletjies besluit ons om eendag weer te kom, as ons kan. Senggigi kry hoë punte by ons. Lombok ook. Waarskynlik sal ons nie weer die rit tussen Labuan Bajo en Senggigi wil doen nie.

Maar Flores is ook ‘n tweede besoek werd. Om Wae Rebo en Kelimutu te gaan kyk.
En dan moet ons ook by Sulawesi uitkom.
Almal plekke meer as ‘n dagreis ver.