Binne in Binnelandse Sake

Vandag is hier min mense, dink ek met die instap. Geen rye nie, net ‘n enkele persoon of drie wat sit op die bankie, wagtende. Agter die glasgordyn is daar meer mense as daarvoor. Hulle lyk almal besig, al maak die dowwe glans en die vetkolle op die glas dit moeilik om die beamptes se gesigte te herken.

Wat is die doel van ‘n glasgordyn? Mens kommunikeer swak deur die enkele gat wat gewoonlik op die verkeerde hoogte sit. Die glas is ook gewoonlik vuil en die prente of notas daarop is omtrent altyd skeef geplak. Maar die slegste ding van ‘n glasgordyn is dat dit skeiding veroorsaak. Verwydering. Geen kontak.

Nietemin, vandag is al die hokke agter die glasgordyn beman en daar kom musiekklanke van agter die glasgordyn. “How great Thou art” speel kliphard uit ‘n selfoon. Ek groet vriendelik en verduidelik dat ek vir ‘n nuwe paspoort aansoek doen. Terwyl ons besig is met die papierwerk, vra ek uit oor die musiek.

“Ons leer die woorde Meneer, want môre is dit begrafnis van iemand wat voorheen saam met ons gewerk het. Sy was lief vir dié lied en ons wil dit vir haar sing by die graf.”

En so leer ek vir Sharon, Rosalia en Lotte ken. Ons gesels in Afrikaans, oor verlof en werksbevrediging, oor vriendelikheid en omgee, en die tydelikheid van die lewe. Sharon maak die papierwerk klaar en sê dan dat ek vyf werksdae moet toelaat. Dis nou om die aansoek in Windhoek te kry, die nuwe paspoort uit te reik en dan die nuwe paspoort af te lewer in Swakopmund. Binnelandse Sake het geweldig verbeter, dink ek met die uitstap.

Twee dae later kry ons tyding dat ons dringend Suid-Afrika toe moet gaan. Weer is ek by Sharon om te hoor oor die vordering met my paspoort. Sy skakel ‘n nommer op haar selfoon. Dan verduidelik sy dat ek geen bekommernis moet hê nie, ek sal dit sommer direk in Windhoek kan optel. Sy gee vir my die selfoonnommer en belowe my dat die paspoort gereed sal wees. Wonderwerke gebeur dalk nog, dink ek.

Op pad Windhoek toe bel ons twee maal die nommer om te vertel hoe ons vorder op pad, en leer vir Max oor ‘n selfoon ken. Ons sien dat ons dalk eers na vyf in Windhoek kan wees, sal hy dan nog op kantoor wees? Geen probleem, ek wag vir julle, verseker hy ons.

Ons kom enkele minute voor vyf in Windhoek aan. Ek moet ver parkeer want die verkeer is woelig dié tyd van die dag. Weer bel ek vir Max. Hy wag vir my. Met die instap by Binnelandse Sake sien ek dat die hokke agter die glasgordyn leeg is, almal is al huistoe. Max kom by ‘n sydeur uit. ‘n Kaalkop man met ‘n bril. Hy kom na my toe met sy regterhand oop en ‘n groen boekie in sy linkerhand. Sy handdruk is ferm. Dan simpatiseer hy met my en wens ons ‘n voorspoedige reis toe met sy hand op my skouer. Wonderwerke gebeur nog, dink ek toe ek met die groen boekie daar uitstap.

Skielik voel ek beter oor die staatsdiens. Veral oor Binnelandse Sake. Hoe bevredigend moet dit nou wees om by die swartskaap van die staatsdiens te werk? En jou werk met soveel toewyding te doen? Maar die omgee en menslikheid maak my stil. En gee my baie padkos terwyl oor die leë vlaktes van die suide gly.

‘n Week of drie gelede het ek weer met Binnelandse Sake te doen. Ek moet ‘n apostiel kry. Dis ‘n dokument wat bevestig dat ‘n ander dokument eg is, in hierdie geval my verlengde geboortesertifikaat. So beland ek weer in Windhoek, want ‘n apostiel kan net in die hoofstad uitgereik word. Deur Justisie. Maar Justisie vind ‘n probleem met my dokument – die naam van die persoon wat die verlengde geboortesertifikaat uitgereik het, is nie op die dokument nie. Goed, ek sal na Binnelandse Sake in Windhoek gaan, dalk kan hulle my help om die eienaar van die handtekening op te spoor. En weer beland ek voor ‘n glasgordyn.

Ek verduidelik my uitdaging aan ‘n jong lenige lat met ‘n groot swartraambril. Ek vra of hy dalk die selfoonnommer van enigiemand in die Swakopmund-kantoor het, want dan kan ons mos ‘n foto van die handtekening whatsapp om te vra wie die eienaar is. Hy neem die dokument en verdwyn agter ‘n deur. Na vyf minute kom hy terug. Ons plan het nie gewerk nie, hy sal liewer ‘n nuwe verlengde geboortesertifikaat uitreik, en hy sal sy naam as verwysing op die dokument invul. Wonderwerke gebeur nog, dink ek.

Met my nuwe verlengde geboortesertifikaat en die ingevulde aansoekvorm vir die apostiel is ek terug na Justisie. Maria verduidelik dat aansoeke net eintlik in die oggend gedoen word, maar sy sal myne inneem. Ons gesels, en ek vertel hoe gaaf die lat by Binnelandse Sake was. Sy is net so vriendelik en belowe dat sy haar beste sal doen om die dokument geteken te kry, gewoonlik neem dit drie dae om ‘n apostiel af te handel.

Oor twee dae is ek terug by haar, want ons moet terug Swakopmund toe. Nee sy het nog nie die getekende apostiel uit die minister se kantoor ontvang nie, maar sy gaan desondanks sekermaak. En na vyf minute is sy terug, met ‘n nat nuwe apostiel in haar hand, rooi seël en al. Weer is ek oortuig dat wonderwerke daagliks gebeur. Water verander nie altyd in wyn nie, maar soms word nuwe dokumente uitgereik ten spyte van alle onwaarskynlikhede. Wonderwerke gebeur nie altyd ná ‘n skietgebed of ná ‘n beplande aksie nie. Nee, dit gebeur as gevolg van die onverstaanbaarheid van genade.

Maar eintlik gaan wonderwerke oor ‘n gesindheid, ‘n aanslag, die toon waarmee jy met ander mense praat. En as jy ook How great Thou art met oorgawe kan sing, maak dit alledaagse wonderwerke moontlik, dink ek.

Then sings my soul, my Saviour God, to Thee

How great Thou art, how great Thou art

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg