Die Dorsland is droog. Moedeloosdroog. Dis middel-Maart en die reënseisoen het by baie plekke nog nie begin nie. Waar daar wel gereën het, verskroei die son die ywerige groenigheidjie genadeloos. Die hemel bly blou, die winde waai wes of suid, en die wolkies is sonder drif.
Op Aranos, tussen die rooi duine van die Kalahari word ‘n biddag vir reën gereël. Kom sommer vroeg sodat ons kan stoele indra as dit moet, lui die boodskap. Ek wonder waarvoor mens bid op ‘n biddag vir reën. Vir ‘n tropiese sikloon om te wyk, vir vog uit Zambië en Angola, of vir ‘n afsnylaag in die bo-lug? Of dat boere wyser besluite moet neem oor veegetalle, vir beter vleispryse, of vir insig in hul besluite oor die aankoop van voer en voertuie en die opmaak van belastingopgawes?
Droogtes is die Dorsland se ongewenste stiefbroer. Elke dan en wan kom hy kuier. Op die ongemaklikste tye. En hy wil nie loop as hy eers ingelaat word nie. En om een of ander rede glo ons sy vorige besoek was die laaste keer. Met elke besoek sak ons weer af op ons knieë. En dan bid ons. Ons probeer weersisteme regbid. En ons kan nie verstaan hoekom ons so swaar moet kry nie. In ‘n land wat nie baie reën kry nie? In ‘n land waar die reën van die teenoorgestelde kant van die kontinent kom? In ‘n land waar alle wilde diere en plante aangepas is vir ‘n lang, droë seisoen en ‘n kort nat seisoen?
In ‘n land waar die ekonomie ook aan die opdroog is? In ‘n land waar die beplanners liewer reaktief as proaktief optree? In ‘n land waar die damme eers moet opdroog voordat ons genoop word om water wyser te gebruik? In ‘n land waar dit belangriker is om straatname te verander en standbeelde te verskuif as om hospitale sonder kokkerotte en muise te kry?
Elke maand raak die uitdagings by die skole groter en die werkloses meer. Besighede maak toe, dank mense af. Ons leiers rits rond in lugverkoelde swart karre met getinte ruite, salig onbewus van die asdromgrawers, die winkeltrolliediewe, die karwagte, en die dagloners op die straathoeke. Salig onbewus van die onbeholpenheid van staatsamptenare, die pynlike traagheid van diens, die afwesigheid van verkeerspolisie op die paaie, oorvol skole en lang rye by hospitale. Salig onbewus van die ellendes op Kalkveld, Koës en Kamanjab. Salig onbewus daarvan dat gewone huishoudings spartel, maar desondanks ook sorg vir ‘n huishulp en ‘n tuinman.
Vir wat bid mens nou eintlik op ‘n biddag vir reën? Dalk moet ons eerder bid vir al die dinge wat verkeerd geloop het oor die 29 jaar na onafhanklikheid.