Broers

Hoewel ek vir Ernst al op die lughawe welkom geheet het, ontmoet ons eers bietjie later. Langs die Christus-kerk in Windhoek. Dis stinkwarm, en ons soek lafenis in die skadu van die kerk. Saam met karwagte en makalani-kerwers. 
Ernst vertel dat hy op die nippertjie besluit het om by die toergroep aan te sluit. Sy vrou wou saamkom, maar hul dogter is met borskanker gediagnoseer, en sy het besluit om liewer agter te bly vir ondersteuning. Ernst is hier om klarigheid oor sy broer se afsterwe te kry. Nou toer hy sommer saam, en bly dan ‘n paar dae langer aan in die Dorsland. 
Ons toer loop deur die leë suide, by die kokerbome en die Schützenhaus verby, verder na die Visrivier-afgronde, oor Seeheim na Lüderitz en dan oor Duwisib en Sesriem tot by Swakopmund. Dan na Spitzkoppe, Twyfelfontein en Etosha en terug na Windhoek. 
By die Spitzkoppe kom Ernst na my toe en verduidelik bewoë dat hy graag alleentyd wil hê. Hy wil probeer verstaan wat vir Johann so aangetrek het tot die Dorsland. Vol begrip probeer ek verduidelik dat hy nie te ver moet dwaal nie. Maar toe die nag stilraak en die Matterhorn eensaam staan op die volmaanvlaktes, besef ek dat Ernst nie terug is nie. 
Met eerste lig sien ek vir Ernst sit, weer terug by die kamp. Sy stem is skor toe hy môre-sê. Hy het iewers op ‘n klip gaan slaap. Soos Jakob van die Bybel. En verduidelik dan dat hy mos alleen wou wees. Ja goed, ek het nie gedink dat alleentyd ‘n volle nag lank sou duur nie. 
Ernst se broer het ‘n plaas kom koop in die Dorsland. Otavi se wêreld. Hy en sy vrou het lekker geboer, en later ook ‘n vakansiehuis in Hentiesbaai aangeskaf. Toe sterf sy vrou en Johann karring alleen aan. Sonder kinders het dit vir hom nie sin gemaak om terug te keer na Stuttgart nie. Die eensame stiltes van die Dorsland was nou sy heimat. En toe sterf Johann in Henties. Nou staan sy as in die gastekamer van sy buurvrou. 
Na die toer neem ons vir Ernst onderdak. Want hy moet nog in Hentiesbaai uitkom. En die gawe buurvrou van Johann kom eers ‘n dag later verby om hom saam te neem. Ernst se stories hou nie op nie. Later speel hy vir ons bekfluitjie. 
Ernst vertel dat hulle as kinders in Roemenië groot geword het, ses kinders sonder ‘n pa. Toe die armoede te groot word, het sy ma besluit om al hul besittings op ‘n perdekar te laai en terug te trek na Duitsland. Na skool moes die kinders almal gaan werk. Twee van hulle het in Australië gaan bly, ‘n ander een in Kanada, een in Namibië en net twee by Ma in Duitsland. Tog het die bande van armoede en eenvoud die familie aan mekaar vasgeknoop. So vas dat Ernst nou sy broer se as kom haal om by die see by Hentiesbaai te gaan strooi.
Ons maak ons oë toe voor ete, en ons vat hande. Toe vertel Ernst dat dit sy eerste tafelgebed in ‘n baie lank tyd is. Ernst se Ma was teen sy huwelik met sy geliefde Erika gekant. Sy is Katoliek. En toe hou hy en sy gesin op om te bid. Maar vanaand, op agt-en-sewentig, het hy weer besef hoe belangrik ‘n tafelgebed is. Dit is die gom tussen familie. En broers.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg