Hardekool. Oftewel Combretum imberbe. ‘n Semi-bladwisselende boom, maar altyd met ‘n skaduwee. Skurwe, vervormde stam, dikwels verwronge en verdraaid – stille letsels van dekades se swaarkry. Ikoniese boom van die Dorsland.
Ons sit in sy skaduwee. Dis pensioendag en ons sit saam met ‘n groot groep Himbas in sy skaduwee. Oues, kreupeles, weduwees en weeskinders, gestremdes. Dan ook ‘n paar bakkies met harde myle in sy skaduwee. Ons s’n ook. Daar is ook ‘n paar honde en ‘n boklam in sy skaduwee. Inteendeel, ons boom is vrygewig met sy skaduwee, daar bly baie oor vir nog besoekers.
Dis versengend warm. Hier langs die D3700 tussen Opuwo en Epupa is die lewe stadiger. Alles is stadiger. Behalwe die honde se asemhaling. Ons gesels met die hoofmanne. Daar is lang stiltes, en baie luistertyd. Terwyl hulle lang gesprekke in Herero voer, luister ons. Kyk ons. Na die pienk tonge van die honde. Na die tooisels en kleding en versierings en kaal borste van die vroue. Na die een hoofman se Armani hemp. Na ‘n ander hoofman se hoedjie waarop Suid-Afrika en die Groot Vyf pryk. Na die hoofmanne se gladde geel kieries.
Ek wonder oor ‘n klomp goed. Hoeveel ander byeenkomste was al onder die boom? Waarvan alles is die boom getuie? Watse besluite is al hier geneem? Het die Dorslandtrekkers dalk hier besluit om aan te hou trek, tot anderkant die Kunene? Hoeveel padskrapers en Administrasie Fords het al onder die boom ingetrek vir ‘n oornagkamp? Hoeveel kere het hier al ‘n Casper of ‘n Buffel of ‘n Ratel of ‘n Samil onder die boom gestaan? Hoeveel kere is hier al pensioene uitgedeel? Het Oom Ben van Zyl dalk hier gestop op sy pad om sy bekende pas na die Marienfluss te gaan bou? Wie is almal onder die boom gebore, en wie het almal hier dood gegaan?
Ek kyk op in die takke. Tussen November en April is daar blomme in die boom. Die Omumborongbonga swyg, geen antwoord oor die komende reënseisoen, oor die storms wat hy oorleef het, oor die lang, maer jare en oor die vet en nat jare. Oor die keer toe daar amper besluit is dat die boom moet waai omdat hy te naby aan die D3700 staan. Oor die slag toe daar iemand in die takke kom skuil het en oor die slag wat iemand ‘n tou oor die dwarstak kom gooi het om homself op te hang.
Wat gaan met die Himbas gebeur? Gaan hulle uiteindelik almal westers word? Gekersten, geskoold en gesond? Geklee in Mr Price klere, met ‘n horlosie uit Edgars, en ‘n selfoon uit CNA? Almal met karre en huise en lopende water? Gaan hulle uiteindelik almal by die hospitale en die apteke en die tandartse en die oogartse hoor dat dit gesonder is om gereeld te bad, en nie net elke oggend nog ‘n lagie vet-en-oker aan te smeer nie? Gaan hulle ophou rook? Min van hulle is nog nomadies, meeste mans dra ander skoeisel as eenvoudige leersandale. Meeste het selfone.
Daar is al hoe meer Himbas wat semi-permanent langs Namibië se toerisme-roetes soos die C35 en die C43 begin woon. As splintergroepe wat probeer verdien uit die moontlikhede wat toerisme bied. Om te bedel. Om hul klei-gesmeerde lywe en kaal borsies vir nuuskierige toeriste te wys en betaling te kry vir ‘n foto.
Terwyl die hoofmanne op hul kieries leun, en lang stories praat, trek ‘n bottelgroen Hi-Lux in onder die skaduwee. Op die bakkie is daar sakke veelek, en drie Himba-kinders, al drie se koppe geskeer in Himba-styl. Die klap word oopgemaak en twee oumense staan nader, skuifelend. Ouma klim met die hulp van ‘n leë bierkrat op, dan kruip sy verder op die bak tot voor teen die kajuit. Oupa klim ook op. Dan word ‘n vrou sonder bene gehelp om op te klim. En een in ‘n rolstoel. Laaste word hul inkopies met die pensioengeldjies opgelaai. Sakke meel en suiker, ‘n plastiese bad.
Die hoofmanne het eenstemmigheid bereik. ‘n Gemeenskaplike toilet by die skooltjie hier teenaan die pad is ‘n goeie idee. Almal sal daaruit baat. En ‘n grensdraad rondom die skooltjie is ook ‘n goeie idee, dit sal die kinders veilig op die skoolgronde hou. En hulle sal in die skooltjie kan leer van kleure en vorms, hoe om te lees en te skryf, van Engels, hoe om te tel en somme te maak, hoe om gesond te leef, van rigtings en swaartekrag, en van afstande, gewigte en volumes.
Toe ons ‘n uur later weer by die boom verbyry, is daar nie meer Himbas in die skaduwee nie. Net ‘n bus met toeriste wat middagete geniet.
En so slaan die Omumborongbonga al hierdie dinge gade, swygend.