Sjokolade, musiek en ‘n minnesanger

Normaalweg is ek betroubaar met name onthou, maar ek moet bieg dat die geslagsregisters in die Bybel en die Filipynse padkaart vir my ‘n groot uitdaging is. Ons roete uit Moalboal loop oor Alcantra, Ronda, Damanjug tot waar ons met ‘n veerboot ry na Tangil. Ons klim oor op ‘n bus, wat saam met ons op die boot was, en ry op land uit Guihulngan oor La Libertad, Jimalud, Tayasan, Ayungon, Bindoy, Manjuyod, Bais, Tanjay, Amlan, San Jose tot in Dumaguete waar ons ‘n tweede veerboot neem tot in Tagbilaran.

IMG_2018

Filipynse dorpies lyk almal dieselfde. Min hoë geboue, besige strate met driewiele, karre, motorfietse, jeepneys, ‘n ooraanbod van smouse en stalletjies, en klein winkeltjies met groot advertensies. Daar is kerke en skole, en hope kinders in skooldrag. Netheid en ordelikheid is nie juis opvallend nie, iewers vloei water met ‘n verdagte kleur en reuk, en iewers is daar konstruksie aan die gang.

IMG_2076

Onderskeid in inkomste is moeilik sigbaar, die huise is basies, weelderigheid is skaars en woonbuurte verskil baie min van mekaar. Geen grense en heinings is sigbaar nie, tensy daar ‘n paar diere aangehou word. Dalk is eenvoud die groot gelykmaker en dit lyk of alle Filipyne ‘n ongekompliseerde, salige lewe lei.

Totdat jy in ‘n toeristeplek beland. Dan is daar ingange na weelderige oorde, bewapen met wagte, vlae en valhekke; besighede wat luid hul buitelandse bestuurstyl en eienaarskap aankondig en restourante wat europese, chinese en koreaanse spyskaarte aanbied. En die Filipyne bedien, net soos op luukse passasiersbote op die Middellandse See of tussen die Karibiese Eilande. Flink, vriendelik en verdraagsaam. Eg Filipynse besighede is beperk tot nederige eetplekke met onopgesmukte dekor en basiese meubels, verhuring van poegies, bootritte en driewiele. Orals is daar eienaarlose honde, sommige hongerder en minder versorgd as ander, en opvallend baie dragtige katte.

Alona op Panglao Eiland is so ‘n toeristeplek.

IMG_2044

Bohol bestaan uit 75 eilande, waaronder die kleiner Panglao en die groter Bohol Eiland. Die twee lê styf teenaan mekaar met die stad Tagbilaran tussenin. Terwyl Panglao bekend is vir sy wit strande en gewilde duik- en snorkelplekke, is Bohol Eiland bekend vir aantrekkings soos die Chocolate Hills, endemiese tarsiers (‘n tipe nagapie), die Loboc Rivier, inheemse mahoniewoude, rysterrasse en die stokou Katolieke Baclayon kerk, wat uit die Spaanse tydperk dateer.

IMG_2038

Die Chocolate Hills het niks met sjokolade te doen nie, maar is kalksteen-oorblyfsels van ‘n oer- oseaanvloer. Soos die land gehef is en die eiland ontstaan het, is die kalksteenvloer netjies deur erosie opgekerf en het daar honderde eenderse en ewehoë, ronde koepels oorgebly. Die bruin kleur van die heuwels herinner aan sjokolade, vandaar die naam.

IMG_2010

Op pad na Carmen, die dorpie naby Chocolate Hills, ry ons deur rysvelde, mahoniewoude, digte stande van kokosneutpalms, oor die Loboc Rivier en verby die bewaringsgebied van die tarsiers.

IMG_2004

IMG_2036

Met die ontstaan van die eiland het die tarsiers ook deur ‘n hele paar evolusiesiklusse gegaan om aan te pas by die veranderende omstandighede. Dié komiese diertjies slaap in die dag en maak hul groot oë net nou en dan oop, kyk mens lomerig aan en klem die takkies dan stewiger vas om verder te slaap. Tarsiers was vir Steven Spielberg so oulik dat hy sy ET-karaktertjie daarop gebaseer het.

IMG_1992

Ons besluit om Panglao per motorfiets te verken. Geen vrae oor wettige rybewyse en valhems nie en daar gaat ons. Panglao is nie groot nie, so 10km in sy lengte en omtrent 5km in sy breedte. Ons ry heeldag rond en besoek afgeleë strande en ‘n grot waarin mense swem, bly weg van privaatoorde en -wonings met duidelike Geen Toegang bordjies, ry deur woude en kokosneutplantasies en klein gehuggies tussenin.

IMG_2053

IMG_2061

Teen skemeraand soek ons ‘n swemplek, en kry een op ‘n strand waar ons die enigste mense is.

IMG_2082

Die aand eet ons by Trudy’s Bar op die Alona strand. Dis ‘n egte Filipynse spyskaart, die bier is koud, die pryse laag en ons tone in die sand. Ons filosofeer oor die aakligheid van materialisme, die soeke na ‘n saliger lewe, die alewige hunker na verandering, die bevredigende inspirasie van reis en avontuur, meedoënlose roetines en die doellose gejaag na wind.

IMG_2047

Waar ons sit, loop baie voetgangers verby. Onder hulle is daar opvallend baie paartjies wat bestaan uit grys Europese mans met jong Filipynse meisies. Daar is ook baie verhongerde honde en katte om ons. Ons wonder oor respek, omgee, norme en verantwoordelikhede.

Een van die oumanne neem die mikrofoon by die strandorkes oor en probeer sy Filipynse vangs beïndruk met Stand by Me. Die orkes probeer byhou, maar Casanova se stem dwaal onbeheersd en roekeloos oor die note. Saam met baie ander gaste kyk ons liewer anderpad. Die see is mooi vanaand, en ons staar sommer net na die lustelose brandertjies.

Ons wonder oor die grys manne met hul Filipynse meisies. Ons wonder oor die privaatoorde langs die beeldskone Filipynse kus. En ons wonder hoe die Filipyne dit regkry om so vriendelik en verdraagsaam te wees.

Die kitaarmakers

Vanaf Kota Kinabalu uit Maleisië vlieg ons na Manila in Filipyne met Air Asia. Op die lughawe hoor ons, tot ons otnugtering, dat ons bewys van ‘n uitvliegkaartjie moet hê. En net daar moet ons kaartjies koop. Die slegste hiervan is dat ons nou ‘n vaste datum het, wat beteken dat ons skielik ‘n program het. Program klink vir my soos ‘n beplande ding, amper soos ‘n konsert of ‘n vakansie. En ons is nie met konsert of vakansie nie.

Uit Manila vlieg ons na Cebu eiland, kry blyplek en gaan slaap. Ons besluit om die volgende dag Cebu City eers bietjie te verken. Dit reën buitendien.

Cebu is ‘n stokou plek. Maar dis bedrywig. Die sypaadjies is nou, dis digbebou en daar is vreeslik baie mense op straat. Ten spyte van die triestige weer.

IMG_1838

Meeste geboue is verslete en voos geleef. Ons vleg tussen markte en smouse, onder sambrele en afdakke, tussen driewiele en jeepneys, deur en om plasse water, in holgeryde strate.

IMG_1847

Ferdinand Magilaan is deur die Spaanse regering opdrag gegee om rondom die wêreld te vaar met ‘n boot. Op sy tog land hy in Cebu, iewers in 1521.

Ferdinand en sy manskappe het op daai stadium genoeg gehad van ‘n skommelende seilboot, slegte kos en vaal geselskap en besluit om onbepaald anker te gooi in hierdie deel van die wêreld. Ferdinand en sy manne se pad kruis met ‘n paar aangename Filipyne, hulle maak pelle en besluit om te bly. Op hul aanbeveling word die Spaanse vlag in Cebu gehys. Cebu is ‘n veilige, strategiese hawe en die Spanjaarde bou ‘n fort. In ‘n driehoekformaat. En hys hulle vlag.

IMG_1851

Spanjaarde is goeie Katolieke en begin die heidene bekeer.

Kerke word gebou en die Filipyne word gedoop, getrou en begrawe. Die kerstening het ‘n rimpeleffek, meer kerke word gebou en Cebu en nog ander Filipynse eilande word Rooms Katoliek. Die pous is tevrede. Magelaan se kruis word ‘n belangrike simbool vir die christene van die Filipyne en staan vandag netjies bewaar onder ‘n koepel op ‘n plein, waar dit daagliks deur duisende besoek word.

IMG_1858

Amper vyfhonderd jaar later is die godsdienstigheid van die Filipyne nogsteeds moeilik om mis te kyk. Danksy Magelaan en sy manne. Orals staan daar kerke en katedrale, van die oudste amper vyfhonderd jaar oud.

IMG_1855

Bybelversies en verwysings na bybelversies is op die mure van skole, op die Jeepneys, op plakkate, in die busse, oral. En daar is kerke, kerkskole en bybelskole.

Die godsdienstigheid gee die Filipyne ‘n opvallende eerlikheid – geen pretensie, geen verweer, soos Francois van Coke en Karen Zoid sing. Wat jy sien is wat jy kry. Openhartig. Vriendelik en opreg belangstellend. Wil graag help. Onopgesmuk. Eenvoudig en nederig.

IMG_1832

Die Jimneys raak ons manier van vervoer – die opwindenste, mees bevredigende manier van openbare vervoer denkbaar.

Uitbundig en warmbloedig soos Spanjaarde mos maar is, het die Spanjaarde ook die Filipyne geleer om partytjie te hou en musiek te maak. So raak die Spanjaarde en die Filipyne ook al hoe aantrekliker vir mekaar. Verhoudings ontwikkel en paartjies word meer as vriende.

Ewe vertrouelik vra een van die Spanjaarde toe op ‘n mooi aand vir sy Filipynse musiekpelle of iemand sy kitaar kan regmaak. Of miskien ‘n nuwe kitaar kan maak. Behulpsaam soos die Filipyne maar is, begin van hulle sommer self om aan die kitare te werk. Maar dit bly nie net by die herstel van kitare nie. Gou-gou begin hulle nuwe kitare vir die Spanjaarde maak.

IMG_1904

Blykbaar word die kitare vandag nog gemaak, deur dieselfde families wat dit vyfhonderd jaar terug gemaak het. Op dieselfde persele, op dieselfde manier. Ons hoor van die kitaarstorie en besluit om te gaan kyk.

Eers vra ons rond of iemand daarvan weet. Ons speurtog lei ons tussen eenvoudige huise in, verby werwe met spelende kinders, honde, hoenders en bokke.

IMG_1899

Almal wil help, maar kan nie. Totdat ons ‘n geduldige, vriendelike driewiel-eienaar raakloop.  Hy neem ons met sy ryding dieper die woonbuurte in. Die strate is vol van ander driewiele, voetgangers en Jeepneys. Op elkeen van die rygoed is daar ‘n bybelversie. Een met Psalm 91:11 op die voorruit gaan ‘n ander een met Jeremia 29:11 op die agterruit verby. Ons ry in God Bless Our Way. Ons weet ons is veilig.

IMG_1900

Die kitaarfabrieke sit naby aan mekaar in dieselfde straat. Kitaarstraat. In ‘n onopvallende buurt.

En die kitare word vandag nog deur dieselfde families gemaak, wie dit vyfhonderd jaar terug gemaak het. Op dieselfde persele, op dieselfde manier.

IMG_1914

Behalwe die ontvangs en ‘n kantoor is daar niks modern aan die fabrieke nie. Werkers wat met eenvoudige werktuie op ‘n ry langs mekaar onder ‘n lang afdak sit.

IMG_1910

Elkeen doen net ‘n deeltjie. Sommige saag, ander werk met beitels, een gom, die ander een klamp dié gomdele met bamboesknypers vas, een skuur, een poleer, en so aan.

Sedert die koms van die Spanjaarde maak Filipyne só kitare. Op dieselfde manier, met die hand en met eenvoudige toerusting.

IMG_1913

Vaardigheid bly in die familie en word van geslag tot geslag oorgedra. Pa en seun sit op dieselfde produksielyn. Met radioklanke as geselskap.

IMG_1905

Chet Atkins het my bekend gestel aan die kitaar. Chet was ook bekend as Meneer Kitaar omdat hy so bedrewe was op die snare. Sy vriend Floyd Cramer was ewe knap op klavier. Chet en Floyd se uitgeknipte, skoongeskeerde gesigte was effens verlore op die geel agtergrond van die omslag van hul langspeelplaat en ek het nogal gewonder hoe hul instrumente moes gelyk het. Chet was ‘n ietwat onderskatte musikant. En ek het eintlik nooit weer van hom gehoor nie, totdat Mark Knopfler, Dire Straits se man, hom eendag in 1990 genooi het om saam musiek te maak. Saam prewel en tokkel hulle Poor Boy Blues op hul album, “Neck and Neck”. Meneer Kitaar is in 2001 oorlede maar hy sou beslis die Filipynse kitare kon waardeer, nes ek.

Na ons kuier by die kitaarmakers van Cebu gryp ons weer die driewiel, terug na ons blyplek toe.

IMG_1920

Cebu eiland is ‘n lang maer eiland. Soos ons uit die digbewoonde dele van Mactan, LapuLapu en Cebu City beweeg, raak dit net mooier en mooier. Die bus kronkel moeisaam tussen al die verkeer, hoër op met die middellande totdat ons weer begin afdaal na die weskus. Ons volgende bestemming is Moalboal.

IMG_1861

Moalboal is mooier as sy naam. Duikers van regoor die wêreld dink ook so. Hier is hope duikskole, ingeryg tussen die Panagsama strand en ‘n onduidelike grondstraatjie. Tussen die duikskole is daar restourantjies en blyplekke ingedruk.

IMG_1956

Ons geniet ‘n koue goue op die stoep van ‘n restourant wat aan ‘n afgetrede Duitser behoort. Die uitsig is onverbeterlik. Jawohl, maak vol! Môre gaan ons snorkel.

Jawohl

Onthou die naam Quo Vadis. Gawe klomp jong mense. Ons vra vir inligting oor snorkel en die huur van toerusting. Hulle nooi ons sommer saam op hul boot Smiling Star. Voordat jy kan sê “duik”, sit ons.

IMG_1940

Saam met die duikers val ons in die water. Behalwe die gebruiklikes, sien ons klomp nuwe soorte visse en korale. Ons swem saam met drie seeskilpaaie. En saam met miljoene sardyne wat in ‘n vormlose formasie saambondel. Die bondel stulp uit, krimp ineen, swenk weg, verdeel en omsingel ons. Ons snorkel totdat ons oumensvelle op ons tone het.

IMG_1960

Daardie aand wonder ek of daar in die hemel ook wit strande met piesangbome en kokosneute sal wees. Tropiese vissies van allerhande kleure, korale en lou turkooisblou waters. Seeskilpaaie en sardyne. En Filipynse kitare.

Die laaste wildernis

Plekname het my nog altyd interesseer. Party name rol sommer op die tong, so lekker sê hulle. Gobabis, Kamanjab, Aranos. Of Koiingnaas, Nababeep en Kakamas. Plaasname soos Aandster, Kinkel, Akanous, Houmoed, Eindpaal, Skemerhoek, Hartbeesloop, Leeurante en Patria. Soms het die plaasnaam en sy eienaar ‘n onafskeibare verbintenis. Hansie Patria, Koos Aandster of Piet Houmoed, byvoorbeeld Hoe het so ‘n naam, of dan so ‘n verbintenis ontstaan? Daar moet ‘n lang, onvertelde verhaal betrokke wees – hoe anders sou Tranedal, Misverstand, Skurfpens, Allesverloren, Mara, Wildmoor of Verneukpan hul name gekry het?

Hoe sou Borneo sy naam gekry het, wonder ek. Dié naam het nog altyd by my ‘n magiese prentjie van digte woude, geheimsinnige riviere, bobbejaantoue en kannibale geskep. Dalk was Johnny Weismuller in sy eina-broekie as Tarzan en sy slim span troetelape in hul boomhuis uit my kinderdae hiervoor verantwoordelik.

IMG_1712

Ons was nuuskierig oor Borneo se woude en wildlewe. Veral oor Sabah se oerangoetangs en dwergolifante. Vir hierdie doel vat ons die pad uit Kundasang na Sandakan. In ‘n opgezoepte minibus met ‘n haastige bestuurder en sy oorywerige regterhand, wie passasiers werf. Ons is gans te veel insittendes, maar die musiek pomp. Dis ‘n stamperige rit, die pad is uitgery en die bussie skuur plek-plek deur. Maar spoedvraat stu die bussie onkeerbaar deur die ruie suidooste van Borneo voort. By Sepilok besluit ons om liewer uit te klim en beëindig ons die kortstondige verhouding met ons onverskillige bestuurder en sy regterhand eensydig.

Dis immers waar die oerangoetans is. Altans, dis waar die rehabilitasiesentrum vir oerangoetans is. Die sentrum fokus daarop om oerangoetangwesies groot te maak en weer in die Borneowoude vry te laat. Oerangoetans kom net op Borneo en op die Sumatra-eiland voor en is ernstig bedreigd.

img_0494

Die naam oerangoetan beteken letterlik “mens uit die woud”. Nes mense is oerangoetans afhanklik van ‘n moeder tot omtrent ses jaar oud.

Die sentrum poog om die wesies te leer wat hul moeders hulle in die natuur moes leer. En dan weer vry te laat.

IMG_1654

In die kindergarten van die sentrum word die kleintjies en jonges skoon en gesond gehou, geleer om self te eet, om te klouter en om te sosialiseer met ander oerangoetans. Daar is toue, pale en ‘n speelraam en mens kan hulle streke dophou van agter ‘n venster.

IMG_1669

In die ander afdeling is daar ouer diere wat vry beweeg in die woud en twee maal per dag aanvullingskos op ‘n platvorm kry. Tydens voertyd kan mens na hulle kyk maar omdat hulle groter en meer selfstandig is, is hulle onvoorspelbaar. Soms is daar wildes by. Soos die oerangoetans die woud gewoond raak, trek hulle dieper die woud in of word elders hervestig.

Oerangoetans is besonderse wesens. Behalwe dat hul DNA 96% ooreenkom met dié van ‘n mens, is hulle uiters intelligent, toon gevoelens, en maak en gebruik gereedskap. Hoewel hulle meestal alleenloop, geniet hulle ook mekaar se geselskap. Anders as ander ape bly hulle permanent in bome, en nie op die grond nie. En hulle maak elke aand ‘n blarebed om in te slaap.

IMG_1674

Langsaan die oerangoetans is die rehabilitasiesentrum vir “sun bears”, die wêreld se kleinste beersoort. Nes die oerangoetans is die bere bedreigd omdat hul habitat vining krimp en toenemend gefragmenteerd raak. Op ‘n soortgelyke manier as die oerangoetans word beerwesies geleer om te oorleef in die oerwoud en dan op agtjarige ouderdom as volwassenes in die woude hervestig. Die beertjies is endemies aan Borneo en is selfs meer bedreigd as oerangoetans.

img_0493

Ons ontmoet vir Kai, een van die gawe gidse by die rehabilitasiesentrum. Kai het vroeër by die “Rainforest Discovery Centre”, ook in Sepilok, gewerk en bied aan om ons ‘n begeleide toer deur die reënwoud te gee.

Dis ‘n goeie plek om skaars voëlsoorte te sien vanuit die skuilings en op die loopbrug tussen die bome se kruine. Kai wys vir ons ‘n paar voëlsoorte voordat die reën uitsak. En toe beleef ons ‘n egte reënbui in ‘n egte reënwoud, van bo-af. Sonder blitse en sonder donder. Net oordadige, mildelike reën.

IMG_1708

Na die reënbui kom die mistigheid. Dit raak skemer en Kai het baie geduld met ons. Hy stel voor dat ons moet gaan kyk vir ‘n “Flying Squirrel”. By die plek waar ons moet gaan kyk kom ons ‘n leërskare nuuskieriges teë, gekamoefleer en tot die tande toe bewapen met swaarkaliber kameras en bazooka lense. Ondanks ons onvoorbereidheid sien ons drie van die sonderlinge diertjies vlieg teen die aandskemerlug.

Na ‘n vol dag in Sepilok besluit ons om aan te beweeg na Sandakan.

IMG_1738

Sandakan was aanvanklik die hoofstad van Sabah. Geseënd met ‘n natuurlike hawe, geskik vir die uitvoer van hout uit die Borneo-woude, het Sandakan op ‘n stadium die digste bevolking van miljoenêrs in die wêreld gehad.

As poort na een van die wêreld se laaste wildernisgebiede is Sandakan ook bekend gemaak deur Martin en Osa Johnson. Dié twee avonturiers was ook pionierfilmmakers en het Borneo se wildlewe en tradisionele mense aan die wêreld op die silwerdoek bekend gestel. Martin het gelyk soos Tarzan in klere en Osa het gelyk soos Jane met groen grimering.

IMG_1715

Met die Tweede Wêreldoorlog neem Japan Sandakan vir vier bloedige jare by die Britte oor. Meeste buitelanders vlug, of word geïnterneer. Die plaaslike mense word verjaag, sommiges word vermoor, en ander word in ‘n tronk saam met krygsgevangenes gegooi. Dis nie ‘n gewone tronk nie. Dié krygsgevangenekamp is berug gemaak vir sy dodemarse in die woude en dit word bereken dat sowat 2,700 Australiese en Britse soldate op dié manier onder die Japanese se hande gesterf het. Van ontbering, en sonder ‘n enkele skoot. Net ses van die arme krygsgevangenes het uiteindelik oorleef. Aan die einde van die oorlog was Sandakan omtrent heeltemal verwoes – eers deur die bomme om die Japanese uit te kry, en toe deur die Japanese wat niks vir die Britte wou agterlaat nie.

Die Anglikaanse klipkerkie, St Michaels, was omtrent die enigste gebou wat staande gebly het na die oorlog.

IMG_1719

Nog ‘n prominent inwoner van Sandakan was die skryfster Agnes Keith. “Land below the Wind”, die boek oor haar gesin se wedervaringe in Borneo voor die oorlog, kom uit haar pen. ‘n Ander boek van haar “Three came home” was geskoei op die Keiths se terugkeer na Sandakan na die oorlog, en het ‘n Hollywood-fliek geword.

Die Keiths het in ‘n prominente huis op die rant van Sandakan gewoon, en met hul terugkeer ná die oorlog het hulle die verwoeste huis tot sy volle eertydse glorie gerestoureer. Vandag kan die huis as museum besoek word.

IMG_1733

Die huis gee mens ‘n goeie kykie na koloniale Sandakan en die verhewe leefstyl van koloniale Britte. Groot kamers met swaar houtmeubels, oordadige tuine met oneindige grasperke, wye stoepe en sonvertrekke, versierde balkonne en uitsigte in alle rigtings oor die oseaan het Agnes Keith se huis beroemd gemaak.

IMG_1729

In ‘n poging om Borneo se dwergolifante (“pigmy elephants”), krokkedille, die vreemde “slow loris” (‘n tipe lemur / nagapie) en grootneusape (“proboscis monkey”) te sien, besluit ons om die Kinabatangan Rivier vanuit Sandakan te besoek. Die benedeloop van die rivier kronkel deur ‘n gebied wat beskryf word as ryk aan skaars voël- en diersoorte van Borneo.

IMG_1815

Ons bespreek plek, wat vervoer heen-en-weer, verblyf, etes, bootritte en begeleide staptogte insluit. Ons mede-besoekers is meestal uit Europa – Britte, Duitsers, Hollanders en Skandinawiërs.

IMG_1780

Die voëllewe is wel indrukwekkend, maar behalwe vir al die verskillende soorte ape, en by twee geleenthede oerangoetans, sien ons eintlik geen ander diere nie.

Dis natuurlik blote toeval en geluk as mens enige wilde dier tydens die bootvaarte op die rivier sien. Maar ontstellend is die feit dat daar so min van die Borneo-wildernis, wat die Johnsons so romanties op film uitgebeeld het, oor is. ‘n Maer strokie woud langs die oewers, die sogenaamde gallereiwoud is eintlik al wat oorgebly het. Die galereiwoud is beperk tot enkele meters in sommige dele.

IMG_1801

Slegs fauna wat stroomlangs kan beweeg, kom dus voor. Diere wat van die hinterland afhanklik is, sal bloot by geleentheid by die rivier uitkom – en dan net by plekke waar die gallereiwoud konneksie met oerwoud in die hinterland het. En die oerwoude in die hinterland krimp vinnig.

Die oorspronlike woude in Maleisië se deel van Borneo is vervang met oliepalmplantasies. Derduisende hektare daarvan. Met gepaardgaande fabrieke, landgoedere, dorpies en allerhande vorme van infrastruktuur. Palmolie is ‘n massiewe industrie in Maleisië. Maar ongelukkig stroop dit die toerisme bemarking van Borneo as ‘n wildernisgebied van alle eerlikheid. Trouens die palmolie-industrie het Sandakan se karakter as poort na die Borneo-wildernis onherroepbaar verander.

Ironies is daar sterk Europese gelaatstrekke op die palmolie-industrie – van die grootste belanghebbendes in dié industrie is Britte, Dene en Hollanders. Stelselmatig word die betekenis van Borneo se naam as ‘n wildernisgebied verander. Onherroeplik. Deur veraf Europese maatskappye en gulsige verbruikers van elders.

Hansie Slim

Dit is Radio Suid-Afrika. Hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …

Smiddae tussen een en halftwee was gewyde tye in die huis waarin ek groot geraak het. Ook saans tussen sewe en agt. Dit was die tye waarin daar meer geluister is as gepraat. Radio was toe nog koning.

In die middag het ons geluister na afkondigings oor “radioprogramme wat deur die loop van die dag volg”, noodberigte (“Daar word gesoek na Meneer en Mevrou Swart van Aliwal-Noord wat iewers op reis is tussen Upington en Postmasburg. Dit is in verband met Meneer Swart se moeder.”), die weervoorspelling en dan die nuus, stiptelik om kwart-oor-een. Die nuus is gevolg met die streeknuus.

Ek onthou die meesleurende stemme van Morkel van Tonder, Edwil van Aarde, Fonnie du Plooy, Daniel Kirstein, Leon van Nierop, Nic Swanepoel en Thinus de Villiers. Hul stemme het geloofwaardigheid aan onakkuraathede soos noodberigte en die weervoorspelling verleen. Hulle het my geleer van woorde soos plek-plek, elders, mooiweer en bloedig warm. En van plekke soos Kaap Infanta, Kosibaai en die platorant.

Saans is die nuus voorafgegaan met drie bieps. Met gesag is die nuus ingelui met “Dit is Radio Suid-Afrika. Dis nou sewe-uur en hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …”

Aandnuus is gevolg deur die weervoorspelling, Boekevat en dan die storie – Wolwedans in die Skemer, Ongewenste Vreemdeling of dalk Die Wildtemmer.

“Weervoorspelling” was waarskynlik een van die eerste groot begrippe wat ek as kind onder die knie gekry het. Die draadloos het ‘n bepalende bydrae in hierdie verband gehad. Vroeg in my lewe het ek geleer dat die weer vir ons Dorslanders belangrik is. Meer korrek – die moontlikheid van reën was vir ons belangrik. Ons het elke dag met aandag geluister na die kanse vir reën, selfs twee tot drie keer, en die moontlikheid daarvan het die luim in die huis beïnvloed, en vendusies en biddae help beplan.

Weervoorspelling in Maleisië, daarenteen, is waarskynlik ‘n verwaarloosde, onbelangrike wetenskap omdat dit byna geen doel of bestaansreg het nie. Dis elke dag warm. En dit kan omtrent elke dag reën. Dis selfs snags ook warm. En dit kan snags ook reën. Niemand hoef iets hieroor te voorspel nie. Niemand hoef gewaarsku te word teen skielike koue nie. En niemand raak opgewonde as die reënkanse meer belowend raak nie. Want dit gáán reën. Hard en baie. Net as die lug blou is, gaan dit nie reën nie. Wat nie sommer gebeur nie.

Kota Kinabalu kry omtrent 2400mm reën per jaar. Dis 2,4m reën. Amper sewe voet reën. Die grond sal diep nat word met soveel reën, sou ons in die Kalahari sê. As net 10mm op elke reëndag val, het mens ‘n drie-kwart jaar se reëndae nodig.

Ander dele van Maleisië, soos Berg Kinabalu, kry selfs meer reën. Dis omdat die hele land, dié deel van Maleisië op die Asiese vasteland sowel as die Borneo eiland-deel, bitter naby aan die ewenaar lê. Voeg berge en ‘n omringende warm see by, en jy het die resep vir oorvloedige reën.

IMG_1571

Ons wil graag Berg Kinabalu gaan klim. Dié berg is meer as 4,000m hoog en vorm die middelpunt van die Kinabalu Park van 75,000ha, sedert 2000 ‘n Wêrelderfenisgebied.

IMG_1573

Kinabalu Park word geag as een van die verskeidenheidrykste plantegroeistreke in die wêreld omdat dit oor vier klimaatstreke strek. Ses plantegroeisones met ‘n geskatte 6,000 plantsoorte kom hier voor, meer as die helfte van die hele Borneo se plant spesies. Die laerliggende dele is warmer, bome hoër as 50m is algemeen en die ondergroei is dig.

IMG_1605

Hoër op teen die berg raak dit koeler en die plante krimp in hoogte. Permanente watervalle en strome loop al langs die boep van die berg.

Ons neem ‘n langafstandbus na Kundasang, die gehuggie naby Berg Kinabalu. Ons kry blyplek om die draai van die ingang na die park. Die uitsig is mooi, maar die geriewe verdag.

Maleisiese badkamers is byna sonder uitsondering altyd nat. Te nat na ons sin. Dis omdat die stort en toilet in ‘n beknopte kombinasie in dieselfde klein vertrekkie is. Sonder uitsondering is daar iewers ‘n permanente lek, of ‘n plassie water, en plastiekhouers met water. Hoewel ons dit gaandeweg gewoond geraak het, is ons toenemend opgewonde as die stort verder as een meter vanaf die toilet is. Solank dit skoon is, kan ons deurdruk met die beknopte omstandighede, maar die blyplek hier in Kundasang toets ons uithouvermoë. Badtyd word ‘n beproewing en ons besluit om ‘n ander kamer te vra.

Met die kamer-episode afgehandel, pak ons die park aan die volgende oggend. En besef onmiddellik dat dit nie maklik is om die berg uit te klim nie. Eerstens is daar ‘n maandelange waglys en tweedens moet mens diep sakke hê om dit te kan bekostig – N$4,500 per persoon. Dis vir die roete van 8,8km met ‘n gids en luukse akkommodasie, oor twee dae. Ons maak vinnig somme – met N$9,000 kan ons nog lank en ver reis.

IMG_1589

Ons besluit om liewer net die gewone stappaaie te doen en nie vir Duckelina die bokant te gaan wys nie. Ons gaan liewer die kruin van onder af bekyk.

Behalwe vir gereelde rots-stortings is die reënwoude rondom Berg Kinabalu ongeskonde. Geen byl is nog gelê teen enige boomstam nie. Hier is ‘n groot keuse van stappaaie, met verskillende moeilikheidsgrade, lengte en uitsigte.

IMG_1587

Ons kies die langste een, al langs die Liwagu Rivier, opwaarts tot by die Timpohon Hek waar net die bergklimmers deurgelaat word. Ongelukkig vind ons halfpad uit dat die roete gesluit is vanweë ‘n rotsstorting en ons moet oorslaan na die tweede langste roete. Nogtans is dit ‘n staptog wat ons nie gou sal vergeet nie.

IMG_1574

Ek was nog elke keer opgewonde oor ‘n enkele orgidie wat ek aan die groei kon kry, hier kom meer as 800 soorte orgidieë voor! En hulle groei oral.

IMG_1612

Verder is hier meer as 60 eikesoorte, meer as 80 soorte wildevye, meer as 50 soorte palms, by die 40 soorte gemmer, omtrent 30 soorte bamboes, en meer as 600 soorte varingspesies. Boomvarings hier word tot 20m hoog. Orals is lugplante, plante met blomme, mosbegroeide stompe en stroompies.

IMG_1576

Ons sien weliswaar nie wild nie, maar kom darem op ‘n vars spoor van die “Clouded Leopard” af. En sien ook baie voëls.

Regoor die ingang na die park is ‘n plaaslike restourant. Na ons besoek aan die park gaan soek ons aandete. Terwyl ons eet, sak ‘n onvoorspelde reënbui uit. En ons kyk hoe twee mense vergeefs in die reën ‘n langafstandbus probeer stop. Dit hou aan reën, en ons drink maar nog ietsie, terwyl ons hier van onder af kyk na die kruin. Na die reën betaal ons – 18 Ringit in totaal. Dis N$54. So ja, nou kan ons weer verder toer.

Daai N$9,000 wat ons gespaar het, gaan ons nog ver bring.

Salig is die wat snorkel

Kota Kinabalu, of KK soos die stad bekend is, is die hoofstad van die Maleisiese staat Sabah op die eiland Borneo. Omtrent twee-derdes van Borneo word beheer deur Indonesië. Maleisië het die ander derde, eintlik net die noordelike deel. Die piepklein Brunei enklawe verdeel die Maleisiese deel tussen Sarawak (wes) en Sabah (oos).

Baie van KK se inwoners is Chinees van oorsprong. Hulle bly al vir eeue op Borneo en noem hulself Maleiers. Nes Chinese het Arabiere ‘n sterk invloed op Borneo gehad – vandag nog het Borneo ‘n sterk Moslem-gemeenskap danksy die verkondiging van dié geloof ‘n paar eeue terug. Dan is daar die mense wat oorspronklik op Borneo gewoon het en ‘n paar minderheidsgroepe soos Indiërs en Filipyne wat later bygekom het. En natuurlik toeriste, soos ons.

IMG_1525

Inligting oor die oorspronklike inwoners en geskiedenis van Borneo is opvallend skraps. Beter gedokumenteerd is die Britse hoofstuk van Borneo se geskiedenis. Aanvanklik was KK se naam Jesselton, vernoem na een van die hoofkoppe van die British North Borneo Company. Dié maatskappy het Jesselton as hawe gebruik om die hulpbronne uit Borneo se woude te tap – hout, rottang en rubber. Die Britte het eintlik net belanggestel in die oostelike deel van Borneo en het hierdie gedeelte, bekend as Sabah, as ‘n streek onder beheer van ‘n maatskappy gekolonialiseer. Ter beskerming van die maatskappy is die Union Jack oor Sabah gehys. Jesselton was egter nie die hoofstad van Sabah nie, maar Sandakan verder suid.

Soos elders in Maleisië is die Britte deur die Japanese uit Jesselton verwilderd tydens die Tweede Wêreldoorlog. Op hul uittog verwoes die Britte die stad om niks vir die Japanese na te laat nie. Die Japanese was nie eintlik in Borneo se hulpbronne geïnteresseer nie, maar Sabah was ‘n belangrike strategiese houvas in suidoos-Asië en vier jaar later verwoes die Britte die stad nog meer toe hulle Jesselton stook met bomme om die Japanese weer uit te kry. Net drie geboue bly staan aan die einde van die oorlog, die Japanese onttrek en die British North Borneo Company keer terug.

Die maatskappy steier onder die skuld en ‘n groot gebrek aan ontwikkelingskapitaal. Om Jesselton weer op te bou, word die verantwoordelikheid van die Britse Kroon – nou as die hoofstad van Sabah. Dis ‘n taak wat die Britse administrasie teësinnig en verbeeldingloos aanpak en die produk is ‘n onopwindende, doodgemiddelde plek. Meer nog, as gevolg van sy Britse wortels is KK ‘n tipiese primaatstad – regeringsinstansies en hoofkantore is hier gesentreer en die stad groei uit sy nate, terwyl ander dele van die land aankarring of agteruitgaan. Net soos ander lande met primaatstede (dink Windhoek, Namibië) is groei en ontwikkeling dus ruimtelik baie oneweredig.

KK is boonop vasgedruk tussen die see en berge. Grond vir ontwikkeling is beperk en die stad groei of lineêr, of op drooggelegde moerasgebiede styf teenaan die see. Arm mense het ‘n uitweg vir hierdie dilemma gekry en sommige, veral die Filipynse nedersetters, bou hul huise op stelte in die vlak kusstrook. Dis eintlik ‘n tipe plakkery, met die noodwendige uitdagings van munisipale diensvoorsiening wat ver tekortskiet.

IMG_1478

Vandag is die hawegebied ‘n miernes van bote wat die see-plakkers daagliks heen-en-weer tussen KK en hul blyplekke vervoer. Die hawegebied is ook aangrensend van die nat- en droë markte asook die grootste straatkosmark.

Dan is daar ook nog die naweek markte in Gaya Straat. Naas die markte is daar die malls. ‘n Duitse vriend van ons praat van die “Einkauftempels”. Ons het agt van dié sentrums in KK getel. En KK is omtrent so groot soos Windhoek. Sentrums is natuurlik ‘n erg Maleisiese ding – omdat dit so warm is en die lugreëling onverbeterlik is, is sentrums gewilde uithangplekke. En ons moet bieg, ons het al ‘n paar maal skuiling gaan soek teen die hitte in so ‘n sentrum.

IMG_1519

So, wat doen mens eintlik in KK? ‘n Rapsie meer as 1,600 km vanaf Kuala Lumpur is KK die poort na Borneo, die “ander deel” van Maleisië.

‘n Entjie weg van die bedrywige hawegebied lê KK se wit, uitgestrekte strande waar die inwoners kuier en ‘n mooi sonsondergang geniet. Oorkant KK lê ses eilande. Die grootste een is Gaya, waar die Britte aanvanklik nes geskop het. Gaya het permanente inwoners. Die ander vyf eilande is onbewoond, behalwe vir die personeel van die luukse oorde. Drie van hulle, Sapi, Mamutik en Manukan is gewilde dagbestemmings per boot. Ons besluit om by twee van hulle te gaan snorkel.

IMG_1538

Snorkel by die eilande naby KK is nie so indrukwekkend soos by die Perhentian eilande nie. Sigbaarheid is effens swakker, daar is baie meer mense en ons moes effens verder swem om by die korale en visse te kom. Maar die mees ontstellende ding was die besoedeling wat ons gesien het. Plastiek afval is ‘n massiewe uitdaging en die seebodem ontgeld dit liederlik. Afgesien van die plastiek is daar ook geweldig baie dryfhout, blare en droë materiaal uit die woude wat in die see beland. Gevolglik is die toeganklikheid van KK se kuslyn baie beperk, en swembare strande baie gewild.

IMG_1547

Snorkel is vir my ‘n stil, salige belewenis. ‘n Gewyde sport, byna heilig. Want al snorkel jy saam met iemand, is jy alleen en op jou eie. Jy ontdek, maar kan dit nie met iemand deel nie. Praat is uit – ten minste solank jy gemasker is. En terwyl jy snorkel, kan jy hoogstens beduie. Dis ook ‘n uiters beheersde sport. Want as jou asemhaling hand-uit ruk gaan jy onmiddellike probleme hê. Vir my wat geseënd is met hopelose koordinasie is dit elke keer ‘n uitdaging om my asemhaling ritmies en egalig te hou.

Nogtans is snorkel salig. Dalk is een saligspreking uitgelaat met die skrywe van Die Bybel: “Salig is die wat snorkel, want aan hulle word die wonderwêreld onder die water gewys”.

Heil die Leser

Miskien is ek onnodig bang gemaak met die Heilsleër in die Kinderkransklasse. Nes met gehapte appels, kleurvolle vlinders, psigidilliese effekte, bell bottoms, die omgekeerde vredesteken, langspeelplate met verskuilde boodskappe as dit agteruit gespeel word, die Rooi, Swart en Geel Gevaar, en wie weet wat nog. Instrumenteel in hierdie waarskuwings was daar altyd tannies met name soos Kotie en Huipie (kry mens regtig dogterjies met dié name?). Die tannies was altyd stemmig geklee, gekous, gepolvy en geties. En hulle het marsjeer onder ‘n banier van organisasies met yslike name.

Op die dorpie waar ek groot geword het, het daar nie veel gebeur nie. So, ons het alles bygewoon en gedweë met aandag na alles en almal geluister. Eers lank daarna het ek gewonder oor die kuns van langspeelplate agteruitspeel. Wie kan so iets doen? En watter genie sou daaraan dink om ‘n geheime boodskap in die onverstaanbare klanke te kon versteek? Watse tipe boodskap in elk geval? Iemand het eendag grappenderwys beweer dat jy na potjiekosresepte kon luister as mens Bles Bridges se plate sou kon agteruit speel.

Bangmaak is ‘n magtige wapen om jong kinders te beïnvloed. Ons arme seuntjie was vir die eerste paar jaar van sy lewe bang dat hy swanger kan raak. Ons kon nooit uitvind wie hom bang gemaak het met so ‘n afgryslike ramp nie, maar ons kon darem sy vrees betyds agterkom en verduidelik dat dit biologies onmoontlik is. Op my beurt weer, was ek tot verlede week nog bang vir die Heilsleër.

Die aanklag teen die Heilsleër was dat die Rooiskilde van dié organisasie die Khakis teen die Boere in die Vryheidsoorlog gehelp het. En dat die Heilsleër nie sakramente bedien nie. Sakramente was in elk geval ‘n oorgrote woord vir my. Nes kategismus.

My Lief praat makliker as ek. Sy is vreesloos as sy nuwe mense ontmoet. En sy kry verspotmaklik ‘n aanknopingspunt. Ek is baie meer versigtig, bly liewer stil en wonder net voordat ek my mond uit nood moet oopmaak.

Ons eerste blyplek in Kota Kinabalu is nie goed geleë nie. Ons kry ‘n meer sentrale blyplek, maar ons moet van ‘n taxi gebruik om daar te kom. Totdat My Lief by die ontbyttafel die groepie van die Heilsleër sien. En hulle het ‘n bussie as ‘n ryding. Voordat ons kan sê “saamry”, sit ons saam met hulle in die bussie. Op ‘n uitreik. Ons gaan kospakkies by behoeftiges in die buitewyke van Kota Kinabalu aflewer. Dis die twee van ons, vier jong Amerikaanse meisies en ‘n Maleise man van Chinese afkoms, wat aangespreek word as Major. Ons tel nog vrywilligers op en vertrek op ‘n onbekende sending, die ruigtes van die berge rondom Kota Kinabalu in.

IMG_1490

Ons lê besoek af by ‘n paar verinneweerde huise waar die gemene deler armoede is. En baie onvertelde verhale. Dis eenvoudige huishoudings op werwe met motorwrakke, honde en hoenders. By die een huis is ‘n pa wat verlam is na ‘n ongeluk twaalf jaar gelede, by ‘n ander huis is ‘n ma van drie kinders wie se pa tronkstraf uitdien, en so gaan dit aan. Ons lewer kos af, ons gesels en ons bid saam by elke huis. Ons bid tot dieselfde God wat ons ook in Afrikaans aanbid. Ons gee, maar eintlik ontvang ons.

Want skielik besef ons hoe buitengewoon geseënd ons is.

En ons kry ‘n eerstehandse nuwe opinie oor die Heilsleër se drie esse – “soup, soap and salvation”. Ek is ook nie meer bang vir die Heilsleër nie. Inteendeel.

O ja, en amper vergeet ek: Die Heilsleër en die Salvation Army is dieselfde ding.

Mengel

Melaka se reputasie as ‘n bloeiende handelstad en poort na die speseryehemel was sedert die 15e eeu bekend onder die Portugese. ‘n Seeroete tussen Lissabon en Melaka moes net gevind word, wat die taak was vir manne soos Diego Cao, Bartolomeus Dias en Vasco da Gama. Toe laasgenoemde dit uiteindelik regkry, word Alfonso de Albuquerque opdrag gegee om die Portugese vlag in Melaka te gaan hys in 1511.

Teen die tyd van Alfonso se aankoms woon daar alreeds Arabiere, Chinese, Indiërs en Maleiers in Melaka, almal onder beheer van ‘n sultan. Maar ‘n opdrag bly ‘n opdrag, en Alfonso neem doodeenvoudig die plek oor en hys sy vlag, sonder enige goeie skikking met die sultan.

Alfonso is ‘n voorbeeldige Katoliek en besluit om naas ‘n bastion, ook ‘n kerk op die enigste bultjie naby die hawe in Melaka, te bou.

IMG_1350

Alfonso se edele werk is egter soos hoes teen donderweer – Islam is deeglik ingegrawe en die sultan se onderdane is astrant. Hulle wil nie bekeer nie, en is onwillig om vreedsaam aan te pas by die Portugese se vreemde reëls oor handeldryf. Buitendien is daar ‘n geknoei en ‘n gekroek onder die Portugese, wat net mooi niks help om die inwoners te laat glo in hul kwansuise opregtheid nie.

IMG_1409

En op dié manier bly Alfonso en sy opvolgers se bestuur van Melaka onoortuigend en wankelmoedig.

Toe kom die Hollanders in 1641. Eers verjaag die Hollanders die Portugese, vestig ‘n handel met strenger reëls, bou ‘n beheerde hawe, verwoes die vorige heersers se Katolieke kerk en bou ‘n Protestantse kerk op ‘n ander plek. Die Hollanders bou ook die Stadhuys, hul administratiewe hoofkwartiere, en lê die gebruiklike Jonkerstraat en Heerenstraat aan.

IMG_1441

Die Hollanders beheer ook die Kaap van Goeie Hoop, en Jawa, en bou die VOC op tot ‘n magtige internasionale maatskappy vanuit Melaka. Personeel wissel en word verplaas. Die opstandiges en parmantiges word slawe, gevangenes of matrose. Op dié manier word Maleise woorde soos piesang, plafon en pondok na die Kaap en Jawa uitgevoer. En Jan van Riebeeck se vrou, Maria, word in Melaka begrawe.

IMG_1374

Laaste kom die Britte, eers in 1826. Net soos in die Kaap neem hulle Melaka by die Hollanders af. Eintlik stel die Britte belang in handeldryf met die Chinese en Indiërs en die Kaap sowel as Melaka was vir die Britte twee belangrike strategiese punte om dié handelsroete gevestig te kry.

IMG_1363.JPG

Met die Hollanders verwyder uit Melaka, begin die Britte die plek as ‘n nagedagte bestuur omdat hulle fokus op die belangrikheid van George Town as ‘n hawe. As ‘n troosprys bou die Britte ‘n eie kerkie in Melaka, maar beskou die agteruitgang van Melaka andersins gelate.

IMG_1386

Uiteindelik word Maleisië onafhanklik van die Britte, eers in 1957. Melaka bly aan die agterspeen suig, tot omtrent twee dekades gelede toe die nuwe regering die historiese en kulturele waarde van die stokou stad besef. Derhalwe word Melaka se ou deel in 2008 ‘n Wêrelderfenisgebied en toerisme groei tot die belangrikste bron van inkomste vir die stad.

IMG_1398

Melaka laat my onomwonde glo dat mense met yslike verskille en uiteenlopende agtergronde kan saamleef as ‘n gemeenskap. Dis ‘n kleurvolle stad, met ‘n ryk geskiedenis. Hier is plek vir oud en jonk, ryk en arm, Hindoe en Christen, Boedis en Moslem. Die geskiedenis van die stad word gekoester, en eenheid in verskeidenheid word hoër geag as eiebelang.

IMG_1375

Ons besoek Melaka aan die einde van Ramadan, dus is al die Halaal eetplekke toe. So beland ons een aand by ‘n eetplekkie langs die grag wat die Hollanders gebou het. Die geboutjie toon letsels van die afgelope 400 jaar, maar die interieur is vars en jonk. Die spyskaart is Thais, ons word bedien deur ‘n Maleier van Indiese afkoms, sit langs ‘n Duitse paartjie en luister na Reggae musiek.

En so mengel ons in Melaka.

O, Eiland van die Son

Maleisië het ‘n baie digte bevolking langafstandbusse. Gerieflikheidshalwe kies ons dié opsie om te beweeg en gevolglik is ons aangewese op die raad van buskaartjieverkopers oor ons volgende bestemming; wel tot ‘n mate. So word ons omgepraat deur een op die busstasie van Tarah Nata in die Cameron Highlands om die Perhentian Eilande te besoek. Nog nooit van gehoor nie. Maar hoe kan ‘n buskaartjieverkoper nou verkeerd wees?

Die eilandjies lê aan die noordelike deel van Maleisië se ooskus. Regoor Kuala Besut. Ook nog nooit van gehoor nie. Daar is ‘n hele paar eilandjies, en ons kies die kleinste enetjie van die twee waarop akkommodasie beskikbaar is, Kecil. Ons besluit oor blyplek, kies datums, en koop die buskaartjies, heen-en-terug. O ja, dis ‘n eiland – ons koop ook bootkaartjies, ook heen-en-terug. So kies ons koers ooswaarts na ons kuier in die Cameron Hooglande.

Ons kom op ‘n snikhete Donderdagmiddag aan by die pier in Kecil.

IMG_1256

Op die strand is ‘n soompie strandkafeetjies en verskeie geboutjies en blyplekkies, styf ingeryg langs mekaar. Die water is onnatuurlike blou en warm. Wiegende kokospalms, ‘n wit sandstrand, kabbelende brandertjies, en bootjies wat dobber. Ons tipe blyplek. O, Eiland in die Son, ons stap sommer strandlangs soontoe.

IMG_1341

Ons kry ‘n kamer wat uitloer tussen twee kokospalms. Al die kamers rus op stelte, blykbaar vir beter ventilasie. Behalwe die ventilasie skarrel daar elke nou-en-dan ‘n likkewaan tussen die stelte deur. Direk agter ons is die woude. Die water is verleidelik en voordat jy “likkewaan” kan sê, swem ons.

IMG_1321

Later word tafels en stoele op die strand uitgepak vir aandete. Dis so lekker hier, mens wil sommer met jou voete ook vuiste maak.

IMG_1201

Dis snorkelwêreld dié, en ons oordoen dit byna. Eers neem ons ‘n bootjie en gaan swem saam met seeskilpaaie. Ons hang ook bokant korale en visse in alle denkbare kleure, groottes en vorme.

IMG_1302

Die aand knak ons ‘n Tiger by een van die strandkafeetjies op Long Beach.

IMG_1314

Op die tweede dag leen ons weer snorkels en stap op ‘n stil paadjie deur die woud na klein strandjies waar ons die enigste mense is. En ons snorkel. Ons kry vir Nemo en haar gesin. Ook die uitgebreide familie. Nooit geweet die Nemo’s is so baie nie.

IMG_1307

Op die derde dag vra ons ‘n watertaxi om ons te gaan aflaai op ‘n strand wat nie te voet bereikbaar is nie. En ons snorkel. Ek sorg vir ‘n hele paar persoonlike bestes: Langste tyd aaneen in die water, langste ent geswem deur ‘n Kalaharikind sonder om te rus, en een van net twee mense wat op 18 Junie 2017 deurgebring het op Romantic Beach.

IMG_1328

Hoewel daar seker reisigers is wat dit so verkies, dink ek nie mens moet alleen reis nie. Dis soveel moeiliker om rigting te kry, om inligting in te samel en dis bloot onopwindend om nie jou ervarings met iemand te deel nie. As mens alleen reis, lag jy ook minder en kan jy ook nie gereeld beken dat jy tevrede is nie. Die Perhentian Eilande is ‘n bestemming wat mens beslis nie alleen moet ervaar nie.

Die engel van Wenzhou

Wenzhou, die stad op die suidoostelike uithoek van die Zhejiang Provinsie in China, is al die afgelope 2,500 jaar ‘n belangrike hawestad. Tans woon hier sowat 9 miljoen mense in die metropool.

Beskryf as China se Jerusalem, omdat die christelike geloof redelik sterk hier gevestig is, word Wenzhou ook beskou as die geboorteplek van China se private ekonomie. ‘n Hele paar Chinese topmaatskappye het Wenzhou-adresse. Die vervaardiging van tekstiele, plastiek, ligte elektriese ware, brille en verpakkingsmateriaal is die hartklop van die stad. Net ‘n kant-aantekening: Wenzhou word ook gereken as die geboorteplek van Chinese opera. En, ‘n hele rits gesaghebbende wiskundiges kom uit dié stad. Interessant, soos my skoonma sou sê.

Maar Wenzhou is nie ‘n toeriste-vriendelike stad nie. Enige taal behalwe Mandaryns is seldsaam. Inligting oor die stad is skraps en min moeite word gedoen om besoekers te laat welkom voel. Die welkomborde op Wenzhou stasie kon net sowel onderstebo of agterstevoor gehang het, ons weet nie.

Die stad is ook nie besonder aantreklik nie. Dink aan daai vaal dogter in die agterste ry van die skoolkoor – onderbeklemtoon, lae profiel, randfiguur, beskroomd, teruggetrokke en eenkant. Min mense het al van haar en Wenzhou gehoor.

IMG_9446

So val ons Wenzhou binne. Gewapen met die nodige digitale karate op die selfoon probeer ons verstaan hoe om by ons blyplek uit te kom. Om die busse se roetes en bestemmings te verstaan, vra ons raad by ‘n Chinese man met ‘n lang pinkienael. In uiters gebroke Engels beveel hy Bus 91 aan.

Bus 91 begin ‘n eindelose rit met ons en spoeg ons by ‘n verdagte halte uit. Gelaai met ons rugsakke begin ons stap op die selfoon se roete.

Die aanvanklike 800m word 2,4km en so kom die ekstra stukke by totdat ons omtrent 5km later voor ‘n dooie ingang staan.

Moedeloos maal ons in die rondte. ‘n Groepie mense ontferm hulle oor ons, maar ons interaksie bly beperk tot gebaretaal. Later bel een sy vrou, wie Engels kan praat. Oor die foon verduidelik sy aan my dat die adres nie bestaan nie.

Die kaarte op die selfoon word aangekla as onbetroubare reisgenote. Ons probeer ‘n laaste, onlogiese manier om ons bestemming te vind. Met die geduld tot op die dunste geskaaf hoor ons daai mooi woorde in Engels: “Can I help you?”

IMG_9455

Voor ons staan ‘n vriendelike engel wat ons later leer ken as Morgan. Ons verduidelik en hy en sy vriend bied aan om saam met ons die bestemming te vind. So stap ons nog ‘n kilometer. In ‘n dowwe, chaotiese straat vind ons die kamstige plek, met die naam in Mandaryns op ‘n digitale bord.

Morgan sê onmiddellik dat ons nie hier moet bly nie. Op sy aanbeveling stap ons terug na ‘n ander adres – ‘n kilometer verder na ‘n hotel met marmervloere. En hy beding vir ons blyplek teen ‘n laer prys as ons aanvanklike bespreking. Morgan en sy vriend help ons totdat ons sakke in ‘n deftige dubbelkamer is.

Morgan stel voor dat ons net eers moet rus, maar dat ons die volgende aand moet saamkuier. En so het ons met die engel van Wenzhou vriende geraak. Om ‘n tafel gekuier en deeglike instruksies gekry om Yandang te besoek.

IMG_9458

Om by Yandang uit te kom, moet mens gebruik maak van ‘n trein, ‘n driewiel en ‘n bus – en die hulp van ‘n paar tolke. Yandang is ‘n geopark met loodregte rotse, watervalle en nou ravyne in een van die bergreekse rondom Wenzhou.

IMG_9462

Wenzhou is seker die enigste plek in die wêreld wat ontwikkel is op die beginsels van Fengshui filosofie. Hiervoor word ‘n man met die naam Guo Pu vereer. Die argitektuur en ontwerp van die stad neem deurgaans die topografie en faktore soos berge, riviere en vlaktes in ag sodat die uitspansel, natuur en die menslike blyplek gebind word as ‘n geheel of kosmos. Dus, ‘n tipe holisme wat Guo “Qi” noem.

IMG_9472

Geen stedelike ontwikkeling word teen die hellings van die omringende berge toegelaat nie, riviere deurkruis die stad en word komplimenteer met talle bevaarbare kanale, daar is waterfront-ontwikkelings en dyke, die strate is wyd, en prominent-ontwerpte hoë geboue is so geplaas dat hulle as landmerke uit alle rigtings dien.

IMG_9502

Moet mens ‘n draai maak in Wenzhou? As jy klere, materiaal, skoene, brille, ligte elektriese ware, verpakkingsmateriaal of plastiek wil aankoop – ja. As jy die droom van Guo Pu wil beleef – ja. As jy vir Morgan wil ontmoet – ja. En as jy vir Yandang (en twee vlindertjies) wil sien – ja.

IMG_9468

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg